Nuwe boek: Diva

Isa Konrad

Diva is een van die spanningsromans van die jaar by LAPA.

Een na die ander word mense in die vermaaklikheidswêreld vermoor. Dan word een van die wêreld se voorste soprane ‘n verdagte, maar Janek Baptiste, die leier van ‘n spesialespeureenheid, besef iets is nie pluis nie. Of dink hy dalk nou met sy hart, en nie sy kop nie?

Deborah Deysel is ‘n suksesvolle operasangeres in Zürich – oorspronklik van Suid-Afrika – met geraamtes in haar kas. ‘n Bekende dirigent, met wie Deborah ‘n verhouding gehad het, word vermoor. Dié moord en ‘n geheime opname van ‘n opera – aria bring Deborah en Janek Baptiste se wêrelde in botsing met mekaar.

Uiteindelik word ‘n hele aantal mense vermoor terwyl die leser vasgenael sit om uit te vind wie dit gedoen het.

Chanette paul, wenner van die 2012 Lekkerlit-kompetisie en LAPA se manuskripontwikkelaar, sê van Diva: “Henning Mankell, Fred Vergas, staan opsy. Hier kom Isa Konrad. Die manuskrip is gesofitikeerd, gekultiveerd en tog menslik en deernisvol. Isa Konrad is die skrywer met die fynste waarnemingsvermoë wat ek nog teëgekom het. Die humor is ragfyn, die karakterisering skitterend en die ruimtebelewing en beskrywing fenomenaal. Die beelding is uit die boonste van die boonste rakke.”

Oor die outeur:
Isa Konrad het in Namibië grootgeword. Na skool het sy Switserland toe geëmigreer. Sy het jare lank in Zürich gewoon, dar getrou en met ‘n gesin begin. In 2001 het die gesin Suid-Afrika toe geëmigreer en in Pretoria gewoon. In 2002 het Isa ingekryf vir ‘n kretiewe skryfkursus. Dit het tot die publikasie van haar eerste romanse, Die langste nag, gelei. Daarna het sy nog sewe romanse geskryf.

Na agt jaar in Suid-Afrika is die gesin in September 2008 terug Switserland toe. Hulle woon tans in Solothurn, ‘n barokstad op die Aare-rivier, maar besit ook ‘n huis in die Penniniese Alpe naby die grens van Italië. Isa verdeel haar tyd min of meer gelykop tussen die twee woonplekke.

Haar tweede vollengte roman, Die soenoffer, was ‘n finalis in die ATKV-prys vir spanningsroman in 2012. Met Diva betree sy ‘n sofistikasie wat net ‘n handjievol Suid-Afrikaners nog in hierdie genre bereik het.

Uitgewer: LAPA uitgewers
Prys:R195-00*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.