Nuwe boek: Die onsienlike son

Jacobus van der Riet

Die bundel bevat ’n vyftigtal sonnette wat uitsluitlik oor heiliges handel en in dié opsig aansluit by die digkuns van Sheila Cussons. Die verse is religieuse meditasies oor die lewe en werk van heiliges waarvan ’n hele aantal ook bekend sal wees vir lesers met ’n Protestantse agtergrond. Ander is egter weer onbekend vir die gemiddelde Afrikaanse leser, maar kort biografiese sketse word as toeligting verskaf. ’n Aantal oorspronklike ikone van die heiliges word in die bundel opgeneem en help skep aan ’n sfeer waarbinne die gedigte verstaan en ervaar moet word. Die streng sonnetvorm stel hoë eise aan die digter, en in hierdie debuutbundel toon Van der Riet dat hy oor die vakmanskap beskik om nie slegs binne die bestek van veertien reëls ’n klein wêreld te herskep nie, maar ook om die leser te nooi om die afstand te oorbrug en te besin oor die raakpunte van die heiliges met sy of haar eie leefwêreld:

Die Heilige Alipi van die Grotte van Kiëf (oorl. ong. 1114 n.C.)
Soos iemand wat na ‘n tekening soek op ‘n grot se wand,
met fakkellig wat dans en oor klip en lyn en kleure speel,
verlang Alipi dat u beeltenis, Heer, in sy hart mag brand
waar hy voor ‘n esel sit met sy kwas, pigment en eiergeel.

Hoe sal hy u onmeetlike majesteit en liefde vas kan vang,
hoe met dun en egalige hale u neus en mond en ore trek
en, met lig deurspek, die ronding van u voorkop en wang,
sodat u aangesig ons verwondering en aanbidding wek?

Oor die outeur:
Dr. Jacobus van der Riet is nie slegs geskool in Klassieke Grieks nie, maar is ook ’n geordende priester in die Grieks Ortodokse Kerk. Hy is werksaam as bibliotekaris vir die Johannesburgse Metropolitaanse Raad.

Uitgewer:Protea Boekhuis
Prys: R160-00*
*prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.