Niël Rademan: ‘Geen kunstenaar kan sonder applous voortgaan nie’

Niël Rademan (Foto: Verskaf)

Die derde Hessequa Harmonie word vanjaar van 15 tot 19 September in Heidelberg, Suid-Kaap, aangebied.

“Geen kunstenaar kan sonder applous voortgaan nie,” sê Niël Rademan, wat dié klassieke musiek- en woordkunsfees drie jaar gelede begin het.

Musiekentoesiaste kan uitsien na klassieke uitvoerings soos Rachmaninoff se tweede klavierkonsert in C-mineur deur Nina Schumann en Elna van der Merwe (op ʼn tweede klavier), Poskaarte na Parys, ʼn kabaret met sang deur Jacobi de Villiers en teks en regie deur Jani Greeff, en die toneelverwerking van Marita van der Vyver se roman Die dinge van ʼn kind waarin Cintaine Schutte die hoofrol vertolk.

Skrywers soos Riana Scheepers, Wilken Calitz en Theo Kemp gesels met TV-persoonlikheid Elsabe Daneel oor hul boeke, terwyl aanhangers van visuele kuns kan nader staan vir ʼn uitstalling onder kuratorskap van Anne-Ghrett Erasmus.

Hessequa, wat “mense van die bome” beteken, vorm die kerntema van dié uitstalling. Dit word as ʼn belangrike element van die fees beskou.

“Die kunsuitstalling is ʼn fees vir die oog,” meen Rademan. Die versameling wissel van hoogs realistiese tot kontemporêre kunswerke. Buiten skilderye is daar ook keramiek, keramiekbeelde en beeldhouwerke.

Kunstenaars soos Elizabeth Gunter, Eben van der Merwe, Madelein Marinowitz, Nhlanhla Nhlapo en Ceramic Matters se werk is by die uitstalling ingesluit.

“Mense het ’n behoefte daaraan om te behoort, uit te kom, te gesels en om iets moois saam met mekaar te beleef – al is dit in klein groepe onder veilige, wettige, maatreëlbeheerde omstandighede.”

Rademan, ʼn boorling van die dorp, is ʼn bekende kunstenaar in musiek- en teaterkringe. Met sy uittrede as direkteur van die Suidoosterfees in 2018, het Rademan besluit om hierdie fees op die been te bring.

“Ek wou teruggee aan my geboortedorp. Dít is die plek wat my gemaak en gevorm het,” verduidelik hy.

Die violis Petrus de Beer speel in “Wals met Wene” wat op 16 September plaasvind (Foto: Verskaf)

Hessequa Harmonie word onder die voorgestelde veiligheidsmaatreëls aangebied, vertel Rademan. Dit beteken dat die nodige afstand tussen gehoorlede gehandhaaf sal word, die dra van maskers is verpligtend, handreiniger en ander ontsmettingsmiddels word gebruik om gesondheidsprotokols te volg.

“Dit is nie totaal ʼn voor-Covid-fees nie, maar wel ’n maskerade in die kleine,” sê hy.

Die Hessequa Harmonie word nie virtueel aangebied nie. ʼn Beperkte aantal kaartjies per vertoning is beskikbaar en kan aanlyn by CN&CO Events se webwerf gekoop word. Klik hier vir die volledige feesprogram.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.