NB-Uitgewers verkoop oorsese regte vir The President’s Keepers

Omslag van The President’s Keepers (NB Uitgewers)

The President’s Keepers, Jacques Pauw se opspraakwekkende boek oor oudpresident Zuma, was die absolute topverkoper in Suid-Afrika in 2017 – sedert die einde van Oktober 2017 is bykans 200 000 eksemplare verkoop, die meeste daarvan in die eerste twee maande na publikasie. Die boek, wat onder die Tafelberg-druknaam by NB-Uitgewers verskyn het, is nou ook op pad na internasionale boekrakke ná die verkoop van publikasieregte vir Europa en Noord-Amerika aan Verso Books van New York.

Dit is maar een van talle boeke waarvoor internasionale regte die afgelope paar maande namens skrywers deur NB-Uitgewers beklink is. Die uitgewery, wat in Kaapstad gebaseer is, gee fiksie, niefiksie, kinderboeke, Christelike literatuur, opvoedkundige boeke en woordeboeke uit onder drukname soos Tafelberg, Human & Rousseau, Kwela, Queillerie en Lux Verbi, en beywer hom vir die bevordering van Suid-Afrikaanse letterkunde, plaaslik sowel as in die buiteland.

Opsies op die film- en TV-regte vir The President’s Keepers is ook in Januarie vanjaar deur Palama Produksies van Niel van Deventer opgeraap. Van Deventer, wat vir die bekroonde film Dis ek, Anna verantwoordelik was, beplan om die boek in ’n TV-dramareeks te omskep. Daar is ook ’n opsieooreenkoms vir die filmregte van Gerda Taljaard se roman Kelder (ook Tafelberg) met West Five Films gesluit.

Intussen is Die De Zalze-moorde, Julian Jansen se boek oor die bylmoorde op die Van Breda-gesin van Stellenbosch, moontlik op pad na die grootskerm nadat internasionale filmregte aan ’n rolprentvervaardiger in Hollywood, Comflix Studios, verkoop is. Jansen is ook die rol van uitvoerende vervaardiger aangebied. Dié boek het verlede jaar by Tafelberg verskyn. Nog ’n Tafelberg-titel, Eugene de Kock: Sluipmoordenaar vir die staat deur Anemari Jansen, word moontlik binnekort deur ’n Amerikaanse vervaardiger in ’n TV-reeks omskep. Die regte is onlangs bekom deur Bradley Glenn, ’n bekroonde vervaardiger uit Los Angeles wat ook al vir Emmy-toekennings genomineer is.

Die-de-zalze-moordeSewe Afrikaanse titels tel onder die boeke waarvoor vertaalregte onlangs deur NB-Uitgewers in die buiteland verkoop is.

’n Franse vertaling van Kamphoer, Francois Smith se bekroonde debuutroman, is onderweg en sal eersdaags by Actes Sud in Frankryk verskyn. Dié topverkoperroman, gegrond op die ware verhaal van ’n jong vrou wat tydens die Anglo-Boereoorlog verkrag en vir dood agtergelaat is, is plaaslik ook in Engels vertaal as The Camp Whore. Dit is ook reeds in Nederland uitgegee as Het schuldig leven.

“Ek is my uitgewery, Tafelberg, oneindig dank verskuldig vir sy onverdrote ywer om vertalings te finansier en vertaalregte te bemark, aangesien elke vertaling die boek ’n nuwe lewe en my wankelende skrywersego ’n enorme hupstoot gee,” sê Smith.

Nederlandse vertaalregte is verkoop vir Lien Botha se bekroonde distopiese debuutroman Wonderboom (Queillerie), wat by Zirimiri Press die lig sal sien, asook twee Lux Verbi-publikasies: Maretha Maartens se Bybelroman Hanna, wat deur Royal Jongbloed uitgegee sal word, en Dagstukkies vir besige vroue, saamgestel deur Christelle Webb-Joubert, wat by Gideon Books sal verskyn.

“Daar is na raming ongeveer 24 miljoen Nederlandse moedertaalsprekers en ’n verdere vyf miljoen wat dit as tweede taal handhaaf. Oë toe, verbeel ek my dus die toekomstige leser, iewers in Willemstad, Curaçao … 10 518 kilometer van waar Magriet Vos se verhaal afspeel. Ek voel so opgetogen soos ’n trompetboom in Amsterdam!” sê Lien Botha oor die vooruitsig van Wonderboom in Nederlands.

Nog drie Nederlandse vertalings is met die ondersteuning van die PEN Afrikaans-vertaalfonds moontlik gemaak. Alles begin met Anna deur Annemari Coetser (Human & Rousseau) sal by Mozaïek Uitgeverij verskyn, en twee bekroonde klassieke werke, Abjater wat so lag deur Wilma Stockenström (Human & Rousseau) en Fees van die ongenooides deur PG du Plessis (Tafelberg), by Aldo Manuzio.

“Dat Alles begin met Anna in Nederlands vertaal gaan word, was vir my ’n groot verrassing en eer. Ek is baie dankbaar vir die geleentheid om my leserspubliek uit te brei en opgewonde oor die vooruitsig om die karakters te hoor Nederlands praat. Dis die eerste keer dat ’n roman van my vertaal word, en nou gebeur dit nogal in die taal van my man se land van herkoms,” sê Annemari Coetser.

Ander Engelse niefiksietitels naas The President’s Keepers is ook onderweg oorsee. Making Africa Work deur Greg Mills, Jeffrey Herbst, Olusegun Obasanjo en Dickie Davis (Tafelberg) word deur Tessa Publishing in Duits uitgegee. Voorheen is publikasieregte vir Wes-Afrika, Noord-Amerika, Europa en die Verenigde Koninkryk asook Arabiese vertaalregte verkoop. The Truth About Relationships deur Stefan Blom (Human & Rousseau) sal in Roemeens by Niculescu in Boekarest verskyn, en Marianne Thamm se outobiografiese vertelling, Hitler, Verwoerd, Mandela and Me (Tafelberg), in Duits by Tessa Publishing.

Spaanse vertaalregte vir K Sello Duiker se seminale 2001-roman The Quiet Violence of Dreams (heruitgegee deur Kwela) is deur Baile de Sol bekom, en Duitse regte vir Qarnita Loxton se roman Being Kari (Kwela), oor ’n vrou wat ná haar man se ontrouheid teruggaan na haar vervreemde Moslem-familie, is aan btb Verlag verkoop.

Aan die kinderkant word Timbertwig’s New Adventures deur Peet Ellison (Human & Rousseau) deur Azbooka-Atticus, een van die grootste uitgewersgroepe in Rusland, uitgegee. Azbooka-Atticus het ook reeds drie Liewe Heksie-leesboeke in Russies vertaal.

“Internasionale blootstelling vir ons skrywers bevorder die statuur van die Suid-Afrikaanse letterkunde en ons is trots op die bydrae wat ons in dié verband lewer in die hoogs mededingende wêreldmark,” sê Marga Stoffer, uitgewersbestuurder by NB-Uitgewers. “Dit is ’n veer in die hoed van plaaslike skrywers dat soveel van hul werke op internasionale rakke pryk langs die wêreld se grootste skrywers.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Tess ·

Kookwater! Voorwaar goeie nuus en iets waarop ons baie trots kan wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.