Omnibusse vir kinders

Grafika: Kidaha/Pixabay

Hoe gemaak wanneer jy graag jou vir jou leesgierige kinders hulle gunstelingskrywers se boeke wil aankoop, maar jou beursie is plat? Uitgewers besef maar te goed dat die ekonomie knyp en dat lesers nie aldag geld het om aan boeke te spandeer nie. Omnibusse is die antwoord om kinders aan die lees te hou wanneer die sente omgedraai moet word.

Deur ’n paar boeke saam uit te gee, word kostes so laag as moontlik gehou. Vir lesers is dit natuurlik goeie nuus, want hulle voeg sommer op een slag ’n handvol boeke deur hulle gunstelingskrywer(s) by hulle versameling. Hier volg ’n kort opsomming van slegs enkele omnibusse wat tans in die handel beskikbaar is.

’n Kas vol monsters-omnibus (Jaco Jacobs)

Hierdie boeiende stories deur sekerlik die gewildste en mees suksesvolle kinderboekskrywer in Afrikaans beloof ure se leespret. Kinders sewe jaar en ouer gaan heerlik ril en gril vir hierdie anderste stories wat jou hare behoorlik laat regop staan maar jou ook laat skater van die lag. Die omnibus bestaan uit 240 lekkerleesbladsye met talle kleurvolle illustrasies deur die talentvolle Chris Venter. Die ses titels wat by hierdie monsteragtige omnibus ingesluit is, verklap reeds dat die jongspan die boek nie maklik sal kan neersit nie. Laat hulle dit liefs oor ’n naweek lees wanneer daar nie skool is nie.

Die groen hand

Denver-hulle trek in ’n nuwe (ou) huis in. Daar is ’n lelike, ou hangkas in Denver se nuwe kamer. Saans skarrel iets vreemds uit die kas uit. Sal enigiemand vir Denver glo as hy hulle daarvan vertel?

Vampierfoto’s

Denver en die buurseun, Meyer, beplan om die nag in ’n boomhuis deur te bring, maar dan gewaar hulle vreemde ligte in Denver se kamer. Hulle stel ondersoek in en kom op iemand (of is dit iets?) af wat besig is om foto’s met ’n kitskamera te neem.

Hollywood-mummie

Denver en Meyer moet tot hulle erge verleentheid twee dansende dolfyne in die skoolkonsert speel. Maar dan loer daar iemand uit Denver se hangkas uit wat droom van ’n romantiese hoofrol. Sal Denver en Meyer haar kan help om ’n rol in ’n Hollywood-fliek los te slaan?

Weerwolfprobleme

Wat presies wag vir Denver en Meyer agter die toe deur waarop “Pasop vir die weerwolf!” staan? En wat het dit te doen met Denver se hond wat vlooie het?

Die perfekte monster

Denver en Meyer moet iemand help om ’n spesiale vriendin te kry, maar dis moeilik om die regte meisie op te spoor wat hulle vreemde vriend se belangstellings deel.

Kinderspeletjies

Meyer gaan een van die dae ’n babasussie kry. Dis dalk ’n goeie idee dat hy en Denver intussen ’n babatjie oppas om solank te oefen. Maar o wee, hulle het nie verwag dat dit só baie moeite is om ’n babatjie op te pas nie!

Koop ’n Kas vol monsters-omnibus by Graffiti Boeke

Zackie Mostert-omnibus 3 (Jaco Jacobs)

Duisende kinders is absoluut mal oor Zackie se skreeusnaakse avonture. Vier van die heel beste Zackie-stories verskyn in hierdie omnibus van 228 bladsye. Daar is ook ’n lekkerlag Zackie-grapboek as ’n wonderlike pasella. Zackie en sy maats sorg altyd vir hope pret, avontuur en natuurlik kattekwaad. Alex van Houwelingen het vir die gedetailleerde wit en swart illustrasies gesorg. Die omnibus word aanbeveel vir kinders nege jaar en ouer en beloof lekkerleespret vanaf die eerste bladsy.

Zackie Mostert en die katkrisis

Die kwaai mevrou Langenhoven vra vir Zackie en Vincent om vir ’n paar dae na haar geliefde kat, Katinkatjie, te kyk terwyl sy by haar suster gaan kuier. Die hooghartige Katinka-kat gee die twee maats omtrent opdraande.

Zackie Mostert en die vreeslike verjaardag

Vincent verjaar en Zackie reël vir hom ’n verrassingspartytjie. Maar Anton, die skool se grootste boelie, hou sý verjaardagpartytjie op dieselfde dag!

Zackie Mostert en die super-stinkbom

Zackie en Vincent wil nie meer in die skoolkoor sing en op die koorkamp gaan nie. Boonop moet hulle met Anton afreken wat hulle “koormeisies” noem.

Zackie Mostert en die slim speurder

’n Bekende sangeres se halssnoer word gesteel en Zackie kry die kans om sy lyf speurder te hou.

Zackie Mostert en die Groot Grapboek

Zackie en Vincent skryf ’n boek vol skreeusnaakse grappies wat jou laat lê soos jy lag.

Koop Zackie Mostert-omnibus 3 by Graffiti Boeke.

Die groot Jaco Jacobs-storieboek (Jaco Jacobs)

Die immergewilde Jaco Jacobs het al meer as ’n miljoen boeke verkoop en het dus ’n lesersgevolg soos min. Sy nuwe omnibus van 200 bladsye bevat vyf skreeusnaakse stories vir kinders sewe jaar en ouer. Ek voorsien dat gretige lesertjies hierdie oulike stories oor en oor sal wil lees, want dis propvol fantastiese verhale wat die verbeelding oortyd laat werk. Stephen Wallace, Chris Venter en Elsabé Milandri het vir die pragtige illustrasies gesorg wat die stories behoorlik laat lewe.

Koebaai, gorilla

Hein gaan ’n stink ruiltransaksie met sy beste vriend aan wat ongelukkig onwelriekende gevolge het.

Superboetie

Ryno reken dis ’n absolute pyn om ’n superheld in die huis te hê, want wie steur hulle nou aan doodgewone hom as die superheld in die omtrek is.

Borrels

Die nuwe meisie dra skulpe en seesterre in haar hare en bring haar goudvis, Walter, skool toe. Wat is haar geheim?

Pasop vir die feetjies

Pieter en Dieter dink dis ’n groot grap toe hulle ’n hele bottel vol Feetjie-Vlug-Formule in die gat in die eikeboom gooi. Hulle sê egter behoorlik les op toe twee woedende feetjies besluit om by hulle in te trek.

Die probleem met dinosourusse     

Dis beslis nie maklik om dinosourusse as maats te hê nie. Hulle is dalk groot pret en alles, maar o genade, hulle beteken ook groot moeilikheid.

Koop Die groot Jaco Jacobs-storieboek by Graffiti Boeke

Stalmaats-omnibus 3 (Lize Roux)

Hierdie dik, lekkerlees-omnibus van 288 bladsye word voorgeskryf vir kinders 9 jaar en ouer. Kinders wat van perde hou, sal die boek nie kan neersit nie. Anri en haar maats het hope pret en opwinding by die Dagbreek-ryskool. Die stories is modern, vars en oorspronklik en die spitsvondige dialoog stel nie teleur nie.

Sirkusperde

Die sirkus is op pad en daar is beweringe dat die sirkusdiere mishandel word. Anri en haar maats besluit om die beweringe te ondersoek.

Afskeidsrit

Dis die laaste Stalmaats-Saterdag van die jaar en die maats beplan ’n afskeidsrit en piekniek in die veld. Maar nou wil Vinette haar verjaardagpartytjie op dieselfde dag hou.

Perdespeurders

Karen nooi vir Anri om die vakansie saam met haar op haar tannie, wat met miniatuurperdjies boer, se plaas te gaan kuier.

Rivierperde

Die vakansie is verby en Anri en haar maats is nou in graad 7. Iets is egter nie pluis nie – die gewoonlik katterige Vinette is dan meteens katvriendelik.

Stormnag

Die ryskooleienaar se seun, Jacques, nooi vir Anri om hom na die Valentynsdans te vergesel. Maar o wee, alles loop skeef vir Anri. Gelukkig tog kom haar maats tot haar redding.

Koop Stalmaats-omnibus 3 by Graffiti Boeke

Sanri Steyn-omnibus 1 (Theresa van Baalen)

Daar is sowaar vier heerlike Sanri Steyn-stories in hierdie omnibus van 296 bladsye wat vir kinders nege jaar en ouer bedoel is. Johann Strauss het vir die mooi illustrasies in die boek gesorg. Daar is al meer as 21 500 kopieë van die gewilde Sanri Steyn-reeks verkoop. Dié blitsblaaiers beteken ure se leespret, want dit is propvol avontuur en humor. Sanri wil graag eendag ’n superjoernalis word en het selfs haar eie koerant, die Raaiselfontein Gazette. Sy het ’n neus vir ’n goeie storie en beleef saam met Markus, haar beste vriend, die een opwindende nuusstorie ná die ander.

Doktor Zombos se geheime formule

Daar is iets baie vreemds aan die gang in Raaiselfontein. Wat presies het die lekkergoedfabriek daarmee te doen? Hoekom waarsku ’n seuntjie vir Sanri om nie van die lekkergoed te eet nie?

Die aliens oorkant die straat

Die nuwe bure oorkant die straat ry met ’n supermoderne borrelmotor. Andra vertel dat hulle van Rusland is en dat haar pa ’n vlieënier is, maar Sanri se neus kriewel. Iets is nie pluis met die bure nie.

Die seun met die superkat-kragte

Sanri se nuwe klasmaat is eintlik ’n katmens wat ’n rot geruik het. Sanri hoop om ’n sappige katstorie vir die Raaiselfontein Gazette te skryf.

Die spookmeisie van Raaiselfontein

’n Vreemde ding gebeur – verskeie dorpenaars se brille raak op een dag weg. Spook dit dalk?

Koop Sanri Steyn-omnibus 1 by Graffiti Boeke

Sanri Steyn-omnibus 2 (Theresa van Baalen)

Nóg ’n dik Sanri Steyn-omnibus met drie wonderlike Sanri Steyn-stories in. Die omnibus beslaan 296 bladsye en word aanbeveel vir kinders nege jaar en ouer. Johann Strauss het weer vir die talle swart-en-wit illustrasies gesorg. Dié uiters gewilde reeks hou leesgierige kinders se aandag gevange met skitterstories wat propvol aweregse humor en opwindende avonture is. Daar skort beslis niks met die skrywer se lewendige verbeelding nie en haar boekverkope beaam dit.

Die monsters van Middernagstraat

Hoekom verdwyn die troeteldiere in Raaiselfontein? Het Sanri haar verbeel of het Claudia Müller se een skoothondjie vir ’n stonde lank verander in ’n monster met bloedbelope oë?

Die nag van die weerwolwe

Die nuwe meisie in Sanri se klas se naam is Chrissie de Wolfe. Daar is wraggies ’n rou steak in haar kosblik en sy koop vreeslik baie vleis by die slaghuis. Is dit moontlik dat sy dalk ’n weerwolf kan wees?

Die vampiere van Vlermuishoogte

Markus se nefie, Danté, en sy gesin bly in ’n geheimsinnige kasteel. Danté se pa en ma het ’n groot familiegeheim. Danté wil baie graag soos sy ouers wees en hulle geheim deel. Maar hoekom dink Danté se pa dat Markus eintlik sy opvolger moet wees?

Koop Sanri Steyn-omnibus 2 by Graffiti Boeke

SSS-omnibus 2 (Nerine Ahlers en Alet Steenkamp)

Wie hou nou nie daarvan om stories oor koshuisavonture te lees nie?! Hierdie superdik omnibus van 512 bladsye sal tieners van die eerste sin af bekoor. Dié reeks is baie gewild en die verkope uitstekend. Dis geen wonder nie, want die stories is allesbehalwe vervelig en is vol opwindende tienerpret en hope aksie. Die vyfstuks Lindie, Talita, Mia, Gina en Andrea vang nie net allerhande kattekwaad aan nie, maar hulle stel ook die nuutste modes en grimering op die proef en beleef die een avontuur na die ander. Natuurlik is daar darem ’n sweempie van romanse ook in die boek. Dis hedendaagse stories in moderne tienertaal.

Seesand, sonbrille en smokkelaars

Vyf sorgelose en luilekker dae op Seesterbaai. Voeg daarby twee sexy lewensredders en jy het die perfekte vakansie. Toe nie.

Spoke, speurders en straatkafees

Die vyf vriendinne spaar al twee jaar lank vir hulle Franse toer. Hulle kan nie wag om Parys, die modehoofstad van die wêreld, te verken nie. Maar wie is die geheimsinnige man op die lughawe wat vir hulle nes ’n kaper lyk?

Skaduwees, skatte en skelmstreke

Die nuwe skooljaar begin op ’n drafstap en almal skarrel om by hulle verpligtinge uit te kom. Lindie en Gina sluip een oggend douvoordag in die begraafplaas rond en sien iets wat enigiemand nagmerries sal gee.

Soene, sonroom en seestrome

Soms vang tieners mos maar goed aan wat hulle in die moeilikheid sal laat beland as hulle uitgevang word. Gelukkig slaan Mia ’n rol in ’n sepie los en kan die vriendinne as ekstras in hulle swemklere op ’n luukse boot rondlê vir ’n hele naweek lank. Maar ai, soms agtervolg die moeilikheid jou al soek jy nie daarvoor nie!

Koop SSS-omnibus 2 by Graffiti Boeke.

*Bogenoemde omnibusse word deur LAPA Uitgewers uitgegee en is by toonaangewende boekhandelaars beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.