‘My oorlog teen ADHD’

Hykie Berg (Foto: Hykie Berg/Facebook)

Hier volg ʼn uittreksel uit My stryd met ADHD – Die onsigbare oorlog deur Hykie Berg.

Verslawing is ’n lewensbedreigende siekte, ’n siekte wat nooit ten volle genees kan word nie. Dit kan egter aangepak, hanteer, ten diepste blootgelê en doeltreffend beveg word. Dis nie die alkohol wat die probleem is nie, maar alkoholisme, die “isme” – die siekte wat met alle mag getakel moet word.

Vandag kan ek sê dat ek uit aktiewe verslawing losgebreek het. Dit was beslis nie ’n maklike pad om te stap nie. Die moeilikste ding wat ek nog ooit in my lewe moes doen, was om van heroïen skoon te kom. Dit was ’n geveg wat ek moes aanhou veg. Elke keer dat ek geval en ’n insinking beleef het, moes ek maar weer opstaan en van voor af begin. My proses van genesing is iets waaraan ek elke dag aandag moet gee en dit bly die belangrikste aspek van my lewe.

Die obsessie om dwelms te gebruik verlaat ’n mens wel indien jy doen wat jy moet om skoon te bly. Ek vind ek kan dit alleen doen deur aandag te gee aan my geestesgesondheid en die manier waarop ek my lewe leef. Vandag het ek ’n lewe, ware lewe. My lewe het ’n doel, ’n rede en ’n rigting.

Maar voordat ek ’n dwelmverslaafde geword het en met al my geestesversteurings gediagnoseer is, was ek ook maar net ’n kind – een wat dit nodig gehad het om te weet dat ander mense my ondanks my onstabiliteit, impulsiwiteit, gedragsprobleme, soeke na aandag en rebelsheid steeds sou liefhê en aanvaar soos ek is.

Tog, as daar in daardie jare meer inligting beskikbaar was oor ADHD en hoe om dit te hanteer, het ek dalk nie in soveel gemors in my lewe beland nie. Dalk sou daar ’n oplossing gewees het. Dalk sou my lewe anders uitgedraai het en dalk sou ek nie soveel pyn en frustrasie vir ander mense veroorsaak het nie.

Soos baie ander kinders het ek gevoel ek pas net nie in nie. Ek was anders. Ek was die malletjie in die gesin. Die kind wat net nie wou luister nie. Deurmekaar en ’n emosionele wipplank.

Ek was impulsief en onoplettend – ADHD, soos ons dit vandag ken, uitgeknip!

Ek het grootgeword in Lynnwood, Pretoria, in ’n ouerhuis wat geen tekort aan geld en luukshede gehad het nie. My ma en pa was werklik uitsonderlike mense.

My ma was ’n ruk lank ’n onderwyseres, maar weens ’n hele klomp rugoperasies kon sy nie meer vir lang ure op haar voete staan nie. Die pyn was net te ondraaglik. Sy was ’n streng ma, maar sy was altyd regverdig, opreg en liefdevol. Sy wou altyd die beste vir haar kinders hê, vandag nog. En ten spyte van al die probleme wat ek haar gegee het, het sy nooit opgehou om vir my te bid nie. Dis hoekom ek is waar ek vandag is – my ma se gebede.

My pa is ’n senior advokaat. Hy is ’n briljante man met ’n klein hartjie. Hy het finansieel alles in sy vermoë gedoen om vir ons net die beste te gee. Hy het ’n klomp geld aan ons skole en naskoolse opleiding bestee om seker te maak dat ons elkeen ’n sukses van ons lewe sou kon maak. Hy het altyd in ons geglo. Sy lewe getuig van die onvoorwaardelike opofferings wat hy vir sy kinders gemaak het, selfs ten koste van homself.

Albei my ouers is gelowige mense en ons kinders is in ’n godsdienstige omgewing grootgemaak. Ons het baie kennis oor die Bybel opgedoen en ons het van God geleer, maar ons opvoeding in die geloof was nie Geesgedrewe nie. Dit was asof ons al die brandhout gegee is, maar nooit die vuurhoutjie nie. Eers later in my lewe sou ek Geesvervuld raak en die nuwe verbond van Christus oor my lewe verstaan.

Ek was 11 jaar oud toe my ma en pa geskei het. Ons kinders het saam met my ma in ’n meenthuis gaan bly wat my pa vir haar gekoop het. My ma moes in daardie stadium as “enkelouer” die rol van pa en ma vervul. Sy was baie rigied en wou ons van jongs af leer wat dit beteken om verantwoordelik op te tree. Sy het gedoen wat sy geglo het reg was en het nog altyd by haar waardes bly staan. Ons het baie gehad om voor dankbaar te wees.

Dit was beslis nie ’n maklike taak om drie kinders so te sê alleen groot te maak nie. Die egskeiding was traumaties vir ons almal en boonop was ek geensins ’n maklike kind nie. Ek het alles wat in daardie tyd die norm of status quo was, uitgedaag.

Elke reël of grens wat vir my gestel is, het ek opsetlik oortree.

***

My tienerjare is grotendeels deur my destruktiewe gedrag verwoes. Die gejaag na opwinding en ’n goedkoop thrill het gou verander in herhaaldelike dwelmmisbruik, partytjies en rebelse gedrag.

Dwelmverslawing of enige ander vorm van verslawing is wel net die simptoom van veel groter probleme wat grootliks spruit uit ’n soeke na menswaardigheid op ’n doellose lewenspad.

Ek sal nooit vergeet hoe die dwelms my laat voel het nie. Dit het die oorlog in my kop vir ’n rukkie tot stilstand gebring.

Min het ek besef dat dit waarna ek eintlik op soek was en smag nie in partytjies, drank of dwelms gevind sou kon word nie, maar net in iets wat geestelik van aard was. Eers baie jare daarna, nadat ek my heroïenverslawing oorwin het, het ek besef wat die gat in my siel werklik kan vul. Vir die eerste keer het ek vryheid ervaar. ’n Vryheid wat later jare slegs in my nugterheid my hart kon laat berus en my gees kon laat bedaar.

Ek het van jongs af die lewe gehaat. Ek was siek en sat vir almal en alles om my – vir myself ook. Ek het myself en die mense om my geïrriteer. Ek was ongemaklik in my eie vel.

Ek het gerebelleer en met alles geëksperimenteer. Dit was my manier om te probeer ontsnap.

Ek was altyd anders – die anti-establishment soort ou. My hele lewe lank is daar vir my gesê: “Hykie, jy is ’n stoute kind; jy is mal en weird.”

***

Die uittreksel is goedgunstig deur Lux Verbi, ʼn druknaam van NB-Uitgewers, verskaf.

  • Luister hier na ʼn onderhoud met Hykie Berg oor sy jongste boek, My stryd met ADHD – Die onsigbare oorlog. Hy het met Maroela Media gesels oor sy stryd met aandaggebrek-hiperaktiwiteitsindroom (AGHS), oftewel ADHD, en hoe hy dié struikelblok oorwin het. Hy deel ook raad aan Christene oor hoe om geliefdes met geestessiektes te ondersteun.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Mary Charlotte ·

Dankie dat jy hierdie boek geskrywe het, almal moet dit lees. Ek is as ouer ook daardeur, maar was geseënd om dit te kon erken, en iets daaromtrent kon doen. Ek is baie trots op jou, jy is ‘n voorbeeld vir vele daar buite, dat daar wel lig is aan die einde van ‘n “annerste” tonnel, sterkte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.