Op twee bromponies die vreemde in

Hier gaat ons! Reise en rampe deur Gerard Scholtz word uitgegee deur Hemel en see boeke

Gesoute wêreldreisigers én leunstoelreisigers sal dié uitsonderlike reisboek vanaf die heel eerste bladsy verslind.

Die lekkerte van hierdie blitsblaaier is dat die egpaar, Gerard en Anuta Scholtz, se reiservarings – eers per trapfiets en later per bromponie (ook per trein, motor, boot en te voet) – nie opgehemelde vertellings is wat jou aan promosieartikels in reisbrosjures laat dink nie, maar wel die realiteit van reise (en rampe!) ver van jou eie huis en land en mense weerspieël. “Van St. Petersburg tot Moskou; die lengte en breedte van Frankryk, oor die Alpe; oor die groot riviere van Europa, Ierland en Wallis reis hulle … elke jaar tot 10 000 kilometer …”

Andries Harlekyn in Teen die Helling (Boerneef) word tereg heel voor in die boek aangehaal: “Ek wou gaan kyk hoe dit agter die bult lyk, en dan nog ’n bult, en dan nog ’n rant en ’n hoogte. Ammelee verder. Ammelee sien hoe dit doer ver lyk.” Dit mag dalk nie almal van ons beskore wees om huis en haart agter te laat en die wye wêreld te gaan verken nie. Tog koester baie van ons heimlik die begeerte om te reis en ver en vreemde lande te besoek.

Die Scholtze het werk gemaak van hulle reisdrome. Hulle het geluister na daardie stemmetjie wat hulle knaend geroep het om die onbekende aan te durf.

Ek het my verkyk aan die bladsye vol mooi foto’s in die middel van Hier gaat ons! Reise en rampe. My gunstelingfoto is die een waar Gerhard knus toegewikkel in ’n bont kombers bo-op Sinaiberg sit en wag op die sonsopkoms. As ek my oë toemaak, verbeel ek my dat ek ook daar sit met my rug teen die growwe kransmuur gestut, opgewonde oor die tafereel wat enige oomblik voor my oë gaan afspeel wanneer die son sy kop uitsteek en die strak gebergtes maak bloos. Ek hou ook van die foto waar Anuta in die Spaanse Pireneë rustig voor hulle tentjie sit en ’n glas wyn en ’n broodrolletjie geniet. Op ’n ander foto knip Gerhard sy baard in die Boheemse woude. Hulle drink ook met breë glimlagge koffie in die Café Savoy in Praag. In Berlyn poseer hulle met borde vol smullekker currywurst, ’n bekende straatkos. In Wallis leun Gerhard moedeloos en na aan breekpunt teen ’n geroeste plaashek aan.

Jou skouers knak saam met dié Scholtze s’n onder die gewig van die somber atmosfeer by Auschwitz waar hulle deur die sjirurgiese afdeling stap in die hospitaalgebou waar dr Josef Mengele, ook bekend as die Doodsengel, sy verskriklike toetse, wrede operasies en eksperimente uitgevoer het. Jou maag draai pynlik saam met Anuta s’n wanneer sy in Hongarye met ingewandsontsteking gediagnoseer word wat sy moontlik al in Turkye opgedoen het toe sy daar van die waatlemoen, wat sy later eers hoor met suiwer riool bemes word, geëet het. Jy beleef saam met hulle die frustrasie van koud kry, honger ly, siek word, verdwaal en sonder geld sit in die verre vreemde. Die fietse en skoeters breek, die Borawind waai hulle tent weg, hulle trotseer gladde, styl en modderige paaie, duiseligwekkende afgronde en erge weerstoestande. Jy maak die teleurstellings mee wanneer besienswaardighede net té toeristies en aangeplak is of wanneer die sogenaamde bekoring van ’n plek hulle ontwyk. Sommige dorpies is sprokiesmooi en onaangeraak deur tyd, ander modern. En dan is daar dié wat aan vullishope herinner. Jy sug saam met Anuta ná ’n uitmergelende dag in Roemenië: “Ons is miskien al oud en nie meer so fiks nie, maar wraggies, stamina, dié het ons.”

Dan lees jy weer ’n liriese paragraaf raak wat jou laat wens dat dit jou ook beskore sal wees om bv. eendag Tsjeggië se geroemde skoonheid te beleef: “Die Boheemse Paradys is ’n plek van ligte én donker woude, voetslaanpaaie en fietsroetes, oop vlaktes met wildsbokke en roofvoëls, smal, kronkelende paaie, rotsformasies, klein boerenedersettings met houterige huisies, veraf kerktorings en herehuise, kastele op bergknoetse en afgeskilferde dorpies met dorpspleintjies. Een van die min plekke op aarde waar die mens se invloed die natuur aanvul.” As liefhebber van literatuur haal Gerhard ook graag uit gedigte en ander geskrewe werke aan om die besondere gebeure of atmosfeer van ’n plek uit te beeld.

Jy slaan saam met die Scholtze tent op tussen die beesmis by ’n primitiewe plaaskamp buite Dinas Mawddwy in Wallis. Jy ruik en proe die ferm, soet tamaties wat oral geil groei in Kroasië. Woon ’n sangdiens by in Novi Sad in Serwië – “’n Priester kom in met wierook en begin die diens met dreunsang. Jong manne en ander voorsangers antwoord met hemelse sang. Die bekende dreunbasse ondersteun die tenore en baritonne. Dis is soos ’n wegraping.” Jou kop duisel naderhand van al die ervarings wat Gerard so meesterlik beskryf. Dis die een bergpas op en die ander een af. Woude, vlaktes, berge. Hoe gelukkig is Gerard en Anuta nie om terug te kyk op jare se reistemas vol verkennings- en ontdekkingstogte saam met hulle “kavalkade van vrolike engele – soms vooruit, soms hand aan hand, en nou en dan beskermend oor en agter ons aan.” Hoe gelukkig die leser om daarin te deel!

Hier gaat ons! Reise en rampe word in ’n sagteband formaat uitgegee en beslaan 303 bladsye propvol lekkerlees reisverhale in ’n gerieflike skrifgrootte. Behalwe die pragtige foto’s is daar ook verskeie kaarte waarop Gerard details oor hulle reise geskryf het. Hy gee ook ekstra inligting oor plekke en gebeure in die talle voetnotas. Gerard trakteer die leser op ’n metafisiese avontuur wat jou tegelykertyd hunkering en dankbaarheid laat ervaar. Jy is dankbaar om die talle reise wat oor etlike jare strek deur sý oë mee te maak, maar jy hunker ook daarna om dit sélf te ervaar en alles deur jou eie oë te sien. Sy interessante vertellings oor die geskiedenis, letterkunde, kuns en musiek maak van hierdie boek (in Etienne Britz se woorde) “’n Omvangryke en diepgaande reisboek wat nie maklik ’n gelyke in Afrikaans het nie.”

Meer oor die skrywer: Gerard Scholtz, voorheen onderwyser, dramadosent en regisseur, is DEKAT se boekeredakteur. Hy is ook vervaardiger en aanbieder van insetsels vir DEKATv.

Lees gerus Gerard se reisblog hier.

Skaf Hier gaat ons! Reise en rampe hier aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

anton ·

Ek gaan nou die boek koop. Ons het self per motor ongeveer 130000 km deur Europa getoer.Self bestuur en nooit enige ernstige probleme ervaar nie. Was op plekke wat die gewone toeris nie eers van weet nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.