Mobiele biblioteek wil boeke na gemeenskap neem

ʼn Mobiele biblioteekdiens is onlangs deur die Midvaal-munisipaliteit bekendgestel. (Foto: Verskaf)

Boekwurms in die Midvaal-munisipaliteit wat tot dusver nie toegang tot biblioteekdienste gehad het nie, het nou ʼn goeie rede om breed te glimlag.

ʼn Mobiele biblioteekdiens is onlangs deur die munisipaliteit bekendgestel met die doel om geletterdheid te bevorder en inwoners se toegang tot ʼn biblioteek te verbeter.

Dié inisiatief is veral in die konteks van Wêreldboeke- en Kopieregdag, wat op 23 April gevier is, goeie nuus vir lesers én die boekbedryf.

“Met dié diens wil ons ʼn groter mark bedien deur ʼn mobiele biblioteek direk na gemeenskappe te neem wat nie sulke sentrums in hulle omgewing het nie,” sê Idah Satikhe, woordvoerder in die kantoor van die burgemeester van die munisipaliteit.

Inwoners van landelike gebiede, afgeleë gemeenskappe en onderbediende woonbuurte sal op hierdie manier makliker toegang tot biblioteekdienste verkry. Die mobiele biblioteek sal ook beskikbaar vir bejaardes in aftreeoorde wees.

Inwoners kan uitsien na ʼn versameling boeke, opvoedkundige hulpbronne, en internettoegang in die biblioteekbus.

Met behulp van tegnologie word die biblioteek se dienste uitgebrei om ook toegang tot e-boeke, opvoedkundige toepassings en multimedia-inhoud te verskaf. Die biblioteek sal deurlopend tussen die verskillende wyke in die munisipaliteit roteer.

ʼn Mobiele biblioteekdiens is onlangs deur die Midvaal-munisipaliteit bekendgestel. (Foto: Verskaf)

“Die inisiatief beoog om ʼn leeskultuur te kweek, digitale geletterdheid te bevorder en individue te bemagtig om opvoedkundige doelwitte na te streef.

“Lees is nie net ʼn tydverdryf nie, maar ook ʼn pad na groei en ontwikkeling. Ons hoop ons kan individue van alle ouderdomme bemagtig en help om hulle horisonne uit te brei en tot ʼn landswye ontwikkeling by te dra.”

Volgens Satikhe is dit vir die Midvaal-munisipaliteit belangrik om ʼn deernisvolle en mensgesentreerde instelling te wees. “Ons is toegewyd daaraan om al ons gemeenskappe met hulpbronne vir leer en ontwikkeling te bemagtig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ronél ·

Boeke vir voorlees, hoop ek. Meeste kinders kan nie lees nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.