Nog ʼn prys vir Zirk van den Berg se ‘Ek wens, ek wens’

Zirk van den Berg (Foto: Brenda Veldtman)

Die wenners van kykNET-Rapport Boekpryse, Jan Rabie-Rapportprys en Boekresensent van die Jaar vir 2020 is Saterdag (19 September) aanlyn bekendgemaak.

Tydens die geleentheid is ook aangekondig dat ’n beurs bewillig word om groter diversiteit in die bestaande Afrikaanse skrywerskorps te stimuleer.

Zirk van den Berg is die wenner in die fiksie- én filmkategorie van die kykNET-Rapportpryse met Ek wens, ek wens, wat verlede jaar by Kwela Uitgewers verskyn het.

Ek wens, ek wens vertel die storie van ’n begrafnisondernemer wat gelate sy voorspelbare lewe leef totdat hy ’n terminale siek kind ontmoet. Dié middeljarige lykbesorger kry dan weer ’n rede om in wense te glo.

Die keurders beskryf Ek wens, ek wens as ’n boek wat die amper vergete betekenisse van woorde soos onskuld, eerlikheid, welwillendheid en egtheid herontgin. Dit word ook beskou as herkenbaar eietyds; andersyds byna argetipies in die verkenning van oervrese en -begeertes. Ek wens, ek wens is volgens die keurders ’n boek waarin daar op doelbewuste maar ingeligte wyse wegbeweeg word van postmoderne afstandelikheid, ironie en sinisme.

Keurders in die filmkategorie meen die gestroopte taal in Ek wens, ek wens sal soomloos tot ’n draaiboek verwerk kan word en die teks bied talle visuele padaanwysers.

“In ’n wêreld gelouter deur ’n pandemie gee dié verhaal filmmakers kans om binne die betowerende raamwerk van ’n sprokie terug te keer na eenvoud, egtheid en na wat die hart wérklik begeer,” sê Gerrit Schoonhoven, regisseur en een van die keurders in die filmkategorie.

Ek wens, ek wens is vroeër vanjaar ook met die WA Hofmeyr-prys bekroon. Van den Berg, wat in Nieu-Seeland woon, het in 2014 ook die eerste kykNET-Rapport-filmprys ontvang vir ’n Ander mens. Die rolprent van dié boek is verlede jaar uitgereik.

Ander benoemdes in die fiksiekategorie was die ontslape Harry Kalmer vir In ’n land sonder voëls, Johan Jack Smith vir Zola, Etienne van Heerden vir Die biblioteek aan die einde van die wêreld en Jan van Tonder vir Die verevrou. Dié kategorie het vanjaar ’n rekord van 52 inskrywings ontvang.

Die keurders van die fiksiekategorie was Kirby van der Merwe, Elmari Rautenbach, Thys Human en Gerrit Schoonhoven.

In die filmkategorie is Sidney Gilroy vir Klikbek, Johan Jack Smith vir Zola, Réney Warrington vir Smit Motors en Marita van der Vyver vir Grensgeval benoem. Benewens Schoonhoven was Tina Kruger en Herman Binge ook deel van die paneel.

Die wenner van die kykNET-Rapportprys vir niefiksie is Carel van der Merwe met Kansvatter: Die rustelose lewe van Ben Viljoen, wat by Protea Boekhuis verskyn het.

Dié boek handel oor die buitengewone lewe en nalatenskap van Viljoen – ’n held uit die Anglo-Boereoorlog met ’n flambojante én twyfelagtige geskiedenis. Dit is deur die keurders uitgesonder as ’n kritiese dog empatiese biografie op ’n indrukwekkende skaal.

“Vir die leser word daar stadig maar seker ’n fassinerende, komplekse karakter duidelik met ’n lewensverhaal wat in ’n moderne idioom vertel word en wat daarom ’n enorme bydrae maak tot die boekery oor die Anglo-Boereoorlog,” sê dr. Irma du Plessis van die Universiteit van Fort Hare. Du Plessis, Herman Binge, Bill Nasson en Martie Meiring het dié kategorie beoordeel.

Dit is die tweede keer dat Van der Merwe die niefiksieprys wen. In 2016 is hy vir Donker stroom: Eugène Marais en die Anglo-Boereoorlog bekroon. Van der Merwe het dié prysgeld gebruik om navorsing vir Kansvatter in die Verenigde Koninkryk en VSA te doen.

Ander benoemdes in die niefiksiekategorie was Albert Blake vir Robey Leibbrandt: ’n Lewe van fanatisme en Murray la Vita vir Boodskapper van die gode.

Theo Kemp, skrywer van ‘Strafjaart’ (Foto: Verskaf)

Die Jan Rabie-Rapportprys vir debuut- of tweede prosawerke, wat deel uitmaak van die kykNET-Rapport Boekpryse, gaan aan Theo Kemp vir sy roman Strafjaart, wat by Penguin Random House verskyn het.

Volgens die keurders wys Kemp met sy eerste roman, Skool, en nou ook met Strafjaart hoe kragtig faksie ingespan kan word om die Suid-Afrikaanse samelewing beter te probeer verstaan. Die hoofkarakters in albei verhale word met hul navorsing oor en ervarings met, onderskeidelik, die skool- en tronkstelsel nie net met gebroke oplossings vir ’n verskeurde samelewing gekonfronteer nie, maar ook met hulself.

Danie Marais, een van die keurders, sê: “Strafjaart is ’n herinnering aan die waarde van letterkunde wat die gefolterde getuie word van alles waarvan ons in desperate ontkenning probeer leef.”

Die ander benoemdes vir die Jan Rabie-Rapportprys was Lize Albertyn-du Toit vir Die kinders van Spookwerwe en Ruan Kemp vir Gedeeltelik bewolk. Keurders vir die Jan Rabie-Rapportprys sluit Marais, Alida Potgieter en Steward van Wyk in.

Die kykNET-Rapportpryse vir Boekresensent van die Jaar word in drie kategorieë toegeken vir uitnemende Afrikaanse resensies van Afrikaanse boeke.

Willie Burger het die fiksiekategorie gewen met “Kies ’n boek” oor Die troebel tyd deur Ingrid Winterbach. Dit het op 1 Februarie 2019 in Vrouekeur verskyn. In die niefiksiekategorie het Bill Nasson met die louere weggestap. Nasson het die prys ontvang vir “Moet ons die ABO nou liefs vir die romansiers los?” oor Rebel: Die lewe van kommandant Hans Lötter deur Chris Schoeman wat op 8 Desember 2019 in Rapport Weekliks verskyn het. Hein Willemse het die prys vir ’n langer resensie gewen. Willemse se ressensie-essay oor Verset en opbou: Skrywers en politici as aktiviste vir Afrikaans deur JC Steyn het aan hom dié prys besorg. Die resensie het op 31 Oktober 2019 op LitNet Akademies verskyn.

“In die fiksie- én niefiksiekategorie was daar meer uitskieter-resensies as waarvoor ons op die kortlys kon plek maak,” sê Bibi Slippers, sameroeper van die resensiekeurpaneel. “Veral die algehele gehalte van inskrywings in die niefiksiekategorie was merkbaar beter as vorige jare.” Mercy Kannemeyer en Jomarié Botha was saam met Slippers op die paneel.

Hettie Scholtz, sameroeper van die kykNET-Rapport Boekpryse, sê vanjaar se inskrywings was verrykend en het vir vele leeservarings gesorg. ’n Gebrek aan diversiteit onder die inskrywings het ook op die voorgrond getree en daarom is besluit om ’n beurs te skep wat poog om dié gaping te vul.

“Die gebrek aan diversiteit onder die inskrywings het gelei tot noodsaaklike gesprekke – woord én daad – oor hoe om dit aan te pak,” sê Scholtz.

Die skep van ’n kykNET-Rapport-beurs waarmee ’n nuwe literêre stem sy of haar skryfkuns vir een jaar by ’n erkende instansie vir kreatiewe skryfwerk kan slyp, het ten doel om in klein maat hierdie diversiteit te help stimuleer en die ryk variante van Afrikaans te bevorder.

Meer besonderhede oor die beurs word binnekort bekendgemaak.

Die geleentheid het aanlyn plaasgevind en is deur Karen Meiring van kykNET en Waldimar Pelser van Rapport gelei. Inligting oor deelname aan die pryse vir 2021 word binnekort bekendgemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

nietemin ·

Die naam “Die Biblioteek aan die einde van die wêreld” deur Ettienne van Heerden herinner darem baie aan Douglas Adams se bekende “The Restaurant at the End of the Universe” .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.