’n Fantasieryke reeks oor drake

Hierdie wonderlike avontuur- en fantasieryke reeks deur Andy Shepherd sal menige kinderhart opgewonde laat klop en hulle heerlik laat skaterlag. Protea Boekhuis publiseer die volgende drie titels in Afrikaans, naamlik Die seun wat drake kweek, Die seun wat saam met drake lewe en Die seun wat saam met drake vlieg.

Die bekroonde vertaler Kobus Geldenhuys het vir die vertaling gesorg, en die bekroonde illustreerder Sara Ogilvie was verantwoordelik vir die humoristiese en gedetailleerde illustrasies. Al drie die boeke word in die eerstepersoonverteller geskryf. Kinders leer dat indien hulle troeteldiereienaars wil wees, hulle sekere verantwoordelikhede en verpligtinge moet nakom.

Die seun wat drake kweek

In die eerste boek in die trilogie kom Tomas op ’n draakvrugboom in hulle oorgroeide tuin af. Hy neem een van die draakvrugte na sy kamer toe, en daar broei sowaar ’n babadraak uit. Nou ja, dit is een ding om die ongelooflikste, verstommendste, asemrowendste troeteldier van alle tye te hê, maar dis nie ’n grap om ’n drakie te versorg nie. Tomas moet byvoorbeeld voortdurend bolpatrollie hou en van die draakpoef ontslae raak. Intussen het daar nóg drakies uitgebroei en hulle verwoes die knorrige buurman se groentetuin. En dié dink Tomas is die skuldige! Boonop wil Ted, Kat en Kai, Tomas se vriende, ook elkeen hulle eie drake hê.

Uittreksel: Maar as jy drake wil kweek, moet jy weet waarvoor jy jou inlaat. Hulle is beslis vurig, fantasties en verblindend blink, maar drake is nie net pret en plesier nie. Glad nie, hoor. En ek praat nie net van draakvlamme en draakbolle wat aan die brand slaan nie. O nee! Daarom, my vriend wat so desperaat graag ’n draak wil hê, skryf ek dit alles neer sodat jy ten minste met oop oë in die ding ingaan. Want glo my, jy sal hulle wawyd, wawyd oop moet hou (10).

Die seun wat saam met drake lewe

Tomas en sy vriende leer in die tweede boek dit verg harde werk om drake uit die moeilikheid te hou. Drake se niese en poepe is vurig en kan tot groot moleste lei. Die kinders sal vir hulle ietwat ongewone troeteldiere basiese dinge moet leer en ook reëls neerlê, maar dit is natuurlik makliker gesê as gedaan. Dit lyk ook of die draakvrugteboom, wat net een maal per jaar blom, weer wil blomme maak. Die blomme word weer draakvrugte waaruit babadrakies gebore word. Maar dan begin die boom onverwags verlep. Hoe gaan hulle dit red? En hoekom is daar ander goed wat so vinnig groei?

Uittreksel: Wanneer die vuurspoegery behoorlik op dreef kom en jy elke vyf sekondes geskroei word, is dit soos om ’n baie onvoorspelbare vulkaan in jou broeksak rond te dra. Dan begin voel dit alles effens minder fantasties. Dis net iets wat draakbewonderaars in gedagte moet hou. So kry oondhandskoene, wees bereid om jou broeke wat vol gate is weg te steek, en bo alles, luister mooi. Want ek gaan jou wys hoe dit regtig is om saam met drake te lewe (9).

Die seun wat saam met drake vlieg

In die derde boek in die trilogie dring Tomas se oupa daarop aan dat die kinders hulle drake vrylaat, want hulle kan verwoesting saai soos hulle groter word. Tomas weet sy oupa is reg, maar ai, hoe kan hy vir Flikker, sy beste maat, totsiens sê? Maar dan kom hy af op ’n kaart en ’n houer vol foto’s wat aan die vrou behoort het wat voorheen in sy oupa-hulle se huis gebly het. Elvi Jónsdóttir het beslis alles van drake af geweet. Sy het ook die Verborge Draakstad besoek. Boonop vind Tomas uit dat die skoolboelie, Liam, se gesteelde draak ’n baie skaars draak is – ’n draak wat baie, baie gevaarlik kan word.

Uittreksel: So hou aan lees, want jy het nog nie die hele storie gehoor nie. En wanneer jy het, sal jy dalk nie meer heeltemal so gretig wees om self ’n draak te kweek nie. Dit gaan nie oor al die gemors, die vlamme, die kloumerke, die smeulende vonke nie. Selfs ook nie oor die draakbolvuurwerke nie. Dit gaan oor iets baie meer rampspoedigs. Eendag sal jy dalk jou draak moet vrylaat – en dit, my vriend, sal die heel moeilikste van alles wees (8).

Al drie hierdie wonderlike titels (geskik vir kinders 8 tot 12 jaar oud) is beskikbaar by goeie boekwinkels.

  • Bestel Die seun wat drake kweek hier.
  • Bestel Die seun wat saam met drake lewe hier.
  • Bestel Die seun wat saam met drake vlieg hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.