Oorsigresensie: Vrystories vir Valentynsdag

Argieffoto (Foto: lucas_pego/Pixabay)

Soms neem liefde tyd om te groei. Ander kere gebeur dit oombliklik. Hoe ook al sy, die liefde laat hom nie keer nie. Wat is dan nou lekkerder as om die liefde te vier met die lees van ’n liefdesverhaal wat jou hart warm laat klop en jou oë laat blink?

Die bekende liefdesverhaalskrywer, Alta Cloete, wat ook as Marilé Cloete skryf, reken dat romanses in Afrikaans nog heeltyd groei, ontwikkel en sterker word. “Kritiese lesers sal vind die stories is deesdae meer geloofwaardig, daar is minder misverstande en meer innerlike motivering vir karakters se keuses. Die helde en heldinne is nie meer so heeltemal beeldskoon en volmaak soos jare gelede nie. Ernstige, relevante kwessies word deesdae aangeraak – op ’n ligte manier, maar nooit ligsinnig nie. Romanses is een van die skadeloosste vorms van verslawing en uitstekende doepa teen die ellendes van ons tyd.”

Op liefde se drumpel

Elza Rademeyer (Melodie – Tafelberg Uitgewers)

Die inmengerige, preutse en eksentrieke tannie Gertruida trek onverwags sak en pak by Suzanne in haar woonstel in. Sy kyk Suzanne se vriend, Phil, ’n geoktrooieerde rekenmeester, deeglik deur en neem hom behoorlik onder kruisverhoor. Suzanne is bang dat Phil se liefde vir haar gaan begin kwyn as sy geduld met Gertruida opraak. Intussen maak Gertruida kennis met Suzanne se buurman, Herman. Suzanne het voorheen al van haar vriendinne aan Herman voorgestel, maar dié kon nie vattigheid aan een van hulle kry nie. Gertruida verstom haar aan die jongmense se papbroekerigheid as dit by die liefde kom.

Ek het kort-kort geskaterlag en my kop geskud oor Gertruida se skaamtelose pogings om vir Suzanne man te soek. Elza Rademeyer se gewilde liefdesverhale sluit onder meer in Mallemeule van die liefde en Die onwillige bruid.

Uittreksel: “Om liefde weg te steek, is nie maklik nie. Dis soos om sjampanje in ’n bottel te probeer terugdruk nadat die prop afgeskiet het.”

Droomberig

Luné Olivier (Satyn – Tafelberg Uitgewers)

Op ’n dag waai die wind vir Anelia le Roux teen Leon de Hanie, ’n spesialis in bedrogondersoeke, vas. Anelia is onmiddellik halsoorkop verlief op die uiters aantreklike navorser wat vertroulike kontrakwerk vir Nuus-Direk doen. Anelia droom nog altyd daarvan om in haar oorlede joernalis-pa se voetspore volg. Sy kwyt haar dan ook só goed van haar taak as programaanbieder en veldaanbieder by Délicieux dat sy ’n pos by Nuus-Direk aangebied word as nuusleser en joernalis. Dan vind Anelia tot haar skok uit dat Leon met sy eie ondersoek na haar pa se sogenaamde selfdood begin het en boonop die inligting aan die media verkoop het om sy loopbaan ’n hupstoot te gee. Sal sy ooit weer in die liefde kan glo?

Hierdie verhaal het my ’n blik op die opwindende lewe ágter die nuuskameras gegee. Droomberig is Luné Olivier (skuilnaam) se tweede boek. Ek voorspel dat hierdie skrywer ’n groot gunsteling onder lesers van liefdesverhale gaan word.

Uittreksel: “Dit was weer een van daardie drome waar hulle op die strand lê, haar lyf oor syne uitgestrek, sy lippe passievol op hare terwyl golwe teen hul warm lywe spat.”

Fransi en die filmster

Anita du Preez (Satyn – Tafelberg Uitgewers)

Fransi is ’n baie besige, befoeterde en praktiese vrou – sy bou immers rekwisiete vir filmstelle met haar pa se ou weermagstewels aan haar voete en ’n bonsende Black & Decker in die hand. Ná ’n slegte ervaring met Chris, reken sy dat verhoudings net tydmors is en hou sy haar nie meer op met sulke nonsens nie. Maar dan kry sy die opdrag om ’n afgietsel van Matt Delmayer, die Afrikaanssprekende Hollywood-hartebreker, se gesig te maak. Matt waarsku vir Fransi teen homself. Hy stel nie belang in ’n ernstige verhouding nie. Aanvanklik dink sy dit pas haar perfek, maar besef dan die “verdomde man het net alles kom konfoes” – hulle lywe vertel immers vir mekaar ander stories.

Ek het baie lekker aan hierdie heerlike humoristiese blitsblaaier gelees en gaan beslis op die uitkyk wees vir nog boeke uit Anita du Preez, ’n beeldhouer en lektrise in die visuele kunste, se pen.

Uittreksel: “Sy sal dit nie onder die pynlikste kruisverhoor ooit erken nie, maar Matt Delmayer, mega-ikoon-superster van Hollywood, se wêreldberoemde vingers op haar kaal vel is ’n sensasie wat geen vrou sommerso sal afmaak as niks nie.”

Die spel van liefde

Corné van Rooyen (Romanza – LAPA Uitgewers)

Izette raak op Markus verlief ten spyte van haar vroulike kollegas se waarskuwings dat hy vrouens net gebruik. Teen die tyd dat Markus se aanvanklike aangetrokkenheid teenoor haar dan ook begin afkoel, vind sy uit dat sy swanger is. Markus doen wel die eerbare ding en trou met Izette, want hy wil nie slegs ’n naweekpa vir sy kind wees nie. Kort ná hulle huwelik, besef Izette egter dat hulle ’n groot fout gemaak het om te trou en verlaat sy Markus onder valse voorwendsels. Sal dié oulike onderwyseres en sexy prokureur se paaie weer vorentoe kruis, of nie?

Dit was kleintyd Corné van Rooyen se droom om in gewilde skrywers soos Ena Murray en Schalkie van Wyk se voetspore te volg. Ek dink sy kry dit besonder goed reg! Ek het baie lekker aan Die spel van liefde gelees.

Uittreksel: “Hoe is ons veronderstel om aan ons huwelik te werk as jy my bly verstoot?”

Sterlig en soene

Thea Holland (Romanza – LAPA Uitgewers)

Wanneer Antjie wéér ’n keer haar en Tom se huweliksdatum wil skuif, stel Tom haar voor ’n ultimatum. Sy trou met hom of dis uit tussen hulle, dié keer finaal. Hy stel nie belang in ’n permanente verlowing nie. Hy soek ’n vrou, ’n huwelik, kinders, die hele kabaal. Maar Antjie se werk as fotograaf is vir haar baie belangrik. Boonop wil sy nie vir ewig en altyd op dieselfde plek vasgekeer wees nie. Gaan Antjie en Tom aanhou met hulle kat-en-muis speletjie of gaan hulle vir eens en vir altyd leer dat dit nie help om hulle teen Kupido se planne te verset nie.

Ek het dit geniet om te lees hoe Antjie en Tom leer hoe om ruimte vir mekaar te gun in hul verhouding en ook om prioriteite te stel. Thea Holland se skryfstyl is gemaklik; sy ken die ompaaie waarop die liefde paartjies soms neem en beeld dit oortuigend uit.

Uittreksel: “Dis hoekom hulle sê ’n pasgetroude het ’n strop om die nek. Dis omdat die blote gedagte aan trou ’n mens se keel laat toetrek.”

Blomme vir Melissa

Ciska Olivier (Romanza – LAPA Uitgewers)

Melissa verwag Nico se kind. Wanneer hy aanvanklik onkant gevang word deur die nuus en nie na verwagting daarop reageer nie, breek haar hart. Sy is egter vasbeslote om haar kind alleen groot te maak. Nico besluit einde ten laas tog om sy verantwoordelikheid teenoor Melissa en sy kind na te kom en dring daarop aan om deel van hulle lewe te wees. Meilissa kan nie help om te wonder wat hom van siening laat verander het nie. Hoekom het hy nooit gedink hy sal eendag ’n pa word nie – hy is tog ooglopend trots op sy pasgebore dogter! Maar is dit wys dat Melissa en klein Nicolene by Nico intrek? Net die tyd sal leer.

Ciska Olivier het haarself reeds as ’n uitstekende liefdesverhaalskrywer bewys met verhale soos onder meer die baie gewilde Krummelpap in Parys. Sy weet net hóé om haar lesers se aandag gevange te hou met haar eg menslike stories.

Uittreksel: “Het jy kom kyk of ek toe tog swanger is? Of ek wel aanspraak kan maak op jou toekomstige rykdom?”

Lank, donker en gevaarlik

Madelie Human (Romanza – LAPA Uitgewers)

Lizma, ’n ondersoekende joernalis, betrap ’n vreemde ruiter op haar pa se plaas en vererg haar bloediglik toe hy na haar volbloedmerrie as ’n ponie verwys. Sy kom gou agter dat die vreemdeling, ene Joe Schoeman, ’n wildveearts, hulle nuwe buurman is. Hy is boonop die leier van ’n taakmag wat renosterstropery in die omgewing ondersoek. Lizma hou niks van baasspelerige mans wat aan meerderwaardige oorheersing ly nie. Sy kan na haarself kyk, dankie, en net so goed soos enige man perdry en skiet! Joe het geen keuse as om haar toe te laat om te help om die renosterstropers vas te trek nie. Gaan hy ooit na Lizma kyk en nie ’n halsstarrige vroumens sien nie, en gaan sý ooit na hóm kyk en nie ’n chauvinis sien nie?

Die vonke spat vanuit die staanspoor tussen hierdie twee hardkoppige karakters en ek kon nie vinnig omblaai om te sien wat op die volgende bladsy vir my wag nie. Madelie Human het geen bekendstelling nodig nie. Sy is een van die gewildste en mees suksesvolle skrywers van lekkerlees Afrikaanse vrystories.

Uittreksel: “Meneer Slim-sterk-en-aantreklik se voet. Sy is ’n plaasmeisie wat als kan doen wat enige man kan en as hy anders dink, is dit sy probleem. Geen wonder sy meisie het hom gelos nie.”

Februarie is die maand van liefde. Bederf jouself of jou geliefde met hierdie splinternuwe vrystories wat die goedvoelhormone deur jou lyf laat bruis. Viva die liefde!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Madelie Human ·

Die romanse en die liefdesroman staan alte dikwels heel agter in die ry wanneer resensente boeke kies. Dit is dus verblydend om te sien dat ’n paar resensente deesdae hul hand daaraan waag. Baie dankie aan Louise wat spesiaal vir die dag van die liefde resensies oor die liefdesverhale van die maand aangepak het. Dis duidelik dat sy die genre verstaan en dat sy die boeke met genot gelees het. Nogmaals dankie, Louise!

Ina ·

Wie het die Valentyns hamper gewen?
Ons moes elkeen ons gunsteling afspraak beskryf het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.