Nóg internasionale benoemings vir Jaco Jacobs

Jaco Jacobs (Foto: Jaco Jacobs Blog)

“Ek is nog steeds effe uit die veld geslaan. Dié nuus het my Blou Maandag sommer opgehelder,”” sê Jaco Jacobs, Bloemfonteinse kinderboekskrywer, nadat hy onlangs vir twee internasionale toekennings benoem is.

Jacobs se lewenslange oeuvre is deur die Suid-Afrikaanse afdeling van Ibby vir die Hans Christian Andersen-toekenning genomineer. Niki Daly, wat sommige van Jacobs se boeke geïllustreer het, is saam met Jacobs vir dié toekenning benoem. Daly is al voorheen vir dieselfde toekenning benoem.

“Waar ek by my lessenaar sit en worstel met ʼn storie dink ek nie aan toekennings nie,” vertel Jacobs. “En ek het geen verwagting om hierdie prys te wen nie.”

Jacobs se versameling kinderboeke word ingesluit by die internasionale raad van boeke vir jongmense se erelys wat tweejaarliks saamgestel word. Skrywers en illustreerders wêreldwyd word genomineer.

Jacobs is ook vanjaar vir die Carnegie-medalje benoem. A Good Night for Shooting Zombies, die Engelse vertaling van Oor ‘n motorfiets, ‘n zombiefliek en lang getalle wat deur elf gedeel kan word, is by die langlys van Brittanje se oudste en mees prestigeryke literêre prys vir kinderboeke ingesluit.

“Om bloot hiervoor benoem te word, is ʼn enorme eer,” vertel Jacobs. “Hierdie is een van dié grootste toekennings in die kinderboekbedryf.”

A Good Night for Shooting Zombies is deur Kobus Geldenhuys vertaal en deur Oneworld Publications in Brittanje gepubliseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

des ·

My kinders is grootgemaak op sy boeke, hy is n ongelooflike goeie skrywer. Baie geluk!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.