Nuwe boek: Die Rebellie 1914–1915

G.D. Scholtz

Hierdie herdruk van G.D. Scholtz se 1942-publikasie verskyn kort voor die 100-jarige herdenking van die Rebellie van 1914. In Scholtz se deeglike oorsig oor die Rebellie gegee word gebruik gemaak van die indertydse regering se blouboeke wat onder andere die verslae van die Parlementêre en Regterlike Kommissies van Ondersoek na die oorsake van die Rebellie bevat het, asook die herinneringe van deelnemers aan die Rebellie en ’n Duitse bron oor die veldtog in die toenmalige Duits-Suidwes-Afrika.

Volgens Scholtz moet die oorsake van die Rebellie herlei word na die Anglo-Boereoorlog en die meeste Afrikaners se ongemaklike verhouding met die Britse Ryk. Ná die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog is die kommandomagte opgekommandeer. Die regering van genl. Louis Botha het nie duidelik gemaak of slegs vrywilligers gebruik sou word om die Duitse gebied in te val nie, en baie burgers was onwillig om die Britse Ryk se oorlogspoging in Suidwes-Afrika te ondersteun.

Aandag word gegee aan die uitbreek en verloop van die gewapende opstand, die dood van genls. De la Rey en Beyers en genls. Maritz en Kemp se ondersteuning van Duitse troepe. Die belangrikste gevolg van die Rebellie, wat ’n militêre mislukking was, was egter ’n herlewing van die republikeinse ideaal onder Afrikaners.

Oor die outeur:
Dr. G.D. Scholtz was ’n gerekende historikus en navorser wat oor die Anglo-Boereoorlog, leiersfigure soos genls. C.F. Beyers en Hertzog en die toekoms van die klein Afrikaanse volk geskryf het. Hy is in 1982 oorlede.

Uitgewer: Protea Boekhuis
prys: R180-00*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.