‘Om stadig te lewe’

stadiger-lewe

Foto ter illustrasie (Foto: Chiangmainews.co.th)

Hiermee die rubriek Om stadig te lewe deur Hennie van Coller wat in ʼn Pampoen vir Kersfees gepubliseer is.

Traagheid is een van die sewe doodsondes. Tereg, want dit is verwant aan luiheid. En luiheid, so weet ons, is die duiwel se oorkussing. In luilekkerland rus jy op jou louere, werk niemand nie en raak jy later so arm soos ’n luis op ’n kam.

Geen wonder nie dat toe Adam en Eva uit die paradys geboender is, hulle dadelik hul brood moes verdien in die sweet van hul aanskyn. Die Marxiste het dit nie veel beter nie: Jou arbeid is belangrik om die Utopia hier op aarde te vestig.

Dit is seker die rede waarom die arbeider altyd in die sosiaal-realistiese skilderkuns verheerlik word. Is dit nie ’n boer of padwerker nie, dan is dit ’n mynwerker of klipkapper wat uitgebeeld word. Altyd heroïes, altyd asof hulle brand om verder te gaan werk.

Om traag en lui te wees, is in ons denke gelyk daaraan om stadig te wees. Jy steek jou graaf in die grond, oorskou die akker wat omgespit moet word, toets die hardheid van die grond, wikkel die graaf stadig op en af en kyk dan of dit jou gewig kan hou. Nou sit jy jou voet op die graaf, druk liggies en jy slaag uiteindelik daarin om ’n koppie vol grond los te spit.

Of jy gaan sit voor jou lessenaar. Eers tel jy die skuifspelde stadig, toets dan alle potlode sorgvuldig vir skerpheid en sorg dat alles presies haaks staan. Soos ’n veldheer neem jy bestek op van rekenaar, drukker, telefoon en die “in-mandjie”. Na dese rus jy ’n wyle, sug by voorbaat, doen ’n paar ontspanningsoefeninge en trek dan die rekenaar rustig nader.

In ons era gaan dinge vinnig. Terwyl jy werk toe ry, eet jy gou jou energiestafie en piesang. Jy vleg deur die verkeer met een hand op die stuurwiel. Met die ander hand stuur jy behendig ’n SMS aan jou kinders wat nog lê en slaap. Jy bel solank na die sekretaresse se antwoordmasjien en sit haar take en prioriteite uiteen terwyl jy terselfdertyd gou skeer.

Jou selfoon lui om jou te herinner aan jou vrou se verjaardag. Geen paniek nie. ’n E-pos aan die bloemiste, ’n aanlyn betaling en ’n virtuele soentjie aan vroulief word saam die kuberruim ingestuur. Dan volg die isometriese oefeninge by elke rooi verkeerslig en die roman waarna jy luister – om darem ’n gebalanseerde lewe te lei waarin daar ook plek is vir kultuur – word op vinnige spoed gestel.

By die werk hardloop jy die vier stelle trappe op. Om kardiovaskulêre oefeninge by te bring én om tyd te spaar. Jy sif vinnig deur die aansoeke vir die vakante betrekking en kies dié wie se aansoek die kortste is óf wat hul kwalifikasies die gouste verwerf het. Vir mense met ’n oormaat tyd tot hul beskikking het jy nie tyd nie. Tyd is geld.

Ek lees onlangs ’n artikel deur wyle Paul Cilliers, die filosoof oor die voordele van funksionele tydsaamheid, stadigheid of traagheid. Baie mense het weliswaar “slow cookers”, maar hulle staan waarskynlik in diens van ’n vinnige bestaan waar daar kwalik tyd is om kos te maak. “Slow food” daarteenoor is om kos rustig voor te berei, bestanddele sorgvuldig uit te kies en tydsaam disse te skep wat smaaklik én voedsaam is.

Baie moderne wêreldstede bemark hulself deesdae as “Stadige stede”. Stede wat jy deeglik as voetganger moet verken, rustig elke versteekte binneplasie moet ondersoek en stadig jou eie maak. “Stadige onderwys” is ’n alternatiewe vorm van opvoeding wat beklemtoon dat kennis kontekstueel verankerd behoort te wees en dat onderwys ook ’n proses is.

“Stadige seks” het niks te make met seks na sewentig nie; dis die besef dat die reis veel belangriker is as die bestemming.

’n Rit op ’n grondpad waar jy noodgedwonge stadiger moet ry, is dikwels ook een wat interessanter is. In die Baviaanskloof sien jy skielik weer skilpaaie, hoor jy voëls, orden jy gedagtes. Skielik verbeter jou geheue en onthou jy nie net bykans vergete dinge nie; jy begryp die belang daarvan én jy reflekteer.

Cilliers praat van hierdie traagheid as ’n etiese vereiste, selfs ’n voorvereiste om volledig mens te wees.

***

ʼn Pampoen vir Kersfees is ’n versameling van die rubrieke wat Hennie van Coller die afgelope 20 jaar vir Volksblad skryf. Dit is in 2020 deur Naledi uitgegee.

Prys: R240-00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek nou by 
Naledi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.