‘n Baie verliefde klein krokodilletjie

Daniela Kulot

Krokodil loop al dae lank rusteloos rond. Soms kry hy te koud, soms kry hy te warm, soms is hy bitter hartseer, soms is hy so gelukkig dat hy die hele wêreld wil omhels.

Dit is duidelik: Krokodil is verlief.

Maar, soos dit gewoonlik maar gaan as iemand verlief is, is daar ’n klein probleempie…

Die storie is humoristies en propvol avontuur – pragtig geïllustreer en perfek vir selflees en voorlees.

Oor die outeur:
Daniela Kulot is in 1966 in Beiere gebore en stel al sedert kindsbeen belang in die skep van kinderboekillustrasies. Haar boeke geniet sedert die 1990’s groot aanhang en is al meer as 30 keer vertaal. Haar deurbraak het in 1996 gekom met Naseböhren ist schön (Neuskrap is lekker, Protea Boekhuis 2011), wat sedertdien in verskeie tale verskyn het. Die onderwerp het groot opspraak by verskeie uitgewers gewek, maar dit het mettertyd duidelik geword dat dit sekere taboes uit die weg geruim het. Maar Daniela is nie altyd omstrede nie. Die meeste van haar kinderboeke handel oor die dag-tot-dag-probleme wat kinders (en volwassenes) ervaar. ’n Voorbeeld hiervan is die skreeusnaakse ’n Baie verliefde klein krokodilletjie, waar ’n krokodil smoorverlief is op ’n kameelperd en sy hom nie raaksien nie omdat sy so groot is.

Oor die vertaler:
Dr. Nicol Stassen is die besturende direkteur van Protea Boekhuis. Hy het ’n BA-graad in tale, ’n meestersgraad in chemiese ingenieurswese en ’n doktorsgraad in geskiedenis. Hy is ’n navorsingsgenoot by die Universiteit van Pretoria. Hy het reeds verskeie kinderboeke uit o.a. Deens, Duits, Engels en Nederlands in Afrikaans vertaal. Verder is hy die outeur van boeke soos Afrikaners in Angola 1928-1975 (2010) en William Chapman – Reminiscences (2011).

Uitgewer: Protea Boekhuis
Prys: R100-00*
* Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.