Nuwe app bied luisterboeke vir leesgieriges

oorfone-musiek-oudio-slimfoon

Foto: StockSnap/Pixabay.com

BiB, ʼn splinternuwe oudioteek, is pas bekendgestel en sal binnekort ʼn keur van boeke, reekse en teaterstukke vir leesgieriges gereed hê.

Die inhoud word op toeganklike wyse aan lesers beskikbaar gestel deur middel van ʼn toepassing op Apple se App Store en Google Play.

Bekende stemkunstenaars soos Armand Aucamp, Elzabé Zietsman, Roeline Daneel en Valiant Swart het die geleentheid aangegryp om geselekteerde tekste voor te lees. Só word die publiek se aanvraag en behoefte aan inheemse inhoud deur middel van oudioboeke gedien. Boonop word Afrika se akteurs, skrywers en storievertellers bemagtig, bereikbaar gemaak en beskikbaar gestel.

Dié vasteland se ryk mondelinge tradisie en skatkis van oorspronklike stories word hierdeur gevier, gevestig en bewaar. BiB is verteenwoordigend van veelsydige en multi-kulturele inhoud wat deur noukeurige kuratorskap geskep word.

Luisterboeke en voorlesings wat reeds op BiB beskikbaar is, sluit in:

  • Asem deur Jan Vermeulen (voorgelees deur Armand Aucamp)
  • Bloedlelie deur Jeanette Ferreira (voorgelees deur Veronica Geldenhuys)
  • Blou sjokolade deur Christien Neser (voorgelees deur Carla Smith)
  • Corali deur Chanette Paul (voorgelees deur Roeline Daneel)
  • Dieretuin deur Francois Bloemhof (voorgelees deur Wynand Kotzé)
  • Kanaän deur Sophia Kapp (voorgelees deur Ira Blanckenberg)
  • Koshuiskoffie deur Christien Neser (voorgelees deur Carla Smith)
  • In Math We Trust deur Simon Dingle (voorgelees deur Simon Dingle)
  • The Rain Runner deur Carl Richardson (voorgelees deur Malcolm Gooding)
  • Tolbos deur Irma Joubert (voorgelees deur Carla Smith)
  • Oorlewingsgids vir ʼn bedonnerde diva deur Sophia Kapp (voorgelees deur Nicole Holm)
  • Ver wink die Suiderkruis deur Irma Joubert (voorgelees deur Andrea Winckler)
  • Die verhoogproduksie van Dis koue kos, skat deur Marita van den Vyver, verwerking deur Alexa Strachan (voorgelees deur Elzabé Zietsman)
  • Psalter deur Wessel Pretorius (vertolking deur Len-Barry Simons en musikale regie deur Emma van Heyn)
  • Die verhoogproduksie Seisoenaal deur Mienke Ehlers (vertolking deur Mienke Ehlers)
  • Die verhoogproduksie Sê my naam soos ʼn Starbucks knaap deur Wessel Pretorius (vertolking deur Llandi Beeslaar)
  • Liefde deur Valiant, ʼn reeks deur Valiant Swart (vertolking deur Valiant Swart)

Die stigters van BiB is twee dinamiese vroue met onderskeidelik ʼn agtergrond in tegnologie en bankwese asook die uitvoerende kunste.

Arlene Mulder is ʼn digitale entrepreneur en wenner van 2019 se Forbes Woman Africa Technology and Innovation-toekenning. Sy het sewe jaar se ervaring by die beleggingsbank RMB op haar kerfstok.

Juanita Kotzé (The Rare Librarian) is ʼn kreatiewe en uitvoerende regisseur wat reeds 30 jaar produksies in die mode- en vermaakwêreld verwesenlik.

“Ons visie is om literêre skatte met nuwe tegnologie te vereenselwig om die waarde van taal en verhaal te bewaar,” sê Mulder en Kotzé.

“Hoewel die meeste inhoud tans in Afrikaans uitgereik is, is daar ʼn omvattende lys van werke wat in ʼn verskeidenheid landsstale opgeneem gaan word.”

Lapa Uitgewers het sy opgewondenheid oor dié nuwe platform uitgespreek.

“Lapa is baie trots op die boeke wat reeds gekies en opgeneem is. Dis wonderlik om die verhale in ʼn nuwe ruimte te hoor,” sê Izak de Vries, Lapa se bemarking- en kommunikasiebestuurder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Haidarslaiblar ·

Ek dink julle moet darem bysê dit kos BAIE geld. Jitte! Ek kannie gló wat ek lees nie. Dadelik laai ek die app af. Kies n boek…….R400.00. Aggenee julle, my hart is nou só seer. Dis so baie geld en ek ís so lief om te luister in plaas van lees. Nou wag ek maar weereens vir tweedehandse boeke om te koop. Ek weet dis baie werk ens. Groot asseblief dis darem regtig duur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.