’n Sonneblom vir elke dag

’n Sonneblom vir elke dag deur Susan Coetzer word uitgegee deur Lux Verbi.

Die bekende en geliefde Susan Coetzer pryk treffend in ’n rooi geblomde rok op die voorblad, stralend soos ’n sonneblom. Sy het ’n gesonde blos op haar wange en haar glimlag is wyd en oop. Dit is reeds die bruisende energie en lewenslus wat uit haar straal wat my die boek tussen ’n hoop ander laat optel en lees het. En ek was bly ek het.

Die teks op die agterblad van ’n Sonneblom vir elke dag lui: “Die wêreld het meer sonneblommense nodig – mense wat hulle koppe na die Son toe draai – eerder as giftige ivies, stinkafrikaners, stekelrige kaktusse, knieserige rosies of klaende hangkopwilgers. Met hierdie 260 dagstukkies nooi die geliefde skrywer en motiversingspreker Susan Coetzer jou op haar kenmerkende opregte en humoristiese manier uit na ’n avontuur – al agter die Son aan.”

Susan skryf in die inleiding dat die vordering op haar reis na heelword en geestelike en emosionele volwassenheid aanvanklik baie stadig was. Sy het stapels geestelik inspirerende boeke gelees, maar min van die wyse raad gevolg. Vir haar het ware transformasie eers begin toe sy haar deel begin doen en verantwoordelikheid aanvaar het om haar negatiewe gedagtes daagliks bewustelik by God se alomteenwoordige Son te vernuwe.

Haar nuwe gedagtes het haar gehelp om nuwe aksies en nuwe reaksies op ou situasies in te oefen en vas te lê. Sy reken dat om ou, negatiewe en ingewortelde gewoontes en gedagtes af te leer baie herhaling en volharding verg en dat dit doelbewuste keuses vereis. “Daar is nie ’n towerstaffie of ’n kitsmetode om op ons geestelike reis te vorder nie. Ons moet nuwe gedagtes, nuwe reaksies en nuwe ingesteldhede noukeurig bestudeer, dit herroep, daaroor slapp en dit inoefen. Ons moet dit ook gereeld toets. Só sal ons kan vasstel of ons al ons nuwe woorde en rolomskrywings in die praktyk, met al sy uitdagings, kan uitleef.”

Wat hierdie dagstukkieboek uniek maak, is dat Susan ná elke vyfde oordenking die leser daaraan herinner om stil te raak. Dit gee jou die geleentheid om nabetragting te doen, want, skryf sy, “sonder genoeg tyd vir nadenke … sal ons net stoomlees – sonder om die ware werk in te sit en nuwe gewoontes en ingesteldhede aan te leer. Wanneer jy tyd vir nadenke en dieptestudie ’n vaste instelling maak, sal jou innerlike skakelaar op ’n dag aanklink en jou gees verlig. En jy sal ware vernuwing in jou lewe beleef” (9).

Elke oordenking begin met ’n teksvers en eindig met ’n gebed. Die daaglikse boodskappe beslaan elk een bladsy, maar dis kragtig, interessant, leersaam en inspirerend. In dagstuk 1 getiteld “Jy is na God se beeld geskep”, nooi Susan die leser om ál meer geskaaf te word om God se beeld, sy karakter en sy aard, uit te straal. “Kom ons maak dit ons doel om elke dag ’n rapsie meer na Jesus se voorbeeld van Christenskap en menswees te lyk.”

Meer oor die skrywer: Susan Coetzer is bekend as aktrise, motiveringspreker en skrywer. Daar het al meer as 30 000 eksemplare van haar roman, Oros vir die siel, verkoop. Sy woon in Johannesburg en het ’n seun en kleinseun.

Ek het heerlik aan ’n Sonneblom vir elke dag gelees en beveel dit heelhartig aan. Skaf gerus jou kopie hier aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.