Nuusleser se tienerdroom kry vlerke

Daniëlla van Heerden, Afrikaanse TV-nuusleser en joernalis. (Foto: Cornél van Heerden)

Met al die oppe en affe van ʼn wêreldpandemie was die afgelope paar maande besonder goed vir Daniëlla van Heerden, ʼn Afrikaanse TV-nuusleser en joernalis.

Daniëlla en haar man, Cornél, ʼn Johannesburgse vryskutfotograaf, het in Maart verlede jaar ʼn dogtertjie, Simoné Janke, ryker geword én haar eerste boek As jy droom het vroeër vanjaar by Pan Macmillan verskyn.

Dié borrelende donkerkop het in ʼn onderhoud met Maroela Media vertel dat Simoné die oggend van 25 Maart gebore is, enkele uur voor Suid-Afrika die nasionale staat van afsondering ingegaan het.

“Ek en Cornél het gedink ons gaan vir so twee of drie weke op ons eie wees en dan gaan ons weer mense kan sien,” vertel Daniëlla. Helaas, die Van Heerdens was met die uitsondering van ʼn afspraak by die pediater, die hele April alleen by die huis.

“Ons het nie vriende of familie gesien nie en dit is tog die tyd, veral as jy bietjie ʼn ouer ma is en ʼn rukkie vir ʼn baba gewag het, wat jy dit met mense sou wou deel,” sê Daniëlla.

Om soveel tyd saam met Simoné te kon deurbring was natuurlik wonderlik, vertel sy, maar dit sal ook oneerlik wees om te maak asof dit net lekker en maklik was.

Daniëlla en Simoné by Lanseria-​lughawe tydens ‘n TV-onderhoud. (Foto: Verskaf)

“Ek hou van mense en is beslis nie iemand wat alleen en op my eie wil wees nie, maar ek het ook geleer dat ʼn mens eintlik baie aanpasbaar by situasies is.”

Daniëlla sê sy het ook opnuut besef hoe waardevol dit is om ʼn gesonde huwelik en ondersteunende eggenoot te hê. “ʼn Mens het gedink jou village gaan baie groter wees en toe op die ou einde was dit net ek en Cornél, Simoné en ons drie brakkies. En dit was oukei.”

Naas moederskap was nóg ʼn droom besig om vir Daniëlla te realiseer. Eintlik het dié tienerdroom aan haar deur kom klop en sy was al te gretig om die geleentheid met albei hande aan te gryp.

“Ja, die skryf van ʼn boek is regtig ʼn droom wat waar geword het. Ek kan dit amper eintlik ʼn passiewe tienerdroom noem omdat ek dit nie vroeër en met meer erns nagejaag het nie,” vertel Daniëlla.

“Ek is in hierdie sin baie gelukkig dat die droom aan my deur kom klop het. Dat ek nie manuskripte geskryf en voorgelê het aan hordes uitgewers soos wat baie skrywers doen nie. Ek was werklik gelukkig dat die uitgewer my genader het.”

Pan Macmillan het haar ʼn ruk gelede gevra om ʼn jeugboek oor Megan Werner en die U-Dream-projek te skryf. As jy droom is ʼn inspirerende verhaal wat gegrond is op Megan se droom om saam met ander tieners ʼn vliegtuig te bou en daarmee van Kaapstad na Kaïro te vlieg.

As jy droom… moet jy dit nie net daar laat nie. Jy moet jou droom najaag, hard werk, doelwitte stel, in jouself glo en vashou aan die wete dat jy daardie droom van jou ʼn werklikheid kan maak. – Daniëlla van Heerden

Megan se doel was om kinders in ander Afrikalande te inspireer om ook hulle drome vlerke te gee. Die reis propvol adrenalien en avontuur is sowat twee jaar gelede suksesvol voltooi, maar het op ʼn tragiese noot geëindig toe Megan se pa Des in ʼn vliegtuigongeluk in Tanzanië gesterf het. Des was deel van die ondersteuningspan wat saam met Megan-hulle gereis het.

Simoné en Megan by Lanseria-​lughawe tydens ‘n TV-onderhoud. (Foto: Verskaf)

Vir Daniëlla om eindelik Megan se avontuur in ʼn jeugverhaal te omskep, moes sy feite met menslikheid verweef en daarvoor was onderhoude met Megan absoluut belangrik. Die Werner-gesin het ʼn groot indruk op Daniëlla gemaak.

“Hulle is regtig ʼn indrukwekkende gesin wat vir niks terugstaan nie. Megan, haar ma en suster ondersteun mekaar in als.

“Ek het hom nou nooit self ontmoet nie, maar Megan se pa klink ook regtig soos ʼn besondere man wat hierdie dogter van hom van jongs af onvoorwaardelik ondersteun het. Hy het nooit gesê sy is te jonk om iets te doen nie. Trouens, hy het haar gedurig aangespoor om groter te droom,” vertel Daniëlla.

Sy meen dat die besondere verhouding tussen Megan en haar pa eintlik ʼn bewys is dat as jy iemand het wat in jou glo – dit is dalk nie vir almal ʼn ouer nie, maar miskien ʼn onderwyser of vriendin – dit ʼn groot rol in die verwesenliking van jou drome kan speel.

Volgens Daniëlla sluit haar ervaring van ma-wees in ʼn pandemie en die “As jy droom”-tema by mekaar aan in die opsig dat sy én Megan onverwagse situasies moes hanteer en trotseer.

“Megan-hulle het ʼn plan gehad en ʼn roete uitgewerk van hoe hulle oor Afrika sou vlieg, maar daar het die heeltyd dinge gebeur wat nie deel van die plan was nie.

“Terwyl ek met Megan se verhaal gewerk het, het dit my laat dink aan daardie dinge waarvan jy as jongmens droom en dat ʼn mens dit nie moet laat gaan nie. Dit is eintlik ʼn deel van jou en partykeer word ʼn mens ouer en ja, die lewe loop ander draaie, maar jy moet eintlik nie daai jong mens wat jy was en drome wat jy gehad het, vergeet nie.”

Daniëlla het egter nie bewustelik haar tienerdroom op die agtergrond geskuif nie. Haar werk as joernalis en later as veldverslaggewer het baie van haar tyd en energie opgeneem. Sy het later getrou en toe met ʼn gesin begin wat nuwe uitdagings voor haar deur gelê het.

Vir haar werk by eNuus op kykNET is sy onder meer bekroon as die Nasionale Persklub se TV-nuusjoernalis van die jaar, en sy het ook ʼn ATKV-mediaveertjie ontvang vir die beste TV-insetsel. Die Afrikaanse Taalraad het Daniëlla vereer met ʼn Kokertoekenning vir haar bydrae tot Afrikaans, en in 2017 is sy aangewys as die Noordwes-Universiteit se Jong Alumnus van die Jaar.

Daniëlla verklap dat sy reeds met nuwe skryfprojekte besig is, waaronder die vertaling van As jy droom.

“Ek doen dit self en dit is nogal ʼn uitdaging. Sodra dit afgehandel is, sal ek my volle aandag aan die ander skryfwerk kan gee. Daar is so twee of drie verskillende idees in my kop en die volgende boek sal waarskynlik weer ʼn jeugboek wees en miskien oor onderwerpe waarin ek belangstel soos diere, reis en avonture.”

  • As jy droom kos R180 (prys onderworpe aan verandering). Klik hier om die boek aanlyn te koop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.