Ou Bloed

deur Peet Venter

ʼn Briljante kubersnuffelaar gebruik sy vernuf en welvaart om sy eie weergawe van geregtigheid te laat seëvier wanneer hy op ʼn aantal pedofiele se doen en late afkom. Die probleem is, moord uit vergelding bly moord en Kaptein Thys Krige is ʼn polisieman. Dit is onvermydelik dat Krige sal moet bots met hierdie briljante, hoogs gekultiveerde moordenaar.

Peet Venter skets die moordenaar met soveel finesse dat die leser amper van hom wil hou, maar dit is uiteindelik Thys Krige wat, ten spyte van sy swakhede, tog veg vir ware geregtigheid.

Wanneer twee mense op ʼn rituele wyse vermoor word, is die skaakspel van skuif en teenskuif aan die gang – die probleem is, hier is nie pionne ter sprake nie, maar mense se lewe wat verloor word. Krige staar hom nie blind teen die onregte wat gepaardgaan met lui en onbeholpe mense in die staat nie. Hy is ewe bewus daarvan dat mense wat gruwelike dade pleeg, vry rond loop weens die “menseregteprofete” se aandrang op die grondwetlike regte van die misdadiger en die traak-my-nie-agtige houding van sommige lede van die vervolgingsgesag.

Ou bloed is ʼn opvolg op Dieper as die bloed wat in 2012 verskyn het. Albei is fyn tekste wat die leser laat naels kou tot op die laaste bladsy.

Chanette Paul sê die volgende oor hierdie roman: “Peet het ʼn lekker sterk, manlike en op-die-man-af-skryfstyl. Sy hoofkarakters en hulle storie boei die leser enduit.”

Oor die outeur:
Venter se jongste roman vestig hom as ʼn Afrikaanse speurverhaalskrywer om mee rekening te hou. Sy gestroopte styl is tekenend van sy hoofkarakter: saaklik en onverbiddelik.

Peet se eerste roman, Die Alleenlopers, is in 1979 deur Nasionale Pers gepubliseer. Daarna volg ʼn verdere nege weke, meestal speurrillers, asook ʼn aantal kortverhale in verskeie bundels, almal gepubliseer deur JP van der Walt/LAPA Uitgewers.

ʼn Verskeidenheid kort- en vervolgverhale verskyn ook in die destydse Keur.

Venter is verbonde aan ʼn raadgewende ingenieursfirma in Pretoria en in sy vrye tyd is hy ook ʼn skilder en beeldhouer. Hy woon op sy plaas in die Dinokeng-reservaat. Die fyn manier waarop hy waarneem, blyk duidelik uit sy skryfwerk.

Uitgewer: LAPA uitgewers
Prys: R195-00*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.