Misdaadtreffer soos ‘vuishou in die maag’

deur Adéle Changuion

Martin het by Maroela Media kom kuier. Foto: Maroela Media/ Marius Vermaak

Martin Steyn het by Maroela Media kom kuier. Foto: Maroela Media/ Marius Vermaak

Die skrywer Martin Steyn is bekend vir sy misdaadfiksie, maar dié skrywer, met ʼn liefde vir Stephen King, het aanvanklik gruwelfiksie begin skryf.

“Toe ek reeksmoordenaars ontdek, was ek baie geïnteresseerd. Ek het begin oplees oor ware reeksmoordenaars en al meer weggeswaai van die bonatuurlike gruwelfiksie en uiteindelik by misdaadfiksie beland.”

Martin se vorige boeke, Donker Spoor en Skuldig, het albei ʼn ATKV-woordveertjie ontvang vir die spanningslektuur-genre, en het die leser die kans gegee om saam met die speurder die moord te probeer oplos. Sy jongste boek, Swartval, vertel dié keer ʼn storie uit die oogpunt van die slagoffer, wat die leser ʼn ander perspektief van die storie bied en die ervaring baie meer persoonlik maak.

“Een van die kwessies wat aangeraak word in die boek, is geweld teen vroue – spesifiek seksuele geweld. Dit is ʼn kwessie wat my na aan die hart lê.”

Dié skrywer sê hy weet nie hoekom hierdie saak vir hom so belangrik is nie, maar hy vermoed dit uit die hoeveelheid navorsing wat hy al gedoen het.

“Jy begin ook oor die slagoffers lees – en meestal is dit vroue. Ek het meer empatie ontwikkel met die vroue wat daardeur moes gaan. Ek loop ook al ʼn lang pad saam met Rape Crisis, ʼn organisasie wat hulp en leiding bied vir verkragtingslagoffers.”

Martin sê hoewel hy eerstens ʼn goeie storie wil skryf, is hy geneig om te skryf oor dinge wat hom raak en pla. Hy sê sy boek is dalk nie gebaseer op die werklikheid nie, maar dit is steeds ʼn manier om aandag te gee aan hierdie kwessie en mense ook in te lig.

“As man verstaan ek nie wat verkragting vir ʼn vrou beteken nie, maar ek probeer dit begryp deur boeke te lees oor vroue wat deur so ʼn ervaring is. Ek probeer op daai manier die inligting deur my boeke oordra, om mense bewus te maak van hierdie kwessie. Mense sê hierdie boek is soos ʼn vuishou in die maag. Ek dink dis goed, wat ons is half afgestomp oor verkragting omdat dit so gereeld gebeur.”

Martin sê Swartval is nie ʼn maklike boek om te lees nie, maar hy hoop dat mense iets uit die ervaring sal kry en dat dit hulle op ʼn manier sal raak.

Besoek Martin se webwerf hier of sy Facebook-blad vir meer besonderhede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

A3 ·

Ek was na SwartVal se lees effe gedisorienteerd. Dis ‘n boek wat hard slaan. En mens bang maak vir die versteurdes daarbuite wat so kan leef.

Mnr. Steyn het ‘n fan in my – al 3 sy boeke is nie net briljant nie, maar neem mens regtig saam, alhoewel die karakters vir my in sy eerste poging die beste beskryf is.

Ek wonder net altyd, iemand wat so verskiklik goed en oor sulke verskriklike goed skryf: wat is volgende. Gaan jy jouself kan oortref, want erg bereik vol betekenis in SwartVal.

Martin Steyn, ongetwyfeld ‘n skrywer wat die leser boei, aangryp, lok, skrik maak en bewus maak.

Gaan loer sy boeke se loktreffers op sy webwerf. Die ou is ernstig oor sy passie!!!

Uiltjie ·

Gepraat van boeke, x dringend op boek van Jan Spies se stories: SPIESERYE. Kan iemand help ASB? Ek het n paar maar gelede hierdie boek in medikliniek Bloemfontein gelees. Kyk, ek het my letterlik gesond gelag!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.