Nuwejaarsboodskap: Onder Sy Hand word ons verskilmakers

(Foto: Mariam Soliman/Unsplash)

Deur Esté Geldenhuys

 Ons leef in opwindende en uitdagende tye. Daar is soveel aspekte van ons lewe in Suid-Afrika waaroor daar elke nou en dan rooi ligte wil flikker en dan is daar steeds die wêreldwye Covid-19-pandemie. Wat sou 2021 vir ons inhou?

Daar is Ou Testamentiese helde wat enorme uitdagings man-alleen moes oorkom, van wie ons soveel kan leer.

Moses het veertig jaar lank as ʼn Egiptiese prins in die paleisgange van Farao grootgeword en geleef. Maar toe slaan hy ʼn Egiptenaar dood om sy eie mense te beskerm en hy moes vlug. Die volgende veertig jaar sou hy by berg Sinai leef – ʼn berg wat later vir hom baie diep betekenis sou kry na sy eerste ontmoeting met YHWH op hierdie selfde berg. Dit sou veertig jaar neem voor ons Vader geweet het dat Moses gereed was om die laaste veertigjaarsiklus van sy lewe aan te pak.

Moses het egter hoegenaamd nie kans gesien vir hierdie opdrag nie. In Eksodus 4:13, na Elohim alles vir hom verduidelik het oor hoe Hy hom sal ondersteun, vra Moses dat Hy asseblief enige iemand anders sal stuur, net nie vir Moses nie. Tog was dit hierdie selfde Moses wat volgens Eksodus 14 by die Rooi See sy staf opgelig het en gesien het hoe die Almagtige ʼn pad in die see oopskuif sodat die volk deur die see kon stap na die buurland toe.

Wat het met Moses gebeur tussen Eksodus 4 en Eksodus 14?

Moses het die Almagtige Skepper-God leer ken. Hy het Hom eerstehands leer ken. Hy kon nie eers ʼn Bybel raadpleeg nie, want die eerste vyf boeke van die Bybel wat later as die Pentateug sou bekend word, moes hy nog self in die woestyn loop skryf.

Nee, Moses het in ʼn voltydse gesprek met sy Skepper gegaan. Na hulle begin praat het, het hulle nooit weer opgehou nie. Moses het Hom eerstehands leer ken. Boonop het Elohim Moses so sagkens ingetrek. Met verdrag het Moses besef dat hierdie God met wie hy te make het, betroubaar is en dat Hy waaragtig groter was as al die gode van Egipte tesame. Hulle verhouding het so intens geword dat Moses later sy Skepper moes vra om Sy plan te verander en nie die volk te versaak nie, en ons Vader het na hom geluister.

As ek en jy daarby kan kom om Moses se soort verhouding met ons Skepper te begeer en alles in te gooi om dit te ontdek, sal dit nie net Elohim wees wat vir ons ʼn verskil maak in 2021 nie, onder Sy Hand sal ons self verskilmakers word.

  •  Laat u Naam geheilig word is deur Lux Verbi, ʼn druknaam van NB-Uitgewers, uitgegee. Lees meer oor die boek hier op Maroela Media.
  • Die podsending en boodskap word in samewerking met Lux Verbi en die skrywer aangebied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.