Nuwe boek: ‘n Man van min belang

deur Chris Karsten

“Wanneer laas het jy aan jou pa gevat?” Hy haal sy skouers op. In ’95 in die Wimpy. Dis wanneer hy laas aan sy pa gevat het. En sy pa aan hom. Sy pa het vir hulle hamburgers bestel en oor die tafel na sy hand gereik en dit vasgehou en vir miskien tien sekondes het sy hand knus en warm soos ‘n klein diertjie in die groot hand van sy pa gelê. Hy was verras deur die dié onverwagse intieme vertoon van geneentheid, want sy ma het altyd gesê: “Jou pa is nie van die demostrateiewe soort nie. Hy’s nie vatterig nie.” Maar daardie aand in die Wimpy het sy pa sy hand vasgehou. Die laaste keer. Die volgende dag het hulle die tyding van sy dood gekry.

Op ‘n fynbosplaas in die Langkloof word die oorskot van vier jongmense gevind. Onder dié wat antwoorde soek, is die amper-afgetrede joernalis Luther van die Struggle-veteraan Mosman. Mosman is die direkteur van ‘n obskure intelligensieafdeling, bemoeid met die identifikasie van die doodsnikke van apartheid, en die opsporing van hul moordenaars. ‘n Naam in ‘n sprokiesboek lei hulle na Luca Thom, mariene bioloog en seun van die polisieberader Eddie Thom, en na die jaar toe Luca sy pa verloor het.

Oor die outeur:
In 2008 het Karsten die ATKV-Prosaprys vir sy debuutroman, Frats, gewen. Seisoen van sonde is bekroon met die ATKV-prys vir spanningslektuur en was op die kortlys vir die M-NET-filmtoekennings. Vir Abel se Ontwaking het Karsten die ATKV-prosaprys en die ATKV-prys vir spanningslektuur ontvang. Hy is ‘n ervare oudkoerantman (Beeld, Volksblad en Rapport) en skrywer van twee kinderboeke (Floris sapiens en Die jokkie wat met perde kan praat), sowel as Human & Rousseau se Ware misdaad-reeks. Hy en sy gesin woon deesdae in Kanada.

Uitgewer: NB Uitgewers
Prys:R199-95*
* Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.