Oulike Afrikaanse boek- en naamplakkers én plakkate vir jou klas

Boekplakkers (Foto: Verskaf)

Die nuwe skooljaar het pas afgeskop en nou lê die taak voor om boeke oor te trek en klaskamers op te kikker. Danksy Afrikaans.com se jongste plakker-inisiatief hoef dit nié ʼn onbegonne taak te wees nie.

“Ons het opnuut besef dat daar ʼn behoefte by onderwysers is aan gratis, aflaaibare gehaltemateriaal in Afrikaans,” vertel Daniëlle Laufs, sosialemediabestuurder by Uppe Marketing, wat die projek koördineer. “Die reaksie op ons Facebook-blad se bemarking van die hulpbronne was oorweldigend.

“In die digitale era is dit belangrik om materiaal sinvol te verpak en elektronies beskikbaar te stel,” voeg Laufs by.

As jy dus op soek is na oulike en boonop Afrikaanse materiaal om jou taak te vergemaklik, is Afrikaans.com se nuwe plakker-inisiatief die ideale hulpbron.

“Ons bakgat aflaaibare reeks boek- en naamplakkers in Afrikaans is ’n lekker nuwe toevoeging tot ons webwerf, omdat ons weet dat dit nie altyd ewe maklik is om dit elders in Afrikaans op te spoor nie,” vertel Ingrid Erlank, Afrikaans.com se inhoudsbestuurder.

“Afrikaans.com se reeks veelkleurige, interessante en leersame plakkate sal enige Afrikaanse klas opkikker en leerders inspireer om te lees.”

Die eindelike doel is dus om leerders, ouers en onderwysers met toepaslike inligting en hulpbronne toe te rus wat praktiese leerhulpondersteuning bied.

Afrikaans.com poog om mettertyd die Leerhulpafdeling op sy webwerf toenemend uit te brei met plakkate, inligting oor moedertaalonderrig, en ander nuttige inhoud.

“Ons sal dié jaar gereeld hieraan aandag gee en voorts ons videomateriaalaanbod verder aanpas by die werklike behoeftes van leerders, onderwysers en ouers,” sê Erlank. Sy verduidelik dat bestaande inligting voortdurend herverpak word, asook nuwe inhoud geskep en op toeganklike wyse aan die publiek beskikbaar gestel word.

Om dié boek- en naamplakkers af te laai besoek gerus Afrikaans.com se webwerf.

Hou ook Afrikaans.com se sosialemediaplatforms dop of besoek die leer- en onderrigblad op sy webwerf om op die hoogte te bly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.