‘Om teen treine te skree’ want tieners wil gehoor word

Tieners wil graag gehoor en aanvaar word. Hierdie stem mag nie onderskat word nie en is uiters waardevol.

Só sê Tanya Viviers, ervare Afrikaanse onderwyser en dramakenner wat die samesteller van die dramabundel, Om teen treine te skree, is.

Dié bundel bestaan uit 11 nuutgeskrewe dramas wat uitbeeld hoe tieners as jong volwassenes hul identiteit in die samelewing probeer te vestig.

Ongelukkig is daar ook struikelblokke tydens die reis na volwassenheid.

Talle aktuele temas word aangeroer. Onder die bekende skrywers wat bydraes gelewer het, is Fanie Viljoen, Deidré Jantjies, Jaco Jacobs en De Wet Hugo.

Die bundel is ʼn toonbeeld van diversiteit.

So is daar die wyse vrou van die Namas wat gedroom het dat ʼn kind met ʼn geboortevlek wat soos ʼn reënblom lyk, die gawe sou hê om met die reën te praat. Verder lees ons van stilstuipe, asook ʼn negatiewe atmosfeer wat in ʼn huishouding heers. Ook die sensitiewe kwessie van ʼn egskeiding word belig.

Komiese verligting word gebied wanneer Charlize Theron ʼn restaurant “besoek” wat vol bespreek is en kelners wat behoorlik “star struck” is.

Die tekste is op so ʼn wyse geskryf dat dit opgevoer kan word met dialoog en aanwysings oor rekwisiete en dekor.

Volgens die uitgewer is die bundel geskik vir gr. 7 tot 9 Afrikaans Huistaal, asook gr. 10 en 11 Afrikaans Eerste Addisionele taal.

Maroela Media het met die samesteller gesels om uit te vind hoe Tanya te werk gegaan het om tekste vir die bundel, waarvoor sowat 40 voorgelê is, te kies?

“Ek het namens NB Uitgewers se druknaam Best Books, ʼn uitnodiging aan skrywers en aspirant-skrywers gerig om nuutgeskrewe dramatekste vir moontlike publikasie voor te lê wat geskik is vir die skolemark.

“Dit gee vir leerders ʼn ander soort vryheid as om net na ʼn teks te kyk en dit te lees, of om na ʼn fliek te kyk. Daar is nou interaksie tussen die leerders wat die karakters vertolk.

“Al die dramas moet geskik wees om in die klaskamer as deel van die letterkunde-komponent van Afrikaans behandel en bestudeer te word. Dit beteken dat leerders nou kennis maak met dramas en nie net meer beperk is tot die bestudering van kortverhale en filmstudie nie.”

Sy het gefokus op elemente soos tema, intrige, karakterisering, handeling, dialoog, innerlike en uiterlike konflik, die bou van ʼn drama, vorm (tragedie, komedie of melodrama) en die styl (realisties, magies-realisties, naturalisties, simbolies, absurd of epies).

Skrywers is dus aangemoedig om ʼn verskeidenheid tekste te skep en is ook toegelaat om meer as een manuskrip vir keuring voor te lê.

Hulle is nie tot sekere temas beperk nie en kon self die temas kies.

Dit was van kardinale belang dat die tekste moes voldoen aan die kurrikulumvereistes vir Afrikaans Huistaal en Eerste Addisionele Taal van die departement van basiese onderwys wat inhoud en formaat betref.

“Die verskeidenheid dramas met aktuele en universele temas maak dit ʼn uitsonderlike bundel wat aangewend kan word vir verhoogoptredes en vir kunswedstryde.”

Die gehoor sal met die onderskeie karakters in hierdie dramas kan identifiseer omdat die kwessies, dilemmas en situasies wat uitgebeeld word, tipies van die menslike bestaan is. Sommige dramas bevat weer magiese of komiese elemente.

Deidré Jantjies het “Die Reënblom” geskryf, wat in die bundel ‘Om teen treine te skree’ verskyn. (Foto: Verskaf)

Haar gunstelingbydrae is “Die Reënblom” deur Deidré Jantjies.

“Hierdie verrassende en inheemse drama vertel die verhaal van die Namamense in die Richtersveld se smagting na water. Wanneer ʼn kind met die merk van die reënblom gebore word, is sy die een wat vir die ouer mense uitkoms bring.

“As jong vrou gaan Reënblom namens haar volk op ʼn soektog na die ewig-ontwykende Reën. Wanneer sy hom vind, deel hy haar mee dat hy kwaad is vir haar mense wat nie die waterseëninge waardeer nie.

“Sy kry dit reg om as tussenganger vir Reën te oortuig om weer die gawe van reën met haar mense te deel. Haar mense het nou geleer om water te eer en te waardeer.”

Tanya sê hierdie teks herinner aan Eugène Marais se gedig: “Dans van die reën” en is uiters kreatief en verbeeldingryk.

“Dit is veral betowerend wanneer Reënblom vir Reën sing en dans wanneer sy hom besoek. Dit laat Reën weer lag en hy neurie selfs saam.”

Tot dusver is die terugvoer positief. Sy meen dat hierdie bundel werklik ʼn eerste van sy soort in dié sin is dat dit ʼn leemte vul wat tot nou toe bestaan het.

Daar is eenvoudig nie iets soos ʼn versameling nuutgeskrewe Afrikaanse dramas in een bundel beskikbaar wat spesifiek vir die skolemark geskik is nie.

Hoe voel sy oor Afrikaans se toekoms?

“Ek voel positief oor Afrikaans. Daar is ʼn behoefte aan en ʼn volwaardige plek vir Afrikaans. Afrikaans se gebruikers voel sterk oor hul taal en kultuur en solank ons kleinkinders aanhou om die taal te gebruik en te geniet, glo ek dit sal aanhou groei en ontwikkel.

“Afrikaans staan akademies sterk en word tot op die hoogste vlak onderrig. Afrikaanse letterkunde staan sy plek vol; selfs ook op die internasionale speelveld. Dit is ʼn taal wat tred hou met verandering en wat saam met sprekers en hul behoeftes groei.

“Dit is ʼn lewende en ontwikkelende taal waarin daar voortdurend geskep word. Solank ons aanhou met die herstandaardisering van Afrikaans, voorsien ek ʼn soliede toekoms vir ons taal.”

Tanya het haar onderwysloopbaan by Rhenish Girls’ High School in Stellenbosch begin waar sy Engels Huistaal, Afrikaans Huistaal en Afrikaans Eerste Addisionele Taal onderrig het. Hier skep en skryf sy die suksesvolle kabaret, Halala Afrikaans, waarvan sy ook die regie behartig het.

Later sluit sy by die Joy American School of English in Taiwan aan waar sy Engels as vreemde taal onderrig en ook Sake-Engels aanbied.

Daarna het sy die regie van verskeie tienertoneelstukke aan die Hoërskool Parel Vallei behartig waar sy die departement van dramatiese kunste gestig het.

Tanya het gereeld opvoedkundige artikels vir die destydse Huisgenoot boeke-afdeling geskryf. Sy het ook in opdrag van verskeie gevestigde uitgewers, wat deel is van die Media24-groep, talle studiegidse geskryf.

Tanya Viviers, samesteller van die dramabundel, ‘Om teen treine te skree’. (Foto: Verskaf)

Sy was onder meer vir 22 jaar lank ʼn beoordelaar by die Helderberg, Kaapstad Internasionale en die Tygerberg Internasionale Eisteddfods asook by verskeie ATKV toneel- en redenaarskompetisies.

Sy is in 2017 deur Tafelberg Uitgewers aangewys as ʼn lid van ʼn paneel van drie beoordelaars in die Sanlam Jeuglektuur-kompetisie.

“Dis my roeping om met jongmense te werk. Dit is vir my belangrik dat die jeug gehoor moet word en dat hulle die geleentheid gegun moet word om hulself uit te leef.”

Sy vind die wysheid van die moderne tiener inspirerend en dit bly vir haar ʼn onuitputbare bron van kreatiwiteit.

Tanya is van kindsbeen af betrokke by die vermaaklikheidsbedryf en het onder meer insette vir televisie en radio gelewer. Haar liefde vir reis het tydens haar kinderjare begin toe sy as lid van die Tygerbergse Kinderkoor plaaslike en internasionale reise en kompetisies kon meemaak.

Sy is tans as Afrikaans opvoeder verbonde aan die Deutsche Internationale Schule Kapstadt.

Om teen treine te skree kos R290 (prys onderworpe aan verandering). Klik hier om die boek by Graffiti Boeke aan te skaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.