‘n Nuwe dag

Dorothy Fourie

’n Debuut-liefdesroman van een van die drie finaliste in die Rooi Rose/LAPA- liefdesverhaalwedstryd in 2008. “Die manuskrip is poëties geskryf en die skrywer se beelding is werklik uitsonderlik.” – Chanette Paul oor ’n Nuwe dag.

Die hoofkarakter, Lena Riley, is ’n kunstenaar wat bekendheid verwerf het met haar besonderse portretstudies van vroue. Benewens haar skilderwerk bedryf sy ook ’n suksesvolle sakeonderneming op die internet. Sy woon en werk in haar studio in ’n bekende kunstenaarsgemeenskap in Johannesburg waar niemand wonder waarom sy nog alleen is nie, want op die oog af het sy ’n ideale lewe.

Maar haar wêreld word skielik omgekeer en sy kom weer te staan voor die demone uit haar verlede. Sy woon ’n kunsuitstalling op ’n Vrystaatse dorpie by wat die waterverfwerke van ’n omstrede Italiaanse skilder uitstal en ontmoet die eienaar van die kunswerke, Lukas Homeyr. Daar is onmiddellik ’n magnetiese aantrekkingskrag tussen die twee – hoewel hulle ’n vreemde kombinasie is. Sy, ’n boheemse skilder, en hy, ’n boer met sy voete plat op die aarde.

Dit is vir albei moeilik om die passie tussen hulle te erken omdat elkeen swaar dra aan pynlike ervarings wat die lewe hulle toegedien het. Haar verlede en die donker geheim wat sy met haar saamdra, is al so lank deel van haar dat sy nie weet hoe om dit af te skud nie.

Lena word uiteindelik gedwing om haarself te vergewe – sodat sy die liefde wat sy raakgeloop het haar eie kan maak. Sy besef ’n mens kan net vreugde ervaar as jy self al stukkend was.

Oor die outeur
Dorothy Fourie skryf stories en gedigte vandat sy kan onthou. Nadat sy die ATKV-Skryfskool aan die Noordwes-Universiteit bygewoon het, publiseer sy ’n paar kortverhale in Afrikaanse tydskrifte.

Sy is tans ’n onderwyseres by ’n Montessori-skool op Knysna en woon op ’n plaas in die omgewing. Dorothy sien haar belewenisse in die werklike lewe as slypskool vir haar skryfwerk. Sy skryf graag om mense daaraan te herinner hoe kosbaar en uniek hulle is ongeag wat voorheen in hul lewe gebeur het, en dat daar altyd hoop is – en liefde.

Uitgewer: Lapa
Prys: R165,00*
* Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.