[Video] Unieke nuwe rugbyboek deur beste sportfotograaf

Portrait of rugby deur Wessel Oosthuizen Foto: Wim van den Berg

Portrait of rugby deur Wessel Oosthuizen Foto: Wim van den Berg

Daar kan min twyfel bestaan dat Wessel Oosthuizen Suid-Afrika se beste sportfotograaf is.

Daarvan getuig sy foto’s van allerlei sportsoorte en veral rugby, gimnastiek, boks, die Olimpiese Spele en ook sewesrugby, om slegs ʼn paar te noem.

Hy het pas nóg twee boeke die lig laat sien. Die een,SA at the Olympic Games 1904-2012 is in samewerking met Lappe Laubscher – ondermeer ʼn vermaarde geskiedskrywer, voormalige sportjoernalis, kenner oor die Olimpiese Spele en skrywer van ʼn hele aantal boeke.

Die boek is, uiteraard, nóg ʼn fotografiese eerbetoon, dié keer aan ons Olimpiese deelnemers sedert Suid-Afrika se deelname in 1904, wat pragtig aangevul word deur Laubscher se Olimpiese agtergrondkennis.

Maar Oosthuizen het nou ook die tweede uitgawe van sy pragboek Portrait of Rugby die lig laat sien.

Die boek is 300 bladsye dikker as die eerste uitgawe van sowat sewe jaar gelede, gevul met 1 237 foto’s wat oor sy loopbaan van meer as 50 jaar geneem is.

Die vuishou van Frik du Preez, sommerso in sy duikslag op Chris Laidlaw (Foto: Wessel Oosthuizen in die boek, "Portrait of rugby")

Die vuishou van Frik du Preez, sommerso in sy duikslag op Chris Laidlaw (Foto: Wessel Oosthuizen in die boek, “Portrait of rugby”)

Oosthuizen se motivering vir hierdie tweede uitgawe was om Portrait of Rugby daarmee op datum te bring deur die meer onlangse rugbysterre ook in te sluit in ʼn boek waar legendes soos Mannetjies Roux en Frik du Preez deur Oosthuizen se foto’s vereer word.

Die boek neem, soos die eerste uitgawe, die leser op ʼn rugbyreis vanaf die 1970-reeks teen Nieu-Seeland. Dit was in die eerste toets van daardie reeks dat Oosthuizen die foto geneem het wat steeds oral te sien is. Die vuishou van Frik du Preez, sommerso in sy duikslag op Chris Laidlaw, is op legendariese wyse vasgevang – soos ook sy foto’s op die bittere betogertoer na Nieu-Seeland in 1981, en die tonele uit die Springbokke se Wêreldbekerseges in 1995 en 2005.

Oosthuizen se eerste foto, van die Wallaby-kaptein John Thornett toe Australië deur Suid-Afrika getoer het, is in 1963 gepubliseer. Dit is nou feitlik 53 jaar later, en steeds gaan die begaafde fotograaf voort om uitsonderlike foto’s onder die aandag te bring.

Sedertdien het hy letterlik duisende rugbyspelers van oor die hele wêreld afgeneem, baie vriende gemaak en ʼn hele aantal toekennings, ook internasionaal, met sy foto’s verwerf. Hy het foto’s geneem vanaf Twickenham in Londen, tot rugby in Nieu-Seeland en die Beervleidam in die Karoo en ook by die heel suidelikste rugbyveld ter wêreld, Stewarteiland suid van Nieu-Seeland se Suideiland.

Terloops, die tweede uitgawe van Portrait of Rugby is, benewens die gewone grootte wat nou met byvoegings opgedateer is, sewe jaar gelede ook deur ʼn ware versamelaarsuitgawe voorafgegaan. Dit is ʼn beperkte drukoplaag van slegs 1 000 boeke van A3-grootte (landskap-uitleg). Die boeke het elk R4 500 gekos. Dié versamelstuk weeg sowat ses kilogram!

♦ Om terug te kom by die pragboek van die Olimpiese Spele: Soos met al Oosthuizen se werk, is daar nie net goeie foto’s nie, maar word die buitengewone ook vasgevang, soos die emosie-vertrekte gesig van die swemmer Chad le Clos na hy die goue medalje op die 2012-Spele in Londen gewen het.

Laubscher vul dit pragtig met teks aan en verskaf plek-plek die agtergrond met die insig van ʼn ervare kenner en dra by om hierdie boek ook ʼn wenner te maak.

* Portrait of Rugby kos R1 600 (posgeld en versekering ingesluit) en kan by Oosthuizen per e-pos bestel word by [email protected]
* SA at the Olympic Games 1904-2012 is by Protea Boekwinkels verkrygbaar of kan by Oosthuizen per e-pos bestel word: [email protected]. Die boek kos R495.

Kyk gerus wat vertel bekendes in die sportkringe oor dié nuwe boek:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.