’n Reeks wat kinders van emosies leer

Die Op die plaas-emosiereeks deur Theresa van Baalen word uitgegee deur LAPA Uitgewers. Die reeks word aanbeveel vir kinders vanaf vyf jaar en ouer.

Dit is in vandag se tyd belangriker as ooit dat kinders meer oor hulle emosies leer en toegerus word in hoe om dit te hanteer sodat hulle meer selfbewus en medelydend sal wees. Selfs klein kinders kan aan stresverwante komplikasies ly wanneer hulle hul emosies onderdruk of misken. Hulle moet dus van jongs af gehelp word om op konstruktiewe wyses uiting te gee aan hoe hulle voel.

Dankie tog vir ’n skrywer soos Theresa van Baalen en ’n illustreerder soos Megan Bird wat saamgespan het om die wonderlike Op die plaas-emosiereeks te skep. Die vier titels is: Karamel se bene bewe, Smiley verloor sy glimlag, Flori tel tot by tien en Tjoppie se hart is seer. Hierin leer kinders lees-lees op ’n prettige manier van emosies, want die stories is kleurvol en opwindend. Hulle ontmoet karakters soos Karamel die koei, Smiley die donkie, Tjoppie die vark en Florie die hoender. Hierdie diere raak ook bly en kwaad en hartseer en bang, nes klein mensies wat groot emosies ervaar wat hulle bang en onseker laat.

Ouers word herinner dat geen twee situasies of emosionele ervarings dieselfde is nie, maar dat stories dinge in perspektief plaas en as goeie aanknopingspunt kan dien om met hul kind te gesels oor gevoelens. Die teks op die boeke se agterblad lui: “Op die plaas-emosiereeks bied ’n goeie wegspringplek vir ouers wat hulle kinders wil help om hulle emosies beter te verstaan en te hanteer. Hulpbronne sluit ’n emosiewiel in, met die nodige woordeskat om die komplekse wêreld van emosies beter te navigeer.” Elke boek het ook ’n QR-kode wat geskandeer kan word sodat die kind na pragtige voorlesings van die boek deur die bekende Ruda Landman kan luister. Daar is ook wenke rondom gesprekspunte tussen ouere en kinders.

Klik hier om die reeks te koop.

Karamel se bene bewe

 

Karamel is ’n koei wat bang is vir donderweer en in die skuur wegkruip. Sy voel egter bietjie beter toe die ander diere erken dat die geraas hulle ook bang maak. Sy waag dit buitentoe, maar o wee, toe begin dit weer reën. Hoe gaan sy die bang hanteer? Klik hier om die boek te koop.

Smiley verloor sy glimlag

Smiley is ’n donkie wat vandag glad nie vrolik voel nie. Sy maats help hom om na sy glimlag te soek, maar toe hulle dit nie opspoor nie, gaan speel almal eerder waatlemoensokker. Smiley speel lekker saam, maar sal hy op die ou einde sy glimlag vind? Klik hier om die boek te koop.

Flori tel tot by tien

Flori is ’n hoender wat so kwaad is dat sy oor en oor tot by tien moet tel. Haar maats wil haar laat beter voel en tel saam met haar sover as wat hulle stap. Vir hoe lank gaan Flori nog so kwaad bly? Klik hier om die boek te koop.

Tjoppie se hart is seer

Tjoppie is ’n vark wat baie hartseer is omdat die ander varke lelik was met hom. Sy maats wil hom help om beter te voel, maar sal hulle wen as hulle teen vier groot varke moet toutrek? En sal Tjoppie dan nie meer hartseer wees nie? Klik hier om die boek te koop.

Meer oor die skrywer

Theresa van Baalen se eerste twee prenteboekpublikasies, Aspriskrokkedis en Karla Krullebol het albei ATKV-kinderboektoekennings verower. Aspriskrokkedis het ook die Tienie Hollowaymedalje vir Kleuterliteratuur in 2012 ontvang. Theresa is ook die skrywer van die gewilde Sanri Steyn-reeks.

Meer oor die illustreerder

Megan Bird is ’n Suid-Afrikaanse illustreerder wat in Pretoria woon. In samewerking met TBWA Durban en die aangepaste ateljee in Space Ace het sy die Assagi-leiersprys ontvang. Sy is passievol oor illustrasie en ontwerp en spesialiseer in natuur- en opvoedkundige illustrasies. Die wetenskapwêreld inspireer haar.

Die Op die plaas-emosiereeks is by toonaangewende boekwinkels asook aanlyn beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.