Nóg ʼn veelbekroonde Afrikaanse roman gaan grootskerm toe

Anna-Mart van der Merwe en Mono Nene in 'n toneel uit die fliek. (Foto: Verskaf)

Anna-Mart van der Merwe en Nomsa Nene in ‘n toneel uit die fliek. (Foto: Verskaf)

Die Swerfjare van Poppie Nongena, die roman uit die pen van Elsa Joubert, gaan eersdaags silwerdoek toe.

Helena Spring, vervaardiger van die rolprent wat slegs Poppie Nongena heet, het pas aangekondig dat produksie in volle swang is vir die fliek wat op dié veelbekroonde roman gebaseer is.

Die bekroonde draaiboekskrywer en dramaturg Christiaan Olwagen is die regisseur en Vicci Tilpin behartig die kinematografie. Vorige hoogsaangeskrewe rolprente deur Olwagen sluit in Johnny is nie dood nie, Die seemeeu en Kanarie.

Clementime Mosimane vertolk die rol van Poppie. Anna-Mart van der Merwe (Die Storie van Klara Viljee, Kanarie), Chris Gxalaba en Rolanda Marais (Johnny is nie dood nie, Die seemeeu) maak ook deel uit van die rolverdeling. Nomsa Nene, wat die titelrol gespeel het in die internasionale verhoogproduksie van Poppie, vertolk die rol van Poppie se ma in die rolprent.

“Ek is baie trots en geëerd om ʼn film te vervaardig wat gebaseer is op sulke uitsonderlike materiaal,” het Spring luidens ʼn mediaverklaring gesê. “Poppie se uiters persoonlike ervarings, haar liefde vir haar kinders en haar formidabele innerlike krag terwyl sy probeer sin maak van die moeilikste oomblikke van haar lewe, sal oud en jonk inspireer.”

Die Swerfjare van Poppie Nongena is ʼn baie belangrike storie wat vertel móét word. Dit het etlike jare geneem om dit uiteindelik op film te kan verewig, maar ons is opgewonde oor die produksiespan en rolverdeling en sien uit om die finale produk vir Elsa Joubert en die res van die wêreld te wys,” sê Karen Meiring, uitvoerende hoof van KykNET.

Dié roman, wat steeds as baanbrekerswerk beskou word, is drie keer binne die eerste vier maande herdruk en in dertien tale vertaal. Dit het wêreldwyd toekennings verower.

Poppie Nongena word in 2019 in fliekteaters landswyd uitgereik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.