Net ‘n lewe

Fransi Phillips

Net ’n lewe is die wenner van die LAPA-Romankompetisie 2010/2011.

Die hoofkarakter van Net ’n lewe laat ’n dagboek na waarin sy lakonies, sinies én snaaks probeer sin maak van haar lewe. Sy is tegelyk donker, grappig, robuust, boheems, hierdie sonderlinge girl van Pretoria wat nie ’n wag voor haar mond kan hou nie. Mettertyd word sy die stem van almal wat te midde van die heersende politieke woesteny hulle eie lewenstryd stry.

Aan die begin studeer sy menswetenskappe aan Tukkies, hou van Dail en De Sade – en lewe in ’n middelklas-seepbel. Maar sy word groot, en as sulks is Net ’n lewe ook ’n grootword-Bildungsroman.

Die leser kan nie anders nie as om met huid en haar op haar verlief te raak terwyl die hoofkarakter haar doodgewoon, maar tegelyk ernstig, alternatiewe en onkonvensionele lewensverhaal met siniese galgehumor, en matelose deernis, vertel.

Omdat Net ’n lewe in die sosio-politieke arena van die laaste vyftig jaar afspeel, is dit enersyds ’n politieke satire met sterk feministiese inslag, maar dit preek nooit. Hiervoor is die skrywer se stem te soepel en ervare. Die verhaal begin met ’n moord, maar is allermins ’n moordverhaal – en hierin is een van die etlike verrassings van die teks opgesluit.

“Ek het nog altyd skuldig gevoel wanneer ek skryf omdat dit vir my so lekker is,” sê Fransi Phillips oor haar twaalf publikasies tussen 1983 en 2007. Phillips het tot einde verlede jaar by die Tsjeggiese ambassade in Pretoria gewerk en dit was hier waar sy haar wenroman, Net ’n lewe geskryf het. Sy is op Lichtenburg gebore, het daar skoolgegaan en het nagraads in kunsgeskiedenis en die filosofie studeer. Sy is ’n kunsresensent vir verskeie publikasies en vertrek eersdaags Rusland toe as Engelsonderwyser.

Fransi Phillips se vorige publikasies sluit in:
Die horlosie se wysers val af (kortverhale), Kabelkarnimfe, 1983
77 stories oor ’n clown (kortverhale), HAUM-Literêr, 1985
Die wilde kind (novelle), HAUM-Literêr, 1987
Theresa se droom (novelle), Human & Rousseau, 1988
Herfsverhale (kortverhale), Queillerie, 1992
The snow angel (kinderboek), Hodder & Stouton, London, 1993
’n Baie lang brief aan Rolf (novelle), HAUM-Literêr, 1994
The soul of an antelope (novelle), Via Afrika, 1995
Nicholas se belofte (kinderboek), Perskor, 1996
The promise (kinderboek), Perskor, 1996
My lied van die niet (poësie), Protea, 2002
Die donker God (novelle), Umuzi, 2007

Uitgewer: Lapa
Prys: R170,00*
* Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.