ʼn Liefde vir lees

vintage-1794705_1280Lees is veel meer as net die herkenning van woorde. Dit is ʼn holistiese proses wat die kind in totaliteit betrek. Woorde is boustene en ter ondersteuning van Wêreldvoorleesdag op 16 Februarie gaan 14 kinderboekskrywers van NB-Uitgewers plaaslike skole besoek en vir leerders lees.

Buiten die opwinding om ’n skrywer te ontmoet en aan ’n nuwe boek bekendgestel te word, ontvang elke skool ook ’n boekgeskenkpak vir hulle biblioteek. Volgens die skrywer en onderwyseres Carin Krahtz is dit goed om hardop vir kinders voor te lees tot diep in die hoërskool. “Hoe langer mens vir hulle voorlees, hoe meer ywerig raak hulle om self te lees en met hoe meer selfvertroue en begrip doen hulle dit”. Carin het in 2016 die MER-prys vir haar jeugboek Elton amper-famous April en jufffrou Brom ontvang.

Om geletterdheid te bevorder en ’n liefde vir lees by kinders te kweek het NB-Uitgewers belê in ’n reeks keurig ontwerpte boekrakke wat in geselekteerde boekwinkels geplaas gaan word. Kinder- en jeugboeke van Tafelberg en Human & Rousseau sal op die boekrak geplaas word en promosie-items soos plakkate van bekende kinderboekkarakters sal verder help om sigbaarheid van plaaslike boeke te bevorder.

“Mense voel dikwels oorweldig deur die groot verskeidenheid in boekwinkels of weet nie vir watter boeke of skrywers hulle moet uitkyk nie. Ons wil ’n prominente ruimte skep vir Afrikaanse en Engelse boeke deur ons plaaslike skrywers en illustreerders,” sê uitgewer Michelle Cooper. “Soos Dr Seuss sê: Hoe meer jy lees, hoe meer sal jy weet. Hoe meer jy leer, hoe meer plekke jy sal besoek!”

Lees ook hier wat sê Susan du Plessis van Edublox oor die belangrikheid van lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.