‘Net voor die droogte my breek’: ʼn Stem vir boere wat oorleef in droogte

Anoeschka von Meck tussen die trokke voer wat deur Burre Burger se Droogtehulpfonds geskenk is (Foto: Anoeschka von Meck)

Ongeveer 12 300 km en drie maande se swoeg en sweet later het Anoeschka von Meck, skrywer van Net voor die droogte my breek, vroualleen haar besoek aan boere in drooggeteisterde streke van Suid-Afrika voltooi.

Sy het deur 16 verskillende reënvalstreke gereis en onder meer besoek afgelê in Namakwaland en Boesmanland, Mpumalanga, Limpopo, Oos-Kaap, Vrystaat, die Karoo, asook in Sandveld tot in die Knersvlakte en Roggeveld.

“Tydens my reis was ek soms te bang om geld by die kitsbank te trek,” onthou sy. “Ek was benoud oor my veiligheid en het soms oorweeg om die Afrikaanse woorde op my voertuig tydelik toe te plak.” Maar Von Meck se mannemoed om die ‘wilde weste’ enduit aan te durf, was nie tevergeefs nie.

Von Meck verduidelik dat Amanda Carstens van die Christelike Lektuurfonds (CLF) haar genader het om ʼn boek oor boere en die droogte te skryf en dat sy byna onmiddellik ingestem het, omdat sy self “ʼn hart vir boere het”.

Oom Piet Kotze van Jaagvlak, Moedverloor ry nog met sy donkiekar om te gaan watergate maak in die opgedroogte rivierbedding (Foto: Anoeschka von Meck)

Carstens se droom met dié boek is om vir boere ʼn stem te gee en om mense bewus te maak van die nood waarin boeregemeenskappe verkeer. Danksy hulp van Burre Burger en sy Droogtehulpfonds is ʼn borgvoertuig en ʼn lys van boere wat oor die hele Suid-Afrika verspreid is, verskaf.

“Voor my reis het ek gemeen ek ken die plaaslewe, ek weet hoe boere dink en wat dit is om in sekere omstandighede te oorleef,” vertel sy. Maar niks kon Von Meck voorberei vir dit wat op haar gewag het nie. “Ek het eers ná my reis besef dat ek nie voorheen werklik die totale trefslag van die droogte begryp het nie.”

“Een van die mees roerende tonele was ʼn jong boer wat in sy bakkie binne-in sy skuur gesit en wegkruip het,” vertel Von Meck. “Hy het nie kans gesien om uit te ry en die lammertjies te sien wat aan hul dooie ma’s probeer drink nie.”

Von Meck dink ook terug aan die medemenslikheid wat sy daar gevind het en hoe dit haar verstom het. Mense van buite het hul harte en beursies vir hierdie boeregemeenskappe oopgemaak. Konvooie met gratis veevoer het legendestatus gekry. Vrouegroepe stuur gebruiksgoedere en help daar waar boere nie meer hul kinders se skoolgeld kan betaal nie.

Telkens moes sy hoor hoe boere getuig dat die droogte hulle verander het, beter mense gemaak het en veral tot ʼn dieper verhouding met God gelei het. “Ons het afgesien van ons eie planne, ons verwagting en hoop is net op God,” is die boodskap wat Von Meck telkens gehoor het.

Net voor die droogte my breek is ʼn aangrypende boek oor boere wat verslae is, maar weier om verslaan te word. Vir mense wat nie boere is nie, maar wat nie sonder boere kan bestaan nie, sal hierdie boek ʼn inspirasie wees.

  • Net voor die droogte my breek word deur Christelike Lektuurfonds uitgegee. Die boek kos R299 (posgeld uitgesluit).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Uitkyk ·

Alhoewel die skryfster bewonder en bedank kan word vir moeite om die toestande aan ons tuis te bring wonder ek hoekom die Afrikaans op die voertuig verberg moes word

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.