Nog 13 spookstories

François Bloemhof, Jaco Jacobs en Fanie Viljoen

Is jy nie bang om laatnag alleen in die bed te lê en lees terwyl die wind buite waai en die takke teen jou ruite krap nie? Skrik jy nie vir stories oor gedaantes wat snags in die donker rondsluip nie?

Dan is hierdie net die boek vir jou!

Die drie grilmeesters Francois Bloemhof, Jaco Jacobs en Fanie Viljoen se 13 spookstories was ‘n topverkoper wat heerlike rillings langs duisende lesers se ruggrate afgestuur het. Hierdie splinternuwe versameling bevat nog 13 verhale wat jou bloed yskoud sal laat word.

So, maak toe die vensters, klim in jou bed … en maak gereed om die gedaantes te ontmoet wat snags in die donker ronddwaal.

Oor die outeurs:

Jaco Jacobs woon in Bloemfontein. Meer as 70 kinder- en jeugboeke het reeds uit sy pen verskyn. Hy is elf keer met die ATKV-kinderboektoekenning bekroon. Verdere toekennings sluit in die Alba Bouwer-prys en die CP Hoogenhout-medalje vir sy bundel rympies Wurms met tamatiesous asook die Elsabe Steenberg-prys en die SATI-prys vir sy vertaling van Willemien en die geel kat.

Fanie Viljoen is die skrywer van talle kinder- en jeugverhale. Sy eerste boek, Slym, is in 2004 gepubliseer. Daarna het ander kinderboeke soos Klou en die Nova-reeks gevolg. Die skryfgogga het Fanie reeds op skool gebyt. Hy het ‘n aanmoedigingsprys gewen in een van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging se jaarlikse skryfkompetisie (1987). Sy eerste kortverhaal is in 1999 in Sarie gepubliseer. Sy boeke het al talle pryse verower soos die MER-prys vir jeuglektuur, MER-prys vir geïllustreerde kinderboeke, Sanlam-prys vir jeuglektuur en ATKV-Woordveertjies.

François Bloemhof woon in die Kaap. Hy skryf boeke vir volwassenes, tieners en jong lesers. Sy werk in al drie kategorieë is meermalig bekroon. Sy werk sluit in Flipom en die gewilde Agent Snoet-reeks.

Uitgewer: Lapa Uitgewers
Prys: R100-00*
*Prys onderhewig aan verandering

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.