Nadia Beukes vertel openhartig van hartseer én vreugde

Nadia Beukes PVH 1

Foto: Hanri Human

Sy hou nie terug nie. Nié vir die lewe nie en ook nie met die stories in haar splinternuwe boek, Paaie van hoop, nie.

Nadia Beukes, die bekende aktrise wat tans te sien is as die sielkundige Iva in die kykNET-sepie Getroud met rugby, het nou ook vir die eerste keer ʼn boek uitgebring. “Dis nie ʼn biografie nie,” verduidelik sy, “dis eerder ʼn inspirasieverhaal.”

Die boek handel oor Nadia se lewe, van haar kleindogtertjiedrome om eendag Mej. Suid-Afrika te wees, regdeur tot by haar loopbaanhoogtepunte, ʼn liefdesteleurstelling in die vorm van ʼn egskeiding, haar verhouding met haar ouers en haar nuwe man, David de Villiers.

“Ja,” erken sy prontuit, “in alle eerlikheid is dit vir my ʼn bietjie moeilik om te dink dat ek myself so blootstel aan die wêreld daar buite, maar ek weet ek het deur hierdie goed gegaan en ek het ʼn beter en sterker mens aan die anderkant uitgekom.” Sy glimlag. “Dit was David wat vir my gesê het dat om die boek te kan skryf nie net ʼn geleentheid is nie, maar eerder amper ʼn tipe van verantwoordelikheid is wat die Here oor my pad gebring het om die lesse wat Hy vir my geleer het met ander mense te deel, en hulle daardeur te inspireer.

“Ek dink as mense my, ná hulle die boek gelees het, oor die verlede gaan oordeel of my daaroor op my baadjie gaan takseer, kan ek dit nie op myself neem nie. Daar is ʼn gesegde wat lui dat jy nie jou verlede is nie, maar eerder jou geleenthede. Dit is iets waaraan ek vasklou. Ek droom groot. Ek dink ek is iemand wat vooruitstrewend en dinamies is, al was daar al baie moeilike tye in my lewe en dit is waarmee ek wil hê mense moet kan identifiseer. As mense hierdie boek lees, wens ek dat hulle werklik sal besef daar is ʼn lig aan die einde van die tonnel is en dat geluk iets is waarna almal mag strewe,” sê sy vurig.

Nadia Beukes en David de Villiers troufoto

Nadia en David op hul troudag op 10 September 2016. Foto: Nadia Beukes/Instagram

Nadia vertel sy het grappenderwys een aand by die boekbekendstelling van Christine en Johan Ferreira se dagstukkieboek vir die uitgewers gesê sy het so baie stories, sy moet dalk ook ʼn boek skryf. “Christine en Johan het die boekie geskryf uit scenario’s van hul eie lewe en hoe dit hulle as man en vrou en gesin beïnvloed,” gesels sy. “Die uitgewers het omtrent ʼn maand na die bekendstelling, en my grappie, vir my ʼn e-pos gestuur en gevra of ek ernstig was oor die stories en my reaksie was eers onsekerheid.” Nadia sê sy was huiwerig oor die skryfproses, en ook skugter omdat sy geen skryf-ervaring het buiten tekste en kommunikasie nie. “Die uitgewers het toe vir my ʼn skrywer, Jana van der Merwe, geallokeer, waarmee ek saamgewerk het.

“Die wonderlike ding van Jana, ʼn joernalis en skrywer in eie reg, is dat sy regtig ʼn vertrouensverhouding met my geskep het en my baie veilig laat voel het binne die ruimte van die blaaie van hierdie boek,” sê Nadia. “Partykeer het ek gedeeltes van die tydlyn uitgelos, soos byvoorbeeld ʼn jaar in my lewe waaroor ek net nie met haar gepraat het nie, want dit was te moeilik en ek het lankal van die gebeurtenisse aanbeweeg. Dit was ʼn tyd waaraan ek nie noodwendig wou vashou of wat ek wou oopkrap nie. Maar toe ek met Jana daaroor begin gesels het, het ek besef: Net soveel soos ʼn mens dink jy moet die dinge waarvandaan jy aanbeweeg het agter jou los, kan jy nog steeds die lesse onthou en jy kan daardeur leer en groei en dit vorm jou as mens; wie en wat jy vandag is.”

Nadia Beukes PVH 3 bekendstelling

Nadia tydens die bekendstelling van die boek by die Atterbury-teater. Foto: Facebook

God se genade is iets wat Nadia deurlopend in haar lewe ervaar. “Ek het ʼn ongelooflike ondersteuningsnetwerk. As dit van my afgehang het, het ek lankal tou opgegooi of het dinge dalk in die verkeerde rigting gegaan, maar daar was mense wat my ononderbroke aan die gang gehou het, en ek dink dít is God se genade. Dit is waar geloof ʼn groot rol speel in my lewe, want dit is wat my deurgetrek het. Dit is daai ietsie binne-in jou hart wat jou net nie toelaat om op te gee nie. Dis daai ietsie wat sê hou net nog ʼn bietjie aan, hou net nog ʼn bietjie uit. Die Here sal nie iets oor jou pad bring wat jy nie kan oorkom nie,” sê sy.

Sy sê sy het beslis verander. “Ek sou graag wou dink ek is nou ʼn beter weergawe van myself as tien jaar gelede. Tien jaar terug was ek swart-en-wit, en ek was ʼn boksie-mens. Die lewe het my intussen geleer dat ons nie almal in dieselfde boksies pas nie, en hoe meer ons onsself in daardie boksie in wil laat pas, hoe meer ongemaklik is dit. As jy begin om jouself te leer ken en te leer liefkry, is jy skielik nie meer swart-en-wit nie, dan raak jy so effens grys. As jy dapper genoeg is om jouself ʼn kans te gee, dan sal die lewe jou verras.”

Dit was tydens die verfilming van die kykNET-realiteitsreeks Boer soek ʼn vrou, waarvan Nadia die aanbieder was, wat sy na die deelnemers gekyk en hul dapperheid bewonder het. “Hulle wil almal liefde hê, en hulle wil almal hul lewe met iemand deel, en hulle vat ʼn kans om daai droom te bereik. En toe dink ek, hier sit ek, en ek wil dieselfde goed hê, maar ek vat nie ʼn kans nie. Ek kruip miskien weg agter ʼn kamera of agter ʼn karakter op televisie, en ek is nie besig om my lewe voluit te leef nie.”

Nadia was die aanbieder van kykNET se realiteitsreeks Boer soek ‘n vrou. Foto: Facebook

Vir haar lewe vorentoe het sy natuurlik groot planne. “Ek dink nie daar is ʼn reguit pad wat nou vir my voorlê nie en ek is seker daar gaan nog baie uitdagings wees. Ek dink die lesse wat ek geleer het help my om dit makliker aan te durf, maar dit is nie te sê dit gaan eenvoudig wees nie. Al wat ek weet is wat ek tot nou geleer het. Dit is wat ek deel in my boek,” sê sy beslis.

Sy hoop om eendag ʼn ma te wees. “Ek hoop om eendag daai avontuur aan te pak as dit is wat die Here wil hê. Ek sal graag wil hê dat ek en my man fisiek daar kan wees vir ons gesin en dat ons miskien meer gereeld saam om ‘n tafel kan sit en aandete eet en gesels. Ons leef in so ‘n digitale era en ek dink ons moet ‘n punt daarvan maak om régtig by mekaar uit te kom. Familietyd is ‘n voorreg, en dis ‘n voorreg wat ek nie altyd gehad het toe ek klein was nie.”

Sy beduie geesdriftig wanneer sy oor haar verhouding met haar pa, die bekende operasanger Rouel Beukes, praat. “Dis ʼn interessante ding as mense sê ‘afwesige ouer’. My pa was nie afwesig nie, hy was net nie altyd fisiek daar nie. Hy moes baie kere ver weg van die huis af werk, maar hy was altyd net ʼn oproep weg. Hy was altyd daar om ondersteuning te bied en hy en my ma is tot vandag toe nog getroud,” glimlag sy.

David de Villiers en Nadia Beukes (Foto: Maroela Media/Kobus Bezuidenhout)

Oor haar geliefdes se bydrae in die boek is sy baie opgewonde. “Toe ek deur die boek begin lees, het die storie vir my baie eensydig gevoel. Alhoewel dit my storie is, het ek gevoel daar is ander mense wat ook hierby betrokke is. Daar is altyd drie kante aan ‘n storie. My kant, jou kant en die waarheid. Ek het vir hulle gevra of hulle elkeen in ‘n brief kan reageer op die betrokke hoofstuk wat ek oor hulle geskryf het,” vertel sy. Haar eks-man, Xander, haar ma en haar nuwe man, David, het onder andere bygedra tot die boek. “Ek is bly daaroor,” sê sy, “want dit het die stories ‘n ander perspektief gegee. Dit was in ‘n mate vir my genesend om die briewe te lees.”

En wat wil sy hê moet lesers uiteindelik uit dié inspirasieverhaal neem? “Om dit in een woord op te som: hoop,” sê sy sag. “Ek hoop mense kry net ‘n bietjie hoop.”

Uitgewer: NB Uitgewers
Prys: R170*
*Prys onderhewig aan verandering

Nadia Beukes voorblad

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.