Milan se kinderboekreeks moedig jong lesers aan

Charmaine Nolte en Milan Murray van Murray & Me-uitgewers. (Foto: murrayandme.co.za)

Charmaine Nolte en Milan Murray van Murray & Me-uitgewers. (Foto: murrayandme.co.za)

Die gewilde Afrikaanse aktrise Milan Murray wat onlangs in die kykNET-dramareeks Waterfront te sien was, het in 2015 saam met Charmaine Nolte die kinderboekuitgewery Murray & Me op die been gebring en het reeds ʼn hele reeks kinderboeke uit hul eie pen gepubliseer en versprei.

Murray & Me se idioomboeke is ʼn prenteboekreeks wat deur idiome geïnspireer is. Alhoewel die boeke oorspronklik in Afrikaans geskryf is, word idiome gebruik wat ook in Engels bestaan en dus maklik vertaal kan word. Die illustrasies word deur Marisa du Toit gedoen.

Kop in die wolke in Kromkieriefontein, Pieter Kokkewieter en die hart op sy mou en Hetta Elizabetta en die wêreld op haar skouers is drie van die boeke wat reeds in dié idioomreeks verskyn het en is ideaal vir kinders tussen ses en nege jaar. Die boeke is ook in Engels en in Braille beskikbaar.

ʼn Boek wat handel oor asma, ʼn Trompet vir Thomas, is ook deur dié gedugte skrywerspan uitgegee. Die stories poog om kinders aan idiome bloot te stel deur hulle aan te moedig om gesprekke oor lewensvaardighede- en waardes te hê. Die karakters is jong kinders wat die wêreld om hulle beleef en bevraagteken en vind goed aanklank by jong lesers.

“Ons sien elke dag hoe idiome bykans uit ons kinders se woordeskatverdwyn,” sê Murray. “Dit was prof. Betsie van der Westhuizen van die Universiteit van Noordwes wat die belangrikheid van idiome in die oorbrugging tussen konkrete en abstrakte denke by kinders benadruk het, wat ʼn lig by ons laat opgaan het.”

Milan Murray is op vanjaar se Silwerskermfees met 'n toekenning vereer vir 'Kromkieriefontein'. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Milan Murray is op vanjaar se Silwerskermfees met ‘n toekenning vereer vir ‘Kromkieriefontein’. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Kop in die wolke in Kromkieriefontein is ook vir die grootskerm verwerk in die vorm van ʼn 11-minuut kortfliek, net getiteld Kromkieriefontein. Murray is in Augustus vanjaar tydens die Silwerskermfees op Kampsbaai met ʼn toekenning vir dié kortfliek vereer.

Die boekreeks is reeds deur verskeie vakadviseurs by skole aanvaar wat die waarde van idiome besef, en weet dat dit dikwels onderskat en uit leerprogramme gelaat word.

Murray & Me fokus op die skryf en publikasie van Suid-Afrikaanse prenteboeke van hoogstaande gehalte wat tale vier, ʼn liefde vir lees kweek en gesprekke tussen ouers en kinders oor lewensvaardighede- en waardes aanwakker.

Murray beskryf haar skryfstyl as woordryk en speels. “Ons het ʼn ryk taal en ek geniet dit om grondslagfaseleerders met nuwe, kleurryke woorde te verras,” sê sy.

“Ek beleef die magiese van stories opnuut deur my kinders, Steph en Lua. Ek gaan graag saam met hulle op reis deur die fantasiewêrelde van Rohald Dahl en Dr Suess. My wens is dat elke kind ʼn boek op sy bedkassie sal hê wat hy tot sy oudag toe sal onthou.”

Nolte is entrepreneur en medestigter van Murray & Me. Met meer as tien jaar ondervinding in aanlyn verkope, het haar visie om hoë gehalte kinderboeke te publiseer en te vervaardig gelei tot die geboorte van die Murray & Me-idioomboekreeks.

As ma van twee, Amélie en Sebastiaan, benadruk sy die waarde van literatuur en taal-ontwikkeling in jong kinders en poog sy om stories te skep wat beide vermaaklik en opvoedkundig is.

“My kinders raak elke aand met ʼn boek op die voorkop aan die slaap! Hulle verslind stories. Wat ʼn voorreg om sulke waardevolle produkte soos kinderboeke te kan ontwikkel en publiseer!”

Die boeke is by alle groot boekhandelaars beskikbaar, asook aanlyn op Murray & Me se webwerf en by Graffiti Boeke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.