Oudio-boekwinkel stel gratis boeke beskikbaar vir kinders

Argieffoto. (Foto: Alireza Attari/Unsplash)

Goeie nuus vir jong boekwurms (en hul ouers): Amazon, eienaar van die oudio-boekwinkel Audible, stel oudio-kinderboeke gratis beskikbaar vir woelwaters wat noodgedwonge by die huis moet sit ná voorkomingsmaatreëls ingestel is om die verspreiding van die koronavirus (wat tot die siekte Covid-19 lei) te bekamp.

Audible verkoop digitale oudioboeke, radio- en televisieprogramme, asook oudio-weergawes van tydskrifte en koerante.

Kinders kan nou deur dié aanlyn diens gratis na kinderstories in ses tale, soos Engels, Spaans, Frans, Duits, Japannees en Italiaans, luister.

Die boeke is ook in ses kategorieë onderskei: “Littlest Listeners”, “Elementary”, “Tween”, “Teen”, “Literary Classics” en “Folk and Fairy Tales for All”. Klassieke verhale soos Heidi, Jane Eyre, Roots en Alice’s Adventures in Wonderland is beskikbaar.

Die Audible-app kan ook op enige toestel afgelaai word. Audible-lidmaatskap sal jou sowat $14,95 (ongeveer R260) per maand uit die sak jaag.

Besoek Stories.Audible.com.

Bron: CNN

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae