Na verre hawens

Hennie van Deventer se boek met die titel ‘Na verre hawens’. Foto: Verskaf.

Deur Herman Toerien

’n Klompie van ons is dié dag in 1981 in Hennie van Deventer se kantoor saamgetrek. Hennie is redakteur van die Volksblad en gaan ons toespreek oor ’n belangrike verandering aan die koerant – die wegdoen met die loodgietstelsel na litografie. In plaas van die ou bekende bloutjies (’n deurslag waarmee die wit papiertjies op ou tikmasjiene gemoker is) gaan rekenaars die ding doen.

Hennie agter ’n rekenaar? Moeilik om te glo. Hennie agter sy tikmasjien daar in sy kantoor, met sy vingers wat oor die toetse vlieg, was immers ’n baie bekende gesig. Só vinnig het sy vingers die toetse bygedam… ek is tot vandag nie seker of hy al tien vingers ingespan het nie en of hy, soos ek, die twee wysvingers die “praatwerk” laat doen het.

“Hier gaan ek my redakteurskap inspan om rang te trek,” vertel Hennie in ligte luim. “Ek gaan steeds my tikmasjien en die bloutjies gebruik. Iemand anders sal dit in die rekenaarstelsel moet intik.”

Ek is weg by die Volksblad nog voor die rekenaars gekom het en weet nie of Hennie inderdaad sy verhouding met die tikmasjien voortgesit het nie. Al wat ek weet, is dat die tikmasjien waarmee ek moes tik, skade opgedoen het toe dit van die ark afgelaai is. Elke keer wat ek hom reggemaak het, is hy “omgeruil” en is ek met ’n ander, stukkende masjien gelaat. Nie regtig ’n probleem nie – ek het dit gou opgefieks. Behalwe een. Hom moes jy heel links op die lessenaar sit, en dan loop hy self oor die lessenaar tot mens hom moet vang voor hy regs afval. Ek was nog besig om die probleem uit te pluis, toe is die gort gaar. Die skuldige, wat sy krank tikkerasie met myne omgeruil het, was soek, al het ek nie gekla nie.

Die punt wat ek wil maak, is dat dit heel duidelik is dat Hennie, ten spyte van sy gehegtheid aan die tikmasjiene, tóg rekenaars onder die knie gekry het. Altesaam 16 boeke vertel die verhaal. En as ’n mens sy leesstof onder oë neem, was humor nooit ver weg nie.

Hennie se uitsonderlike geheue het ons jong klomp verstom, veral as ’n mens as groentjie ’n storie by ’n voorganger “erf.” Hy kon daardie kennisleemte in die skerpste besonderhede toelig – besonderhede wat dikwels ’n gans ander lig op die saak kon werp. En ja, dit was ’n openbaring hoe dikwels mense hulself as toegerus beskou om ’n redakteur te gaan dreig. En, soos ’n afgetrede regter wat soms self die paadjie geloop het, het by geleentheid vir my gesê ’n mens dreig nie iemand wat sy ink by die konka koop nie. (In alle billikheid, dié regter het na ’n latere redakteur verwys). Iemand wat met ’n dreigement wegval eerder as om mooi te kom praat, kon maar verwag dat die beriggewing nie baie sagkens sou wees nie.

Verskeie bekende oud-Volksblad-mense het ná hul aftrede ’n behoorlike nuwe lewensteug geneem en ’n tweede lewe aangepak.

Die bekende Herman le Roux het sy liefde vir sportverslaggewing behou, maar sit duidelik nie stil nie soos hy en sy uitgebreide familie vakansie hou of kuier, en nog graag tennis speel ook. Piet Theron het die nuus gehaal soos hy sy gestremde seun in sy handewerk ondersteun het, maar diep by munisipale sake betrokke geraak het en ook op ’n wykskomitee dien. Sarel Venter self skryf oor gemeenskapsake en geniet dit om by familie te kuier.

Maar dis asof Hennie net nóg meer uit sy goue jare kan haal.

Dat Hennie so ’n besondere humorsin het, het ek kort voor ek weg is, eers ontdek. Dit was ná die redaksielid wat vir die rubriek, “Korrelkop”, verantwoordelik was, ’n ander pos opgeneem het. “Korrelkop” is destyds ingestel om met ’n kritiese oog na die nuwigheid, die TV, te kyk. Die SAUK TV was nuut en taamlik baie flaters is begaan. En flaters het skreeusnaaks onder die vingers van “Korrelkop” geword. Ek was binne hoorafstand toe ek hoor hoe iemand vir Korrelkop vra wie nou “Korrelkop” gaan wees.

“Die baas gaan dit blykbaar self doen?” antwoord Korrelkop.

“Wat? Hennie?” reageer die verslaggewer verbaas. “Jong, Hennie het ’n skerp humorsin.”

En so was dit.

En dis asof humor ’n belangrike anker van nie net Hennie se skryfwerk geword het nie, maar van sy lewe. Boek ná boek – van sy alledaagse lewe by die huis oorkant die baai van Tafelberg, tot sy winteruitspanplek (en ander tye van die jaar ook) naby die Krugerwildtuin. Sy kleinkinders is hul oupa se oogappels en trots, ook op die sportveld. Selfs die kerk word nie van “blootstelling” gespaar nie.

Van Deventer se boek word binnekort bekendgestel. Foto: Verskaf.

Dat die tyd aanstap, kan kwalik uit die goue letters agtergekom word, behalwe wanneer die Byl in die woud kap. Groot gees ná groot gees word weggeneem, maar Hennie word gespaar om vir die volk steeds kuberpennevrug te verskaf – ligjare (of dit voel dit moet tegnologies so wees) verwyder van daai tikmasjien in die hoek van die redakteurskantoor waar bloutjie op bloutjie uitgespoeg is.

So tussenin is verskeie skeepsreise aangepak. En skeepsreise, so saam met gesinslede of vriende, lewer baie onderwerpe vir verhale wat in vingertaal opgediep kon word. En as daar nie genoeg vriende aan boord was nie… geen probleem nie. Vriende word gou-gou gemaak en word deel van opgetekende aan boord-avontuur op avontuur.

Met Na verre hawens kan die leser deel word van die opgetekende verhale van ’n meesterverteller wat besonder bedrewe is om soos ’n goeie verslaggewer te kan waarneem, en dan met goue letters met die vingers te kan praat.

Na verre hawens word op Donderdag 9 April 2020 om 12:00 heel gepas tydens die Oppiwaterfees bekend gestel. Die fees is van 5 April tot 10 April aan boord van die MSC Orchestra en vaar uit Kaapstad na Walvisbaai en Lüderitz.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.