ʼn Speursersant, ʼn super-romanza en die wonderwêreld van diere

Vermis – Jeanette Stals

Vermis is die tweede boek in ’n reeks oor Luna, ’n jong speursersant van Stellenbosch. In hierdie verhaal word sy betrek by die ondersoek na ’n tienermeisie, Elodie, wat spoorloos uit ’n plaaslike gastehuis verdwyn het.

Die meisie se ouers het as jong getroudes na Engeland geëmigreer en nou is die pa weer hier vir werk. Die ma en dogter het met vakansie saamgekom en Elodie kry ook geleentheid om spesiale vioollesse by die universiteit by te woon.

Luna se bekommernis oor wat met die meisie gebeur het, laat haar dieper betrokke raak by die gesin en noop haar eindelik om meer te waag as wat haar bevelvoerders van haar sou verwag. Sy volg ’n suspisieuse motor, word oorrompel en self ontvoer. In die bak van die motor vind sy die meisie, maar nou is albei gevangenes van ’n kartel wat handel dryf in jong vroue.

Luna moet elke greintjie inisiatief inspan en al haar kennis betreffende selfverdediging bymekaarskraap om van die ontvoerders af weg te kom en om vir Elodie uit die gemors te kry.

Skakerings van hoop – Madelie Human

Anina Roux vlug tydelik Fynbos toe om haar egskeiding en haar ouma se boedel af te handel. Noodgedwonge leer sy “ouvrougoed” soos hoe om wol te spin en te kleur en – hemele behoed haar – te hekel! Sy leer dat hoop in verskeie skakerings voorkom en dat haar aantreklike buurman haar knieë nog net so lam maak soos jare gelede.

Mark Burger kan nie meer professioneel gholf speel nie en sukkel om dit te aanvaar.

Nog minder stel hy belang in ’n verhouding met sy buurvrou, maar raak halsoorkop verlief op haar driejarige dogtertjie. Hy kry haar ma egter om die dood nie uit sy kop, of sy hart, geweer nie.

Die jongklomp gaan hulle verlekker in Jaco Jacobs en Fanie Viljoen se boek oor babadiere, terwyl die dogtertjies hulleself sal verloor in die geheime wêreld van Rosie Banks se prinsesse.

‘Hoezit 11: Die wonderwêreld van babadiere’ – Jaco Jacobs & Fanie Viljoen

Waarom bring ’n baba-kangaroe die eerste paar maande van sy lewe in sy ma se buidel deur?

Hoeveel melk kan ’n olifantkalfie in een dag drink? Hoe leer ’n baba-sjimpansee om al die dinge te doen wat sy ma en pa kan doen? Hoe oorleef ysbeerwelpies in die ysige Arktiese koue?

Hierdie boek is propvol prettige feite en aktiwiteite wat jou sal help om die wonderlike wêreld van babadiere te verken! Met 48 bladsye propvol prettige feite, volkleurfoto’s en hope aktiwiteite, speletjies en kopkrappers waarmee jy die wonderwêreld van babadiere kan verken, is hierdie boek gewaarborg om jong feitevrate se tone te laat omkrul van lekkerkry! Ontdek van die oulikste babadiere in die wêreld, en vind uit hoe hulle aangepas is om in die natuur te oorleef.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.