Opduik-en-weg-boekefees vier onafhanklike skrywers

opduik-en-weg-boekefees-2018-07

Voor is die indie-skrywer Cora Groenewald en agter is Sabine Lehmacher, koördineerder van dié boekfees saam met Christina van Straaten, nog ‘n onafhanklike skrywer en Susan de Klerk van die Alkantrant-biblioteek in Lynnwood, Pretoria. Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

As ʼn goeie boek en heerlike koppie boeretroos net die ding vir jou is en jy nog altyd wou sien wat die boekewêreld van onafhanklike of indie-skrywers (soos hulle hulself noem) jou kan bied, moet jy beslis ʼn draai maak by Alkantrant-biblioteek in Lynnwood, Pretoria op Saterdag 14 Julie.

ʼn Spesiale Opduik-en-weg-boekefees (ook bekend as pop-up) vir meer as 50 skrywers met 100 boeke sal op dié dag by die biblioteek ten toon gestel wees.

Kom hoor die storie van hoop ná verkragting uit die pen van Mmathabo Mooa. Nog ʼn skrywer, Yusuf Chubb Garda praat oor alles van krieket. Alta Rossouw sal oor terapiehonde gesels en Conny Oberrauter, wat as die “Cosmetic Chef” bekend staan, sal ook ‘n demonstrasie lewer.

Daar sal ook op dié dag ʼn program wees vir die jonger lesers waar skrywers soos Christina van Straaten, Cora Groenewald en Tjaart en Daniel Lehmacher hul boeke sal voorlees vir die jongspan.

“Die grootste uitdaging vir onafhanklike skrywers is nie die skryf van die boek nie, maar eerder die bemarking en verspreiding daarvan. My seun en kleinseun is self indie-skrywers en illustreerders en toe ons hul boek, The Moonling, in November 2017 uitgegee het, het ek besef watter uitdaging is dit. Hierdie skrywers moet by elke mark en geleentheid wees om hul boek self te bemark,” sê Sabine Lehmacher, koördineerder van dié boekfees.

Lehmacher sê dit is hoekom hulle besluit het om ʼn platform in Pretoria te skep waar indie-skrywers hul boeke kan uitstal en met die publiek kan gesels oor hul boeke en sommer ook die onafhanklike uitgeeproses.

“So kan die publiek nou sommer vir hulself ook sien watter interessante boeke daar buite is,” het sy bygevoeg.

Susan de Klerk, bibliotekaresse by Alkantrant-biblioteek, sê hulle verwelkom die boekfees: “Dit is altyd ʼn goeie ding om meer mense in ʼn biblioteek te kry.

“Die gemeenskap ondersteun ons biblioteek steeds geweldig goed. Alhoewel ons dalk nou nie meer so baie kinders sien wat take in ons biblioteek kom doen vandat internettoegang meer vrylik beskikbaar is nie, ondervind ek steeds dat mense daarvan hou om ʼn boek in die hand vas te hou en te lees.

“Die gemeenskap dra ook gereeld vir ons boeke aan om ons rakke te vul en ons verwelkom dit, want ons begroting vir die aankope van nuwe boeke is maar bitter klein. As hulle aanhou om dit te doen, sal hierdie biblioteek nog vir lank van krag tot krag gaan,” sê De Klerk.

Lehmacher sê die Opduik-en-weg-boekefees is ʼn wonderlike geleentheid om onafhanklike skrywers, uitgewerye en verspreiding te vier.

“Daar sal ook, behalwe hope boeke, heerlike koffie en kos beskikbaar wees en, natuurlik, ʼn wonderlike geleentheid om ander boekwurms te ontmoet.”

  • Onafhanklike skrywers, veral Afrikaanse skrywers, wat nog by die boekefees betrokke wil raak, kan JustOneEarth besoek vir meer inligting. Skrywers kan nog tot 30 Junie hul boeke vir die fees inskryf. Toegang tot die fees is gratis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Gerrie Janse van Nieuwenhuizen ·

Dis hoogtyd dat so iets in elke dorp gedoen word. Mens hoor elke dag van mense se stryd om boeke uit te bring.
Asseblief Maroela hou ons op hoogte van die fees en bring dit orals heen want ons kinders en self ons kort so n geleentheid om persoonlik met skrywers te kan gesels en die agter die skerms doen en late van skrywers te leer ken.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.