‘Net ek’ – ʼn digbundel net vir jou

“Dit is meer as woorde, dit kom vanuit ’n plek van verstaan. Dit neem jou op ’n pelgrimstog van herontdekking; van wie jy is. Om jou gebrokenheid te leer ken, maar ook jou suksesse te waardeer. Jouself nie te sien as die held of die slagoffer nie, maar as medepligtige, hoe belangrik dit is om verantwoordelikheid te neem vir jou aandeel, jou feilbaarheid.”

Dit is hoe Hannes Noëth, uitvoerende hoof van Helpende Hand, Alta Strauss se jongste digbundel, Net ek, beskryf.

(Foto: Alta Straus)

“Dit is my binnekant, my dink, my voel, my menswees, my vrouwees. Dit is my vlug van seer, my stilte, my liefde, my verlang. Daar is net iets magies en fassinerend aan woorde. Ek is lief vir mense, en ek is lief vir woorde, gedigte bring hierdie twee liefdes bymekaar,” vertel Strauss aan Maroela Media.

Sy sê dat hoewel sy al voorheen die voorreg gehad het om medeskrywer van inspirasieboeke, in samewerking met Finesse en Carpe Diem Media te wees. Was dit egter eers in verlede jaar Augustus toe van haar eie gedigte in die digbundel Steeds vrou saam met dié van mededigter René Roux gepubliseer is.

Strauss voer aan dat dit vreesaanjaend is om jou diepste gevoelens so op die markplein uit te stal en te wonder hoe dit ontvang gaan word. Sy vertel dat sy ʼn paar keer wou kop uittrek.

“Dit stel jou ongelooflik bloot, maar vandag is ek bly dat ek die kans gewaag het. Ek sien hoe dit lewens verander, hoe dit genesing bring en hoop gee. Dit maak dit die moeite werd en bring aan my vervulling en vrede. Ek vind sinvolheid daarin.”

Haar digbundel dra ’n sterk boodskap van hoop in ’n gebroke wêreld oor. Dit is eg, dit is eerlik en onopgesmuk.

“Ek skryf al vandat ek kan onthou. Ek dink baie maal ek is ’n kompulsiewe skrywer. Om te skryf help my om my gedagtes te orden en my gevoelens te artikuleer op ’n sinvolle wyse. Ek vind om te skryf terapeuties. Woorde is persoonlik en intens. Woorde betower en rig op. Dit vat jou op avonture, skep wêrelde, neem jou in besit. Woorde is ’n ewigdurende ewolusie sonder perke, en strek oor tyd en grense heen. Ek dink dat ons beslis ’n herlewing moet kry in digkuns, dit speel ʼn uiters belangrike rol in ons kultuur en geskiedenis. Dit is ’n ryk nalatenskap aan die generasies wat kom.”

Strauss sê dat dit egter nie ʼn eenvoudige taak is om jou eie werk te beoordeel nie.

“Dit hang natuurlik af wat jy as maatstaf gebruik om die sukses van die bundel te meet” sê sy.

“Ek het ’n onblusbare liefde vir mense, ’n begeerte wat vurig in my brand om mense beter te laat, of met meer hoop te laat, as wat ek hulle gekry het. Ek het deernis en empatie vir mense se unieke menswees en daarom is ek so lief vir wat ek doen as motiveringspreker en -skrywer.

“As jy dus vra of ek dink die bundel gaan suksesvol wees, is my antwoord ongetwyfeld, ja!”

Sy vertel dat dit jare se digwerk is. Woorde wat vasgevang was in ou laaie, aktetasse, klein dagboekies, stukkies papier en gedigte wat op die rekenaar gestoor is.

“Dit was nooit bedoel om die binnekamer van my hart te verlaat nie, en dit is juis wat dit so opreg maak.”

(‘Net ek’ digbundel bladuitleg deur Gazelle Wilson)

“Die titel Net ek sê ‘Dit is ek… net ek…’ en so wil ek ander bemoedig om hulself onvoorwaardelik te aanvaar en lief te hê. Ek wil hulle aanmoedig om net te wees en te bly groei, en te sê, ‘Dit is jy… net jy…’ en jy is verruklik, selfs in jou gebroke en kwesbare oomblikke. Jy is sterker as wat jy dink. Jy is meer as ’n oorwinnaar in en deur Christus,” sê Strauss.

Die digbundel vertel  ʼn verhaal van haar eie feilbaarheid en worstelinge met hoekoms en waaroms, haar verlies, hartsbegeertes, hunkerings en drome.

Die digbundel bestaan uit sewe hoofstukke of temas:

  1. “Hunker” wat praat oor die hunkering wat ons soms ervaar, wanneer ons intens na iets of iemand verlang.
  2. “Kokon” handel oor intimiteit.
  3. “Ontvlugting” gaan oor die vlug weg van die seer af.
  4. “Ruimte” handel oor plekke wat na is aan Strauss se hart.
  5. “Tyd” handel oor oomblikke, om dit te koester, en teenwoordig te wees in elke oomblik.
  6. “Ambivalensie” gaan oor die kompleksiteit van die mens se psige.
  7. “Donker” handel oor die stryd met angs, depressie en verlies.

“Soms voel dit of ons wil opgee, soms verloor ons die visie om verlos te word van ons seer, soms verander die seer iets binne-in ons, wat dit vir ons moeilik maak om van onsself te hou, maar in dit alles is die Here daar, het Hy ons steeds lief, het Hy steeds ’n plan en ’n doel, ’n sprokiesmooi toekoms vir ons, ons moet net weer waag om te glo, om te hoop en om lief te hê.”

Maroela Media het vir Strauss gevra om een van haar gedigte, wat in haar nuwe bundel gepubliseer is, voor te lees.

Sy vertel dat “Ek mis jou”, ’n gedig is wat oor ewige liefde handel, ware liefde, laaste liefde.

“Ek het dit geskryf vir die liefde van my lewe, my laaste liefde, met wie ek my lewe, vir altyd, gaan deel. Die man wat onlosmakend deel van my sal wees en bly. Onlosmakend verbind en een is met my.”

Ek mis jou

ek mis jou
tyd sal leer
die seer steeds seer
intense verlange
na jou arms
jou stem

 ek mis jou
miskien omdat ons siele
voor hierdie leeftyd
in ’n duisend ander
verstrengel
verbind
was
altyd verbind was
verbind
deur dieselfde redes
skei weer en weer
vind mekaar keer op keer
verbind

eintlik wil ek net sê
ek mis jou
alles van jou
elke dag

“Ek het hierdie bundel self uitgegee en dit was ’n wonderlike ervaring. Ek het soveel daaruit geleer en dit het ook die ruimte geskep vir die groep dinamiese mense wat daaraan gewerk het om hul kundigheid en talentvolheid tot volle reg te laat kom.”

“Dit is altyd gevaarlik om mense uit te sonder, maar ek is baie dankbaar vir Hannes Noëth, my mentor en ook die skrywer van die voorwoord. Gazelle Wilson, vir die pragtige bladuitleg, Franine Fourie, vir die puik taalversorging, Dawie Roodt en Arno Carstens vir hul kommentaar, my dogter vir die voorbladfoto en Memoriae Photography vir die agterbladfoto.”

“Dit was regtig ’n groot voorreg om saam met elkeen van hierdie besonderse individue te werk.”

Alta Strauss se digbundel is reeds beskikbaar en kan aanlyn bestel word deur ʼn e-pos na [email protected] te stuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.