Namakwastories: ‘Toe uit ons waar ons uit’

Argieffoto (Foto: Steve Buissinne/Pixabay)

Lank voor televisie, toe koerante oud was en die platteland nog net kortgolfradio gehad het wat kraak, kwetter en suis, was nuus meestal op hoorsê aangewys en die stories van baasvertellers só met karakters vervleg: Vertel jy van die een, dan dwaal jy op die ander.

In Vertel da’ vir my ʼn storie van Namakwaland vertel Jan C van Wyk oorgeërfde Namakwastories oor gebeure en mense wat hy voorheen ontmoet of sy pad gekruis het met ʼn goeie dosis spekskiet daarby.

“Enige storie wat uit die loop van die bymekaar kom, spontaan vertel word, lê my na aan die hart,” sê Jan. “Nou dat ek mooi hieroor dink blyk dit dat stories soos “Oom Korte en die Bobbejaan” en “Oom Vlerkie se stories”, die stories wat aan my vertel is en wat regtig met die verteller gebeur het, my gunstelinge is.

“En natuurlik enige storie wat my pa vertel het: Hy kon jou laat lag met sy dramatisering van ʼn storie dat jy die volgende dag nie kan hoes nie so seer is jou maag.”

Jan sê die belangrike rol wat stories in ʼn bepaalde gemeenskap of bevolkingsgroep speel moet nie onderskat word nie. Dit laat mense tuis voel, veral wanneer die leser iets herken van hulself of van iemand wat hulle ken. Stories oor jou mense, leefwêreld, gebruike, manier van praat, die gebruik van uitdrukkings en terminologie, hoe jy lag, huil en treur het ʼn eiesoortigheid wat jou laat identifiseer.

“Jy sal ʼn Namakwalander uit Namakwaland kan kry (geografies), maar jy sal nooit Namakwaland uit daardie persoon kan kry nie,” meen Jan.

Die kortverhaal “Toe uit ons waar ons uit” verskyn in Vertel da’ vir my ʼn storie van Namakwaland. Dit is deur Jan Coetzee van Wyk geskryf en word deur Johny Klein voorgelees.

Oor die verteller
Klein is ʼn gewilde verhoog- en radio-akteur in die Afrikaanse vermaakbedryf. Hy is veral bekend vir sy voorlesing van Ferdinand Deist se Sandveldstories op RSG en sy rol as Ricky October in die radiovervolgverhaal Plattelanders. Klein was ook in 2019 die aanbieder van Maroela Media se Aardklop-produksie, Kontreistories.

  • Lees meer oor Vertel da’ vir my ʼn storie van Namakwaland hier op Maroela Media.
  • Luister hierbo na “Toe uit ons waar ons uit” uit die bundel Vertel da’ vir my ʼn storie van Namakwaland. Dit word voorgelees deur Johnny Klein.

Uitgewer: Malan Media
Prys: R240,00*

*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.