Namakwastories: ‘Wagter gaan universiteit toe’

Argieffoto (Foto: Drew Hays/Unsplash)

Jan Coetzee van Wyk

“Wagter gaan universiteit toe” is ʼn tong in die kies verhaal oor Oom Isak wat besluit om van sy vierpotige vriend ʼn pratende hond te maak. Wagter word ten duurste saam met sy seun Klein Isak universiteit toe gestuur om dié vaardigheid aan te leer. Vir Oom Isak is dit dalk meer tot sy eie voordeel om van Wagter ʼn beter vriend te probeer maak, terwyl Klein Isak ook sy eie skelmstreke vir eie gewin inspan.

Die skrywer Jan van Wyk sê die volgende oor sy kortverhaal “Wagter gaan universiteit toe”:

“As jy oor ʼn storie gaan nadink of verby die snaakse oomblikke kyk, sal jy die suggestie raaklees. Nie almal nie, maar ʼn redelike groot aantal stories in Vertel da’ vir my ʼn storie van Namakwaland lewer sosiale kommentaar.

“Lesers moet egter nie meer in ‘Wagter gaan universiteit toe’ probeer lees as wat daar is nie. Dit is eintlik net ʼn lekker liegstorie, maar dit behoort mense te laat dink.”

Oor die boek

In ʼn afgeleë dorpie aan die voet van die Kamiesberg, doer in Namakwa­land, weet almal min of meer van almal. Plaasmense en dorpenaars is gereeld met mekaar in aanraking en saans op die stoepe word daar lang stories vertel.

Vertel da’ vir my ʼn storie van Namakwaland is ʼn kortverhaalbundel oor veldmense soos oom Addie-kraai se verblyf by sy ondankbare kinders; Wagter, wat mos universiteit toe is; Gert‑waarheid en dié se nuwerwetse siekte; oom Korte en die bobbejaan; Anna-twaalftoon; Rooi Gys Aggenbach; Siena-swaaihaak en tant Huibrecht-Gert. Dit vertel die verhale van goeie, gelowige mense. Sout van die aarde.

Oor die skrywer

Jan Coetzee van Wyk is ʼn Namakwalander in murg en been. Hy het matriek op Springbok behaal en regsgrade aan die Universiteit Stellenbosch en die Vrystaat behaal. Van Wyk het daarna as prokureur gepraktiseer en in 1996 die praktyk vir die akademie verruil. Hy het in 2018 bedank uit sy pos as uitvoerende direkteur van regsdienste aan Unisa en in dieselfde jaar die African Leadership Award in Higher Education in Mauritius ontvang. Van Wyk doen tans navorsing en konsultasiewerk, lees aartsnuuskierig “enigiets van die Geelbladsye tot die Bybel” en hy skryf.

Oor die verteller

Johny Klein is ʼn gewilde verhoog-en-radio-akteur in die Afrikaanse vermaakbedryf. Hy is veral bekend vir sy voorlesing van Ferdinand Deist se Sandveldstories op RSG en sy rol as Ricky October in die radiovervolgverhaal Plattelanders. Klein was ook in 2019 die aanbieder van Maroela Media se Aardklop-produksie, Kontreistories.

  • Luister hierbo na “Wagter gaan universiteit toe” uit die bundel Vertel da’ vir my ʼn storie van Namakwaland. Dit word voorgelees deur Johnny Klein.

Uitgewer: Malan Media
Prys: R240,00*

*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.