Nuwe boek: As die wind kom draai

Hans du Plessis

Sy draai weg van sy speurende blik, en saam kyk hulle af op die dal wat voor hulle tussen die berge lê. Die vroeë son maak dit nog geler, maar dit is ‘n sagte geel. Die lang gras buig biddend in die effense wind. In die kloof agter hulle fluit ‘n fisant.

Dit is 1844. Die poiniersplaas, waar Vryheid en Magriet uitstaar oor die wuiwende veld, is drie uur te perd van Potchefstroom se skaars meer as twintig huise. Die wêreld is ongetem en nuut; van reg en orde is daar nog kwalik sprake. Die twee jonges is ook salig onbewus daarvan dat dit juis die wette is wat vir ‘n fatsoenlike gemeenskap moet sorg wat in die pad staan van hul ontluikende liefde, en dat die grootste hindernisse op die weg van die hart in hul eie bloed lê.

Soos in sy roman Die pad na Skuilhoek loop Hans du Plessis met As die wind kom draai op die spore van die vroeë Voortrekkers die onverkende tegemoet, en bring ‘n verhaal wat soos rosyntjiebos opspruit uit hierdie land se harde grond.

Oor die outeur:
Hans du Plessis is ‘n woordmens van formaat: taalkundige, skrywer, digter, navorser, akademikus en dramaturg. Hy is gebore op 15 Januarie 1945 in Pretoria en het sy studies aan die Harvard-Universiteit voortgesit na hy sy doktorsgraad in Afrikaanse Taalkunde in 1975 voltooi het. In 1990 is hy as die eerste direkteur van die ATKV -skryfskool aangewys – ‘n posisie wat hy tot 2012 beklee het. Hy ontvang verskeie pryse vir sy skryfwerk onder meer die C.R. Swart-prys, die ATKV-kinderboekprys en ‘n erepenning van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Du Plessis het groot bekendheid verwerf met sy bundels Griekwagedigte en in 2002 wen sy topverkoperbundel Innie skylte vannie jirre: Griekwapsalms en ander gedigte, die Christelike Boekhandelvereniging van Suid-Afrika se Algemeen Christelike Kategorie.

Uitgewer: Tafelberg
Prys:n R195-00*
*prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.