‘My buurvrou se springbokboudjie’

Argieffoto (Foto: © Viewapart | Megapixl.com)

Hiermee die rubriek My buurvrou se springbokboudjie deur Hennie van Coller wat in ʼn Pampoen vir Kersfees gepubliseer is.

Dat die lewe aangaan, ondanks teenspoed, is dalk ’n cliché, maar ’n waarheid soos ’n koei.

My vriend J is ’n wewenaar. Sy huwelik was lank en vervullend en daar is geen siel wat met ’n vinger na hom kan wys nie.

In sy woonplek lyk dit asof sy vrou net weg is vir ’n kort besoek, want gehekelde lappies, kwiltwerk en foto’s staan die plek vol.

Maar in die afgelope tyd merk ek ’n verandering. Hy oefen weer in die gimnasium. Boonop onder die sorg van ’n meisie wat kurwes het waar die meeste vrouens nie eers plekke het nie. Onberoerd deur die vroulike skoonheid is hy bepaald ook nie, want die een dag toe ek moes saam, omdat ek glo besig is om my lewe om te sit, kon ek merk dat hy byna ’n nekspasma ontwikkel van al die rondkyk.

Op ferm aandrang van my beste het ek my derhalwe oor hom ontferm. Ek dag dat dit my taak was om hom aan ’n vrou te help, maar dié suggestie het my vrou verwerp met ’n kortaf lag. Dat ek nou kan dink dat sy ontrou sou pleeg teenoor haar ontslape boesemvriendin!

Vir origheid het sy in elk geval nie tyd nie; J moet ’n stokperdjie kry en dit is my taak om aan een te dink. Trouens, ek sou ook kon doen met een, want van al die gewerkery voor die rekenaar word ek knorrig en vet.

Terwyl ek my wonde lek, bedink ek moontlikhede en toe skiet iets my te binne. Buurvrou, wie se entrepreneuriese idees geen perke ken nie, het ’n nuwe perd opgesaal. Sy bied nou kookkursusse aan, vertel sy my een dag oor die heining. Met net vars bestanddele, egte botter, room en tuinkruie.

Empiriese ondersoek is belangrik in die wetenskap. Dus bekyk ek haar goed waar sy in haar sjoebroekie kort-kort buk om ’n blaartjie op te tel. Geen spoor te sien van die ryk bestanddele nie, merk ek.

Vrydagaand klok ek en J in vir ’n kosdemonstrasie, nét vir manne. Bietjie dikbek moet moeder dit maar aanvaar, want per slot van rekening was stokperdjies haar idee.

Buurvrou het vir die okkasie haar geklee in ’n parmantige mini en ’n geblomde voorskoot. Op die spyskaart is ’n ontbeende springbokboud. Dié word liefderyk ingesmeer met knoffel, spek, Fetakaas en roosmaryn en behoedsaam toegerol. Daarna klap buurvrou hom byna speels en vra: “Hoe vind julle my boudjie?”

Dis toe dat J sê dat hy nou so warm kry dat ons miskien maar huis toe moet gaan vir ’n lang, koue een.

***

ʼn Pampoen vir Kersfees is ’n versameling van die rubrieke wat Hennie van Coller die afgelope 20 jaar vir Volksblad skryf. Dit is in 2020 deur Naledi uitgegee.

Prys: R240-00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek nou by 
Naledi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

mynie ·

Lekker lag ek nou. As sy vrou dit moes hoor,,,,, dan sal sy baie gou van stokperdjies vergeet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.