Nog ’n eerste vir François Bloemhof

Die skrywer Francois Bloemhof. (Foto: Verskaf)

François Bloemhof se nuutste boek, Die duisend en eerste nag, het pas by Wenkbrou, ’n druknaam van Lapa, verskyn. Jy sou skouerophalend kon vra hoekom hierdie een nie misgekyk moet word nie, wat dit van sy ander boeke onderskei, of van enige van die ander nuwe boeke op die rak? Dis ’n unieke lees-luister-en-kyk-ervaring, skryf Maryke Roberts – en boonop ’n wêreld-eerste.

Ek volg vir etlike maande, saam met honderde ander, sy vordering met dié reusetaak op sosiale media. Sy opgewondenheid is tasbaar en ʼn mens kan amper nie langer wag vir die uitreiking van die boek, musiek en drie kortfilms nie.

Hy skryf op 7 Oktober op sy Facebook-blad: “Dis ’n multimediaprojek wat al oor meer as vyf jaar aankom. Dit het Die Arabiese Nagte as agtergrond, maar is ook so Suid-Afrikaans as wat jy kry. Dit is ’n volwassene-roman, maar het onderdele. En elkeen, aangesien films een van die motiewe in die boek is, het sy eie outydse poster. En omdat daar ook ’n reismotief is, is daar 28 liedjies uit verskillende lande, gesing in … ek het ophou tel in hoeveel tale. Asook drie video’s wat die storie uitbrei, van altesaam ’n uur lank. En dis alles gratis saam met die boek. Géén verskuilde koste nie. Ek kan verstaan dat dit nog nie gedoen is nie, want dit sou enigiemand minder OCD as ek mal gemaak het. (Voeg waansinnige laggie hier in.)”

Op 2 November deel hy ’n lusmaker na die klankbaan wat gratis saam met sy boek kom. Daar is 28 snitte en ja, dis hy wat sing. “Nie altyd alleen nie. En ek het beslis nie al die instrumente gespeel nie,” met ’n knipoog emoji wat volg. “Hier hoor jy Italiaans en Vlaams, maar daar is ook Duitse en Franse en Spaanse en Georgiese en Sweedse liedjies (die moeilikste) en … en ek vergeet watter tale nog. Dit het my lank uit die kwaad gehou.”

Die kort opsomming wat op ’n los vel by die boek ingesluit word, som dit soos volg op: “1 001 nagte, 1 001 wonders, 1 001 gevare.

“Wanneer Herman Swart se tweelingsuster Herma onverwags sterf, val ’n deel van hom weg. Hy raak toenemend eensaam en onttrek in ’n wêreld van ou films. Hy sien haar in sy eie spieëlbeeld en hoor haar op ongeleë tye. ’n Bykomende traumatiese ervaring versplinter sy wêreld finaal en Herman verval in ’n diep koma.

Hy bevind homself binne-in ’n avontuur, ’n nagmerrie, ’n wêreld waarin droom, fantasie, film, vervolgverhale, musiek en die Gotiese ineenvleg. In hierdie vreemde, magiese realisme beweeg hy tussen plekke, ontmoet verskeie karakters en word weggelok deur die prinses, ’n meisie wat baie aan Herma herinner.”

Goed, sou jy dink, dis ’n interessante storie, maar waar pas die musiek en beelde in en waar kom die titel vandaan? Behalwe die Arabiese Nagte-skakel, is dit ook hoe lank Herman in sy koma is. “Hy verloor nie tred met wat in die werklikheid gebeur nie; hy kan net nie iets daaraan doen nie,” vertel François.

Drie video’s is ʼn weerspieëling van ʼn deel van die storie, maar kan op hul eie ook staan.

“Sien dit as ʼn onderbroke roman of vervolgverhaal; musiek is ook deel daarvan. Ons almal se lewens is ’n vervolgverhaal, met ’n paar temas. Ek beskou die boek as ’n roman, maar ook ʼn viering van my kortverhale.”

Dit strek oor alle genres.

Francois Bloemhof se jongste boek getiteld “Die duisend en eerste nag”. (Foto: Verskaf)

Hy gesels ’n paar weke terug op Boekemakranka met boekwurms Analize Viljoen en Trisa Hugo. Trisa loof hom omdat hy al 100 boeke geskryf het, maar ook omdat hy bekend is vir eerstes; of dit nou ’n boek met ’n rekenaarspeletjie is, of een met sy eie klankbaan. Met hierdie boek het hy weer ʼn eerste beet, en weer in Afrikaans.

Hy is al vir meer as drie dekades een van die land se suksesvolste skrywers met geen lui haar op sy kop nie. Hy het al in bykans elke genre vir volwassenes, tieners en kinders gepubliseer. Sy kaggelrak kreun onder die toekennings waaronder De Kat-, FNB-, ATKV-, Kagiso- en Sanlampryse.

François sê hy was 30 jaar terug van plan om in Engels te skryf, omdat hy destyds nie seker was of daar in Afrikaans vir “sy soort boeke” plek was nie. François sê dis tragies dat daar vandag so min kortverhale in tydskrifte verskyn. “Dis hoe ek as skrywer geoefen het en ek glo nie ek sou vandag so goed romans kon geskryf het as dit nie vir daardie geleenthede was nie. Met elke storie maak jy foute, maar jy leer om nie dieselfdes oor en oor te maak nie.”

Hy erken ook sommer trompop aan Trisa dat die Gotiese – “die donker goed, die rillers”, soos hy dit noem – die enigste verhale sou wees wat hy sou wou skryf as niemand hom gekeer het nie. “Maar dan raak jy voorspelbaar. Jy moet jouself ook kan verras. Daar is ook ’n beperkte belangstelling en mense sal jou nie keer op keer ondersteun as jy dieselfde ding oor en oor doen nie. En ek sou verveeld raak. Ek wil voel ek sprei my vlerkies so ’n klein bietjie.”

Vir sy projek se musiek is regte instrumente gebruik, geen meganiese snitte nie. “Ek wou die klank van regte instrumente hoor, soos in die sewentigs en tagtigs, want musiek word soms so glad gemeng – vir radio veral – dat ʼn mens nie seker is watter instrument jy nou eintlik hoor nie. Musiek is nie vir agtergrond nie. Jy kan dit só speel, maar dis nie waarvoor dit geskep word nie.”

Anschen Conradie gee die boek vier sterre en skryf op haar Facebook-blad: “Die uniekheid van die roman is egter geleë in die feit dat dit ʼn multimediaprojek is waaraan minstens vyf jaar gewerk is. Lesers word uitgenooi om www.1001stenag.co.za te besoek om ʼn klankbaan (met 28 liedjies) en drie kortfilms (altesaam ongeveer ʼn uur lank) wat vertakkings van die roman uitbeeld, te beleef.

“Die musiekkeuses was uiteenlopend. Van ‘Bohemian Rhapsody’, ‘Crying’ en die temalied van ‘Mirage’ (‘Le ciel nous fait rêver’), tot een van my allergunstelinge, ‘Vienna’ van Midge Ure. En – bonus – die skrywer sing self!

“Ek het die klankbaan geluister terwyl ek die roman gelees het en die kortfilms daarna gekyk. In geheel gesien, was dit ʼn baie oorspronklike ervaring wat die sinne nogal begogel. Ek beveel dit sterk aan vir lesers wat ʼn uitdaging soek en veelvlakkige verhale (die roman bevat iets van alles: realisme, surrealisme, magiese realisme én fantasie) geniet. Mag nog skrywers hierdie dapper sprong waag!”

François skryf in die voorwoord (na die eerste twee bladsye onder die hofie “Lokprent”) hy kon met ander boeke se opbrengs hierdie byeenbring om sy drie skeppende liefdes te kon befonds: woord, musiek en beeld.

“Episodiese roman? Onderbroke roman? Al beskou ek hierdie boek as ’n geheel waarvan die onderdele in die meeste gevalle op hul eie kan staan, gaan ek nie stry as jy dit ’n kortverhaalbundel wil noem nie. Of ’n vervolgverhaal.”

Wanneer jy na die webwerf gaan, is daar drie kortfilms, Swart Klank, Onderland en Die Middel van ’n Nag, deur regisseur Rudi Steyn. François noem dit Rudi “se droomlogika-interpretasies van drie gedeeltes in die boek”. Die hoofspelers is Carl Ruppert en Fredia Roux.

As hy nou oor die projek terugkyk, erken hy dat jy maar jou kop verloor “en dan vind jy dit weer! Ek moet eerlikwaar sê dit was nie maklik nie. Maar as dit maklik was, dán was ek bekommerd. Omdat ek geen voorbeeld gehad het om na te volg nie, moes ek dikwels nog ’n keer oor dinge dink en wéér dink. Maar ʼn groot voordeel daarvan om iets nuuts te doen, is dat niemand kan sê jy doen dit verkeerd nie …”

Hy sê hy glo nie die boek gaan die weg baan vir ander skrywers om soortgelyke projekte aan te pak nie, want dis eenvoudig te veel moeite. “En te duur. En dit is nou klaar gedoen. As ek geweet het iemand anders het reeds, sou ék waarskynlik nie.”

Hy lag as hy erken dat daar verskeie redes is hoekom hy besluit het om self te sing. “Ek het ’n goeie stem en dis eintlik ’n sonde dat ek nou eers iets daarmee doen. Dit is ook kenmerkend. Ek was eenkeer saam met my ma in ’n tou by Woolworths toe die vrou voor ons my aan my stem herken. En ons het ’n hele dekade tevore saamgewerk! Verder is dit veelsydig. Ek kon werklik van geen bekende sanger verwag om 28 liedjies in soveel genres en verskillende tale te probeer sing nie. Laastens moes dit natuurlik ook met die nodige passie en oortuiging wees, en dis m‎ý boek en daarom is ek die vanselfsprekende kandidaat.”

ʼn Mens wonder natuurlik wanneer hy hierdie unieke, eerste projekte uitdink en hoe jy ’n redakteur oortuig om dit uit te gee. “My uitgewer, Madri Victor, het dadelik in die idee ingekoop. Só iets is nog nooit gedoen nie – en ek het goed geleer hoekom nie! Dit verg geld en inspirasie en moeite en tyd. Ek glo dan ook nie iemand sal dit wéér doen nie. Net soos ek vir myself kon sê ‘Iemand moet eerste wees hiermee en deurdruk’, net so wil ’n uitgewery met oorspronklike boeke vorendag kom. Dan kan hulle die meriete van so ’n projek insien.”

Hy vertel dat die boek die basis was; dis eerste voltooi. Alles het daaruit gevloei. “Kyk, ek is lief vir alles: boeke, musiek en flieks. Maar ek is en bly in die eerste plek ʼn skrywer. Ek is ’n skrywer wat kan sing, nie ’n sanger wat kan skryf nie!”

‘n Skermgreep van die webwerf waar lesers nog ervarings vir Francois Bloemhof se jongste boek “Die duisende en eerste nag” kan vind. (Foto: Verskaf)

Die projek was ook ’n ontdekkingsreis vir sy eie kreatiwiteit. “Ek het besef dat ek met ’n liedjie óók besig is om ’n storie te vertel. Die simpelste liedjies op aarde is nie dié met ’n swak wysie of woorde, of waar iemand nie ’n goeie stem het nie. Dit is dié waar die sanger klink of hy nie regtig betrokke is nie. Jy moet glo in wat jy doen.”

Vyf jaar is ’n lang tyd. Ek wonder of hy ooit moed verloor het?

“Nee. Daar was wel ’n uitdagende tydperk. Dit was toe ek Covid-19 gehad het en ses weke lank nie veel van ’n stem gehad het nie, en nog minder asembeheer. En in daardie tyd het die sperdatum al hoe nader gekom! Ek kon toe net twee liedjies opneem – twee wat juis nie bedoel is om ‘mooi’ te klink nie. Toe ek die dag ten volle my stem en asem teruggehad het, moes ek wikkel.”

Is daar ’n manier hoe hy voorstel lesers/kykers/luisteraars hierdie werk moet aanpak? “Ek wil amper nie voorskryf nie. Dit is ’n alles-in-een-aanbod en ’n mens gee nie vir iemand drie geskenke en sê dan in watter volgorde dit oopgemaak moet word nie! Die musiek en video’s is heeltemal pasella. Dit beteken natuurlik wel dat ek die boek as ‘die eintlike produk’ beskou. Ek sou dit self eers gelees het, en dit dan met alles daarby aangevul het. Ek sou dit as die hoofmaaltyd beskou het, en die res is die poeding en die wyn! Maar bygesê, ek weet nie of ek die geduld sou gehad het om nie na die res te loer en te luister nie. Dis reg so as iemand dit doen, want die storie is ‘onderbreekbaar’,” vertel hy.

Sy skryfloopbaan het by Hoërskool Tygerberg begin toe hy in graad 9 by sy Engelse onderwyser 97% vir ’n kortverhaal gekry het. Hy vertel: “Aan Miss McCallum is ek verskriklik baie dank verskuldig. Die kortverhaal was ‘Murder by the number’. Sy het dit in die klas voorgelees en toe van die kinders (meisies én seuns) tydens van die spannende oomblikke hardop skree, het ek geweet hiér, uiteindelik, is wat ek met my lewe wil doen. Dit was tóé reeds baie duidelik dat ek nie ’n wetenskaplike of ingenieur gaan word nie …”

François het in ’n vorige onderhoud aan my erken dat sy wiskundepunte destyds ook ’n goeie aanduiding was dat hy ’n loopbaan met woorde moes volg! En dat hy aanvanklik gedink het dit sal kortverhale wees, omdat ’n boek na ’n té groot taak gevoel het om aan te pak. “Toe kom ek later agter hoeveel lekkerder dit is om met ’n lang intrige besig te wees.”

Sy eie woorde in die boek som eintlik die projek die beste op: “Hoe eggo jy op musikale wyse ’n boek met uiteenlopende temas soos die nag, drome, reise, versoekings, jeugdige waagmoed en weetgierigheid, begeertes en gevaar? Jy sal hoor hoe ék gedink het jy moet!”

Hoop hy dat hierdie boek ’n kultusstatus sal bereik en van ons DNS deel sal word? “Dit is aanloklik om te wil sê hierdie boek gaan alle rekords breek. Maar dit is ook ’n nare waarheid dat baie mense net met voorspelbaarheid gemaklik voel. Die gemiddelde leser is meer avontuurlik ingestel as die gemiddelde fliekkyker, maar tog vra ’n projek soos dié dat iemand sy of haar grense ’n bietjie moet verskuif, net soos ek as skrywer moes. En dis lekker en so lonend as jy dit doen. Maar hoeveel mense ’n tree verby die bekende sal wil gee, dit kan ek nie sê nie,” bespiegel hy.

Francois Bloemhof se boek “Die Speletjie” is saam met ‘n rekenaarspeletjie uitgereik. (Foto: Verskaf)

En natuurlik is daar geen stilsit vir hom nie. Hoewel hy nie tans aan nog ’n eerste werk nie, is die nommer twee in sy Ludo Labuschagne-speurreeks aan’t gebeur. “Met ’n ‘wiedoenit’ is daar wel die uitdaging (vir my in elk geval) om jouself nie te herhaal en in ’n patroon vas te val nie. Maar ek beskou dit nie as druk nie, dis juis vir my die lekkerte – om ’n nuwe boek anders te maak as die voriges. Ek sou regtig nie wou skryf as ek net variasies op ’n tema moes lewer nie.”

Op my vraag of daar iets anders, uniek en “eerste” in sy kop broei, sê hy egter: “Dalk dink ek eendag aan iets. Maar ek dink nie dis moontlik om iets meer uniek te skep as wat die uitgewers ’n ‘lees-luister-en-kyk-ervaring’ noem nie. As dit my laaste boek sou gewees het, sou ek tevrede gewees het dat ek die grense nou verder geskuif het as wat enigiemand al het.”

Van sy ander eerstes:

  • Sy roman, Hostis (1998), is die eerste Afrikaanse boek – ook wêreldwyd – met ’n oorspronklike, selfgekomponeerde CD-klankbaan.
  • Die Speletjie (1999) is die eerste Afrikaanse boek wat met sy eie rekenaarspeletjie verskyn het.
  • In 2002 span hy en Alistair “Magicmaker” Ackermann kragte saam vir die eerste prenteverhaal in Afrikaans. Hy skryf die teks van die Agent Snoet-reeks en Alistair behartig die illustrasies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.