ʼn Kop vol stories

jacowebsite

Jaco Jacobs.

Wat as my ouma besluit om ’n rockster te word? Wat as ’n baba met superkragte soos Superman gebore word? Skrywer Jaco Jacobs was vroeg al verslaaf aan die gevoel om karakters te skep en lewe aan hulle te gee. Melanie Tait het in hierdie Karookind se wonderwêreld gaan delf.

Wou jy nog altyd skryf?

Nee, ek wou kleintyd ’n krokodiltemmer in die sirkus word. Of ’n wildbewaarder, as die krokodil-ding nie uitwerk nie. Maar my ouers vertel ek het kleintyd reeds stories opgemaak om my ouers, neefs en niggies mee te vermaak. Ek was ’n regte boekekind, versot op die biblioteek en alewig met my neus in ’n boek. Vroeg in my hoërskooljare het ek reeds geweet ek wil graag skryf, maar die idee het my nogal bang gemaak – dis immers nie ’n “regte” werk soos om ’n prokureur of ’n dokter (of ’n krokodiltemmer) te word nie, het ek gereken. Ek was vroeg al verslaaf aan daardie gevoel wanneer jy karakters skep en hulle lewe laat kry, en wanneer ’n storie met jou verbeelding begin weghardloop. Dis amper so opwindend soos om krokodille te tem.

Vanwaar al die lekker storie-idees?

Storie-idees kan soms op die vreemdste maniere en op die mees onverwagse plekke opduik. Die geheim is maar net om jou oë en ore oop te hou, en die storiepotensiaal van alledaagse dinge raak te sien. Wat as my ouma besluit om ’n rockster te word? Wat as twee kinders besluit om in ’n boom te klim en daar te bly? Wat as ’n baba met superkragte soos Superman gebore word?

Waarom skryf jy soms onder skuilname?

Vroeg in my skryfloopbaan het my uitgewer my gevra om ’n liefdesverhaal te skryf wat primêr op tienermeisies gemik is. Die boek, getiteld Liefde laat jou Rice Krispies anders proe, was byna by die drukker, toe my uitgewer my vra of ek dit nie wil oorweeg om dit eerder onder ’n skuilnaam te publiseer nie. Sy het my vertel navorsing oorsee het gewys meisies hou nie daarvan as iets soos ’n liefdesverhaal, wat (ongelukkig heel stereotiep) as ’n “meisierige” boek beskou word, ’n manskrywer se naam op die voorblad het nie. En dit is hoe ek Tania Brink geword het. My uitgewer het ’n goeie punt gehad. Dit gebeur gereeld dat ek jong lesers ontmoet wat duidelik effens teleurgesteld is as hulle hoor Tania Brink is eintlik ’n man. Mans is nie veronderstel om veel van die liefde te weet nie! Ek skryf ook die Stalmaats-boeke onder die naam Lize Roux.

Die pad na ’n leser se hart …

… loop deur sy lagspiere, glo ek. Dit is vir my baie moeilik om nie van ’n boek te hou wat my laat lag nie. Voeg daarby oortuigende, eerlike karakters en ’n sterk, boeiende storielyn, en jy het die resep vir leesgenot.

Enige skryfrituele?

Nie regtig nie. Ek verkies dit om vroeg in die oggend te skryf, wanneer my brein nog lekker vars is. En ek hou nie daarvan om op enige ander plek as in my eie kantoor by my eie lessenaar op my eie rekenaar te skryf nie. Ek is jaloers op skrywers wat in koffiewinkels en op lughawens kan skryf. Ek het my gemaklike, bekende ruimte nodig om behoorlik te kan konsentreer.

Jou beste skoolherinnering

Een van my gunsteling-herinneringe uit my skooldae is die toneelstuk Gekkesprokie wat ons in matriek opgevoer het. Die kerngedagte was eenvoudig: Sê nou die bekende sprokiesprinsesse word jare later bedorwe, lui koninginne nadat hulle met Prince Charming getrou het? Ek het die teks geskryf en in die stuk gespeel ook, en ons het aan ’n paar toneelfeeste daarmee deelgeneem. Dit was verskriklike groot pret – en dit het baie gehelp om my vertroue in my skryftalent ’n hupstoot te gee.

Jou gunsteling-skryfruimte in die land

My grootworddorp, Carnarvon, in die Karoo bly my gunstelingplek op aarde. My pa-hulle woon steeds daar. Elke keer as ek weer op die plaas kom, voel dit asof my kreatiewe batterye op ’n manier herlaai word.

Vyf dinge wat jy by jong lesers geleer het

* Moenie kinders onderskat nie.
* Kinders lees om dieselfde redes as wat die meeste grootmense lees – om vermaak te word en omdat hulle op soek is na ’n boeiende storie en interessante karakters wil ontmoet.
* Kinders se leessmaak verskil – nes grootmense s’n. En dis oukei.
* Moenie kinders verveel nie. Hulle gaan jou nie maklik vergewe nie.
* As jou kind nie van boeke hou nie, het hy dalk nog nie met die regte boek kennis gemaak nie.

My heel eerste boek …

… was ’n grilstorie getiteld Pretpark wat ek aan die einde van matriek geskryf het. Dit het eers ’n paar jaar later verskyn. Dit speel af op ’n kleinerige dorpie, amper soos die een waar ek grootgeword het. Vreemde dinge begin met die dorp se kinders gebeur nadat ’n rondreisende pretpark daar besoek aflê …

oor-n-motorfiets-n-zombiefliek-en-lang-getalle-wat-deur-elf-gedeel-kan-wordWat is in jou jaar se kristalbal?

My enigste nuwejaarsvoorneme was om vanjaar ’n marathon te voltooi. Dit het ek pas gedoen – en ek loop nog effe strammerig om dit te bewys. So, nou wag ek maar om te sien watter verrassings die res van die jaar oplewer! Wat my skryfwerk betref, werk ek tans aan twee nuwe boeke in die Stalmaats-reeks. Later vanjaar verskyn daar nuwe boeke in my Zackie Mostert-reeks, asook ’n prenteboek, ’n boek met grillerige stories … en ’n storie oor ’n hamster wat mense kan hipnotiseer.

Vyf boeke op jou boekrak wat jy oor en oor kan lees

* Triomf – Marlene van Niekerk
* Disgrace – J.M. Coetzee
* On Writing – Stephen King
* Extremely Loud and Incredibly Close – Jonathan Safran Foer
* Duiwel-in-die-Bos – Chris Barnard

* Die rolprent Nul is nie niks nie word in Julie vrygestel. Jaco se boek, Oor ’n motorfiets, ’n zombiefliek en lang getalle wat deur elf gedeel kan word is waarop die rolprent gegrond is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.