Ongewone bundel oor geloof bekend gestel

‘n Ongewone bundel oor die aard en inhoud van geloof, getiteld Die braambos bly brand, is Vrydagmiddag by die Aardklop-kunstefees in Potchefstroom bekend gestel.

Die redakteurs, die teoloog dr. Chris Jones en die joernalis Pieter Malan, het ‘n wye verskeidenheid skrywers – gelowig en ongelowig – gevra om elk ‘n essay oor ‘n Bybelvers te skryf. Daar word geen onderskeid tussen die gelowiges en die ongelowiges se bydraes getref nie – dit word eerder chronologies ingedeel volgens waar dit in die Bybel voorkom.

Volgens Jones is dit nie vreemd om ongelowiges te laat skryf oor die Bybel of godsdiensbeskouing nie, omdat die kerk en veral die meer oopkop dominees baie kan leer ook by diegene wat die kerk verlaat het.

Die titel van die bundel, wat ook die titel is van die skrywer Wilhelm Jordaan se bydrae, verwys na die wyse waarop spiritualiteit en geloof dikwels bly voortbrand selfs as gebondenheid aan godsdiens en dogma nie meer daar is nie.

Een van die bydraers, die politieke wetenskaplike Piet Croucamp, het vertel hoe belangrik ‘n Godsbesef vir hom gebly het, en hoe rigtend die liefdesgebod eerder as ‘n spesifieke dogma in sy lewe bly.

Nog ‘n bydraer, die joernalis Erns Grundling, het vertel hoe inspirerend ‘n Bybelboek soos Spreuke vir hom is as ‘n letterkundige konstruk.

Geen teoloë is versoek om bydraes te lewer nie, wat ‘n vraag uit die gehoor laat ontstaan het of ‘n goeie opvolg nie dalk sou wees om teoloë te laat skryf oor kwessies, maar dat hulle nie na God of die Bybel mag verwys nie.

Die idee het onmiddellike aanklank gevind by die gehoor en die twee redakteurs, en dit wil voorkom asof ‘n saadjie in die verband gesaai is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Gelowige ·

Ek sit nou en wonder: kan olie en water meng? Of skaduwee en son? Of begin en einde? Of lui en fluks? Somer en winter? Of gesond en siek? Of dood en lewe? Blind en siende? Horende en doof? Gelowige en ongelowige? Jy kan dit seker probeer as jy baie, baie hard kan klits..maar dan skei dit uiteindelik tog weer en finaal. Die allerhoogste kan van Sy woord nié geskei word nié. Ons het hier nie te doen met die opinies van teoloë, letterkundiges, joernaliste of wie weet wie nie. Ons het te doen met die lewende God en Sy ewige woord. Lig en duisternis kan nie meng nie en dit is dit.

Koos ·

Dankie Gelowige, pragtig gestel!

Dit is inderdaad so, God of nie-God, lig of duiternis en niks tussenin nie – geen grys areas nie.
Net God kan nie-God wesens in God wesens verander met net die spreek van Sy woord.

Ferdinand ·

So, om bydraers te akkomodeer, word die bybel toe net as ‘n letterkundige werk beoordeel. Dit maak sin as ek so na een se naam kyk.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.