Nog ’n prys vir Willem Anker

Argieffoto. (Foto: Pixabay)

Die wenners van kykNET-Rapport Boekpryse, Jan Rabie-Rapportprys en Boekresensent van die Jaar vir 2021 is Saterdag (11 September) aanlyn bekendgemaak. Die Jan Rabie-Rapportprys is in 2003 vir die eerste keer toegeken, maar val sedert 2015 onder die kykNET-Rapport-vaandel.

Die fiksiepryse is vanjaar toegeken aan Willem Anker vir Skepsel (Queillerie), Stephanie Vos en Stephanus Muller (samestellers) ontvang die niefiksieprys vir Sulke vriende is skaars: Die briewe van Arnold van Wyk en Anton Hartman, 1949-1981 (Protea Boekhuis), en Sidney Gilroy se Middernag (Human & Rousseau) is die wenner in die filmkategorie.

Skepsel, wat vroeër vanjaar met die UJ-prys bekroon is, word deur die keurders beskryf as “tegelyk ʼn lieflike, poëtiese elegie vir die mens se geskiedenis op aarde en ʼn vooruitskouing van ʼn posthumanistiese wêreld”.

“Dit boei die leser deur die uitbeelding van die verhoudings tussen mense, tussen mense en masjiene, tussen mense en niemenslike lewende wesens, alles danksy die skrywer se taalhantering: konkreet beskrywend, liries singend en emosioneel pakkend,” lui ʼn verklaring oor die toekennings.

Volgens die keurders laat Anker se roman die leser in die slothoofstukke asemloos en diep ontroer met sy beskrywing van die suiwer wil om oorlewing van hierdie klein, gebroke blou planeet.

Anker het die fiksieprys ook in 2015 gewen vir sy gevierde roman Buys. Die ander benoemdes in die fiksiekategorie was Jaco Fouché vir Aanspreeklikheid en Francois Smith vir Die kleinste ramp denkbaar. Elmari Rautenbach, Louise Viljoen, Steward van Wyk en Beer Adriaanse was die keurders in die fiksiekategorie.

Vos en Muller se Sulke vriende is skaars is deur die beoordelaars bestempel as “pragtig afgewerk” en ʼn helder trompetgeskal vir die waarde van die Afrikaanse boek.

“[Die boek] vergestalt die verbeeldingskrag en deursettingsvermoë van twee ernstige navorsers wat in ʼn stowwerige reeks leggers in ʼn argief die buitelyne van ʼn boek kon sien. As kultuurproduk is dit ʼn onvergeetlike boek wat op die rakke in die beste boekwinkels in enige wêreldstad sou inpas.”

Dit is die tweede keer dat Muller se werk vereer word. Hy het in 2015 die niefiksieprys én die Jan Rabie-Rapportprys vir Nagmusiek gewen.

Die ander benoemdes in die niefiksiekategorie was Carina van der Walt vir Stilspraak: Strijdom van der Merwe en landkuns en Deon Wiggett vir ʼn Enkele verhaal: Die jag op ʼn reeksverkragter. Die keurders was Bill Nasson, Jean Meiring, Azille Coetzee en Herman Binge.

Volgens die keurders in die filmkategorie bevat Gilroy se speurverhaal Middernag, wat op Harrismith in die Oos-Vrystaat afspeel, al die bestanddele vir ʼn onvergeetlike rolprent. Die keurders skryf: “Dit torring aan die gehoor se bewussyn op sielkundige wyses, eerder as blote aksie en gruwel. Die deurslaggewende faktor is egtheid. Die wêreld, karakters en dialoog flikker soos iets uit ʼn Carte Blanche-segment – cinéma vérité in boekvorm.”

Ook benoem in die filmkategorie was Hannes Barnard vir Wolk en Anton Roodt vir Weerlose meganika. Suzaan Keyter, Adriaanse en Binge was die keurders.

Vanjaar se Jan Rabie-Rapportprys word aan Anton Roodt toegeken vir sy satiriese debuut, Weerlose meganika, wat by Tafelberg verskyn het.

Volgens die keurders volg Roodt met gemak in die spore van Etienne Leroux se Die derde oog. “Hy doen dit met nonchalance en die fleurige gees van ʼn 21ste-eeuse woordtowenaar.”

Die roman speel teen die agtergrond van die myne by Welkom af en is deur die keurders as ʼn kragtoer van verbeeldingskrag beskryf.

Ander benoemdes vir die Jan Rabie-Rapportprys was Brian Fredericks vir As die Cape Flats kon praat en Francois Smith vir Die kleinste ramp denkbaar. Die keurders was Bibi Burger, Anastasia de Vries en Kerneels Breytenbach.

Die kykNET-Rapportpryse vir Boekresensent van die Jaar word toegeken in drie kategorieë vir uitnemende Afrikaanse resensies van Afrikaanse boeke.

Nathan Trantraal het die fiksiekategorie gewen met “Kaaps-debuut systap genre en gender” oor Innie Shadows deur Olivia M Coetzee. Dit het op 2 Februarie 2020 in Rapport Weekliks verskyn. In die niefiksiekategorie het Deon Maas met die louere weggestap. Maas het die prys ontvang vir “Anton Goosen se eerlikheid is skáárs” oor Anton Goosen: Liedjieboer deur Hanlie Retief wat op 16 Augustus 2020 in Rapport Weekliks verskyn het. Charl-Pierre Naudé het die prys vir ʼn langer resensie gewen. Naudé se resensie-essay oor Die nuwe Afrikaanse prosaboek, saamgestel deur Sonja Loots en Steward van Wyk, het aan hom dié prys besorg. Die resensie het op 16 April 2020 op LitNet Akademies verskyn. Charl-Pierre Naudé is in 2018 ook bekroon vir ʼn fiksieresensie.

Keurders vir die resensieprys was Slippers, Mercy Kannemeyer en Ryan Pedro.

Inligting oor deelname aan die pryse vir 2022 word binnekort bekendgemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.