Niklaas van Rensburg: Die Siener – Uittreksel 1

Oormôre se gebeure
“Die flou koeël in Beyers se sak-Bybel”

Mussmann verduidelik die belang van dié boodskap soos volg: Gedurende die Anglo-Boereoorlog neem De Wet vir Steyn en Hertzog na Wes-Transvaal, na De la Rey vir beskerming. De Wet moes sware druk van die Engelse magte verduur. Wat vind ons? Dat die Siener aan Hertog en Steyn sê: “Julle moet hier weg, môre is dit hier vol Engelse.” En dit het só gebeur. Waarom moes die Vrystaat se twee hoofde die ondervinding prakties opdoen dat Niklaas van Rensburg ’n ware siener was? Mussmann antwoord: “Sodat hulle eerstehandse ervarings van die Siener kon hê. So moes ook in 1915 ná die Rebellie al die Rebelleoffisiere van Kaapland, Transvaal en Vrystaat saam met die Siener in die Fort sit om persoonlike ondervinding van hom op te doen.”

Oor die bewerings dat die Rebellie ’n hopelose, noodlottige mislukking was, voeg Mussmann by: “In een opsig, wat betref ons geloof, is ons versterk. Die Siener het gesê hy sien hy is ‘in ’n put’ – ’n groot ellende, soos hy self verduidelik het. Al die rebelle is gevang; al die offisiere is gevang. Daar is geen generaal Beyers, geen De la Rey, wat nog buite is nie. Ons moes uit die diepte van die put opsien na die Heer self.

‘Maar,’ het hy gesê, ‘By my in die put is ’n leer en ek staan met my een voet op die eerste sport van die leer.’ Dit beteken: Ek weet ons sal uit die ellende uit kom.”

Hy vervolg: “Oom Niklaas het ook gesê ons maak van voormanne afgode. Hy het generaal Cronjé, generaal Botha ensovoorts genoem. Hoe het generaal Botha die Rebellie onderdruk deur links en regs offisiertjies aan te stel en salarisse te gee, met ander woorde geld en eer. So kry ons vandag nog in die geskiedenis van die Afrikaner die geneigdheid om organisasies en leiers te verafgod, byvoorbeeld Ossewabrandwag-offisiertjies wat die ‘Ossewabrandwag aankleef’. Nou het oom Niklaas uitdruklik gesê: ‘Dis nie partye (organisasies) wat ons redding bring nie.’ Dus ook nie die Nasionale Party nie, maar soos die flou koeël die teks in generaal Beyers se sak-Bybel aangewys het: ‘nie deur mag nie, nie deur geweld nie, maar deur My Gees sal ek julle verlos.’”

Die invloed en die betekenis van Siener se visioene in die Wes-Transvaal, in die stormagtige tydperk van die Tweede Wêreldoorlog, word soos volg deur Mussmann verwoord: “Laat ons volk tog die les leer om nie na geld en eer te streef nie (Numeri 24:12, 13). Wie sal die verdeeldheid tussen ons volk verwyder? Het ek dan nie vertel van die twee houte nie, een met penne en een met gate? Die rooi kielhouer gaan oor hulle en die twee houte voeg dat ons geen naat sien nie. Het die Siener dan nie gesê dat generaal Smuts aan die bewind moet wees nie? Generaal Smuts glo aan oom Niklaas en waarom dan nie? Hou maar vas aan wat die Siener gesê het en alles sal regkom.”

In 1914 het die Siener gesê dit is so donker dat as hy op sy perd sit, hy nie sy perd se maanhare kan sien nie, maar hierdie keer (die toekomstige tyd) is dit so donker dat ons nie ons hand voor ons oë kan sien nie, hoewel “nie vir ons wat weet wat gaan gebeur nie, maar vir dié wat nie weet nie”. Hy sien die wêreld hier by ons is omgeploeg en oor die omgeploegde grond lê ’n slang. Hy sien nie die kop en ook nie die stert nie. Net toe hy die gesig sien, merk hy dat sy dogter Anna sit en skryf. Toe sê hy: “Van dié dag af laat ek Anna elke gesig wat ek sien, neerskryf, want dit is vir my duidelik dat as die tyd kom wanneer die Afrikaners so deurmekaar is (omgeploeg), die een sal sê ek het so gesê en die ander weer so, en niemand sal kan vasstel wat ek wel gesê het nie.”

Oor die put waarin die Rebelle verkeer het: In 1915 sien hy hy is in ’n put, maar by hom in die put is ’n leer en hy staan met sy voet op die eerste sport van die leer. Hy sê: “Die put was die haglike toestand waarin ons verkeer het. Daar was nie nog ’n Koos de la Rey, ’n Beyers of ’n De Wet in die veld met die Mausers wat redding kon bring nie, maar ons moes uit die diepte van die put regop kyk na Bo om redding.” Verder sê hy: “By ons ellende was daar ’n leer in die put, maar wanneer die bont vark by Engeland in die put staan (hongersnood), is daar nie ’n leer nie.”

In verband met Engeland se krediet by Amerika teken Anna in daardie tyd op: “Die varke hardloop oor ’n damwal. Die dam is vol [massas geld in Amerika, volgens die Siener]. As ons weer sien, is die dam leeg. Die vloerklippe maak die dam vol [Amerika se staatskas is vol skuldbewyse, volgens die Siener].” Daarna sien hy ’n groot berg en agter die berg ’n ontsaglike leë dorp. Die berg van skuld maak Londen ’n doolhof. Hy sien ’n groot voël [Amerika, volgens die Siener] sit by die straatklippe van die dam. Hy vang ’n klein voëltjie en sluk hom in. Dit beteken Amerika sal Engeland finansieel insluk.

’n Breë stroom blou water kom van wes en word altyd voller. Dit is goeie nuus van Amerika en Duitsland vir die Afrikaner. In die weste van Europa kom ’n vrou met ’n swart syrok (ryk mense), swaar in rou. In die Unie is ’n man wat so baie rondry (met ’n stofjas aan) dat sy stofjas oopgaan en hy is ook in rou. Die belangrikste: “’n Boer se skoene gaan van sy voete en hy kniel met sy gesig na die weste.” Die Siener sê hier dat ons volk in die donkere tyd in ware ootmoed voor die Heer sal kom en vra dat ons son nie moet ondergaan nie. Die Afrikaner se opregte verootmoediging in sy oorlewingskrisis is die begin van ’n wending ten goede.

Die positiewe wending vir die Afrikaner verduidelik Mussmann by monde van die Siener: “’n Volmaakte republiek sal ons kry van ’n volmaakte God.” Mussmann vra: “Sal die Afrikaner dan in moedeloosheid verval? Ons weet die Siener het gesê: “’n Dik vet, swart perd (moeilikheid met die swart mense) en ’n vuil, geel perd (moeilikheid met die Indiërs).” Hy voeg by: “Laat ons nie terugdeins nie, maar die velskoen uittrek en ons verootmoedig. Laat ons nie na verdeeldheid kyk nie. Die Heer sal dit regmaak. As alles verby is, sal ons dankbaar wees dat die swaar en donker oor ons volk gekom het. Ons sal droogvoets deur die grootste see van moeilikhede gaan, want ons is ’n gelowige volk. Dink aan die gesig wat oom Niklaas gesien het, van die groot kinderskaar wat ons tegemoet kom wanneer ons vry en onafhanklik is. Dit is die kinderslagoffers van die konsentrasiekampe. Wanneer hulle terugdraai, kom daar ’n stem uit die skare, met trane van blydskap in die oë. ‘Ons het kom deel in die vreugde van ons volk waarvoor ons ’n offer was.’”

Op die internasionale front het die Siener die aanloop tot en die effek van die komende Tweede Wêreldoorlog in bykans elke landstreek gesien: Spanje is ’n seeppot vol gaar bloed; in Frankryk brand die misvuur buite om, binne is dit vol rook. In Noorweë is ’n vuur van “uitgesteekte” mis. Die vlam slaan binne uit en brei na buite uit. In Denemarke is daar ’n stuk grond wat omgespit is, en ’n pragtige blou steen draai daaruit. In België het die Siener ’n stuk hout beskryf, een punt rus op die Fransman se skouer en die ander op die Engelsman se skouer.’n Man hang met al twee hande aan die hout. Sy hande raak los en hy val in die kruitvaatjie.

In Suid-Afrika beskryf die Siener die regeringsvorms vanaf 1924. In 1924 sien hy ’n vyelaning met enkele ryp vye “en ek (die Afrikaner) pluk daarvan”. In 1934, die Smelterregering: die vyelaning het net enkele geswelde vye. 1939 se regering: ’n Vrou plaas ’n klompie aanmekaargedrukte vye in sy hand, en dit verander in ’n “borsel” (maak skoon jou huis) – die liberale Sap-regering is werklik “aanmekaargedruk”.

Vir meer inligting oor die boek klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae