Oorsigresensie: Spanningsfiksie op sy beste

Ons Afrikaanse skrywers van spanningfiksie wéét hoe om lesers op die puntjie van hulle stoele te hou terwyl hul lustig naels kou.

Irna van Zyl en Rudie van Rensburg is slegs twee van ons baie talentvolle Suid-Afrikaanse skrywers wie se nuutste boeke ek die voorreg gehad het om te lees. Ek deel graag hier my indrukke sonder om té veel van die spannende storielyne te verklap.

Skaf gerus beide boeke aan – dis voorwaar prima leesstof deur skrywers wat deeglik in beheer is van hulle genres.

Bloedsteen

Irna van Zyl (Penguin Random House SA)

Irna van Zyl het reeds met haar vorige twee romans, Moordvis en Gifbeker, bewys dat sy ’n gerekende skrywer is wanneer dit kom by spanningsverhale. In Bloedsteen, haar nuutste krimi wat Maartmaand die lig gesien het, slaag sy meesterlik daarin om sterk en gelyklopende verhaallyne te balanseer en ook tydspronge bymekaar te trek.

Moord, diamante, protesaksies, mode en geloof is maar enkele van die temas in hierdie volronde, diggeweefde verhaal wat spog met goed gemotiveerde en geloofwaardige intriges. Ek het dit baie geniet om hierdie lekker dik boek van 384 bladsye te lees.

Die storie begin waar speuradjudant Storm van der Merwe se suksesvolle publicist ma, Rowena, voor ’n trein by Paddingtonstasie ingestamp word – dié insident dek die tafel vir ’n slim, kosmopolitaanse storie met heelwat kinkels in die spreekwoordelike kabel.

Klik hier om ʼn uittreksel uit die boek te lees.

Meer oor die outeur: Irna van Zyl woon in Kaapstad en skryf deesdae heeltyds. Sy was voorheen onder andere redakteur van De Kat, Insig en Boeke-Insig.

Bloedsteen is ook as e-boek en luisterboek beskikbaar. Bestel dit hier.

Vloek

Rudie van Rensburg (Queillerie)

Rudie van Rensburg is ’n gewilde en bekroonde skrywer van misdaadromans. Sy Kamikaze is in 2018 as die wenner aangewys van die ATKV Woordveertjie vir Spanningsfiksie. Die titels van sy ander krimi’s is Slagyster, Kopskoot, Judaskus, Pirana, Ys en Medusa. Slagyster, Pirana en Ys haal ook die kortlyste van verskeie benoemings.

In Vloek trakteer Van Rensburg sy lesers op die terugkeer van oudspeurder, Carl Bester, wat die leser reeds in Slagyster leer ken het toe hy verdwyn het met gesteelde geld waarop daar in ’n dwelmsaak beslag gelê is – dít nadat hy deur die nasionale adjunkhoof van die polisie en sy trawante geframe is as die grootkop van ’n wapensmokkelsindikaat.

Bester se kundigheid word egter nou benodig om ’n saak van internasionale belang op te los. In ruil daarvoor word hy gevrywaar van vervolging, én daar is ’n stewige geldpakket ter sprake. Dis makliker gesê as gedaan, veral as daar karakters uit die verlede is wat nie so maklik die strydbyl begrawe nie. Vloek is propvol vinnige aksie, wraak, troefkaarte, versoekings, en so meer. Ek het heerlik daaraan gelees.

Meer oor die outeur: Rudie van Rensburg woon in Kaapstad en skilder ook graag. Hy was voorheen joernalis by Die Volksblad, was mede-stigter en uitgewer van Bloemnuus en word ook die redakteur van Die Ekonoom. Hy werk later by Sanlam as senior bestuurder: reklame, uitgewer van Sanlamklub en hoof: borgskappe en promosies.

Vloek is ook as e-boek beskikbaar. Bestel die boek hier.

Meer oor die skrywer: Louise Viljoen

Louise Viljoen is ’n vryskutresensent van Jeffreysbaai.

Deel van: Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae