Luister: Op die spoor van kuberkrakers in Turkye, Italië

Fanie Viljoen in die Hagia Sophia-museum in Istanboel, Turkye (Foto: Verskaf)

In Donker Web, die opvolg van Fanie Viljoen se topverkoper Onderwêreld, is Greg Owen en Eckardt Wilken op die spoor van ʼn geheimsinnige kuberkraker. Hulle soeke lei dié tweemanskap ook deur die strate van Turkye en Italië.

Viljoen het tydens ʼn Zoom-onderhoud met Maroela Media gesels oor die lande en bestemmings wat in Donker Web besoek word. Hy vertel meer oor sy ervaring van die Hagia Sophia-museum in Istanboel en afdraaipaaie in Florence wat hy te voet verken het.

“Omdat ek self daar was, in die stede gewandel en verskriklik baie foto’s geneem het, het ek besluit om dit op ʼn manier in ‘Donker Web’ te gebruik,” sê Viljoen.

Hy beskou homself allermins as ʼn professionele fotograaf. Nog minder het hy gedink dat die foto’s wat hy ʼn paar jaar gelede tydens ʼn oorsese vakansie geneem het later ʼn waardevolle bron van inligting sou wees.

“Ek was eintlik nog net twee keer oorsee. Die eerste keer was in 2011 toe ek Italië besoek het en in 2014 was ek in Dubai en Griekeland,” vertel Viljoen.

Byna nege jaar later kon Viljoen van die foto’s gebruik om sy geheue te verfris. Hy verklap dat hy ook Google Maps gebruik het om virtueel deur die strate te stap.

“Dit is fantasties om al die drade van jou storie op dié manier saam te flans. Ek kan as skrywer hier in die hartjie van Suid-Afrika sit en Google Maps se Street View oproep, rondloop waar ek reken my karakters gaan wees en seker maak dat die beskrywings korrek is.”

Een van die toeristebestemmings wat in Donker Web besoek word, is die Hagia Sophia, ʼn eertydse Oosters-Ortodokse basilika, later ʼn moskee en nou ʼn museum in Istanboel, Turkye.

Daarom sit ek my hand op sy skouer, druk dit liggies voordat ek aanstap na die trappe wat terug na die grondvloer lei, intens bewus daarvan dat die Hagia Sophia-museum ʼn mens dwing om na binne te kyk. Jouself te sien nes jy is (bl. 205).

Viljoen beskou dit as ʼn ongelooflike plek en onthou dat dié museum sy asem weggeslaan het, ondanks die opknappingswerk waarmee hulle tydens sy besoek besig was.

Tydens sy besoek aan Italië het Viljoen een aand deur die strate van Florence gewandel.

Dis ʼn onderwêreldse gevoel om ʼn vreemde stad so in die donker te beleef. Asof jy ʼn ent bo die sypaadjie loop, elke sintuig anders ingespan as by die huis (bl. 252).

In teenstelling met die onheil wat sy karakters in Donker Web ervaar, het Viljoen veilig gevoel.

“ʼn Mens voel ongelooflik veilig daar. Dit is sprokiesagtig mooi in die aand en daar is natuurlik minder toeriste,” vertel hy.

“Dit is lekker om rustig deur ʼn stad te stap. My raad aan lesers wat oorsee gaan en wil reis, is om ten minste drie dae in ʼn stad te vertoef sodat jy soveel moontlik van die stad te voet kan verken. En moenie probeer om als af te neem nie – jy moet soms net in die oomblik wees en die ervaring waardeer.”

Onderwêreld is ʼn spannende jeugspeurverhaal wat in die onderwêreld van kuberkrakers afspeel. Dit is in 2008 met die Sanlam-prys vir jeuglektuur bekroon en is sedert 2017 ook ʼn voorgeskrewe boek vir matrikulante wat Afrikaans Huistaal neem.

Die opvolg Donker Web speel ongeveer anderhalfjaar ná Onderwêreld af. Greg Owen, die ou wat sy eie pa vir die wolwe gegooi het, is ʼn eerstejaar op Stellenbosch en ingeskryf vir ʼn graad in sportwetenskap. Hy is dalk klaar met kuberkrakery, maar sal hy ooit van die skaduwee van Lawson Kollege en Project Nursery Rhyme kan wegkom? Greg kom vinnig agter as jy wraak wil neem, moet jy twee grafte grawe.

  • Luister boaan die artikel na ʼn onderhoud met Fanie Viljoen. Hy het met Maroela Media gesels oor sy besoek aan die Hagia Sophia-museum in Turkye, die afdraaipaadjies in Florence wat hy te voet verken het en hoe dié ervarings in Donker Web gebruik is.
  • Lees hoofstuk een van Donker Web hier op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.